Covid-19-samevatting: ‘Dis-Chem perk klante in’

Argieffoto

Die apteekgroep Dis-Chem het aangekondig dat klante voortaan tot ʼn bepaalde aantal produkte beperk sal word in ʼn poging om paniekaankope in Suid-Afrika te midde van die nuwe koronavirus-pandemie oftewel Covid-19 te stuit. Klante sal nou slegs ʼn maksimum van ses eenhede van ʼn produk mag koop.

“Ons het alles in ons vermoë gedoen om te verseker dat ons pakhuise voorraad het en die rakke daagliks so vinnig moontlik aangevul word. Hoewel daar talle beroepe op klante gedoen is om slegs te koop wat hulle nodig het weens kommer oor voorraad, bly die verbruikersvraag steeds groot. Beperkings sal verseker dat klante gereeld die nodige artikels kan bekom,” het Ivan Saltzman, uitvoerende hoof van Dis-Chem, gesê.

Volgens Saltzman ervaar die apteekgroep steeds ʼn groot vraag na sekere huishoudelike skoonmaakprodukte en persoonlike higiëneprodukte soos seep, handreinigingsmiddel en algemene welsynsprodukte. “Ons werk nou saam met verskaffers om die beskikbaarheid van bykomende voorraad te verseker ten einde aan die verhoogde vraag te voorsien.”

Mercedes-Benz het intussen aangekondig dat sy aanleg in Oos-Londen in die Oos-Kaap produksie stelselmatig gaan verminder waarna alle produksie vanaf 9 April vir sowat vyf weke gestaak sal word te midde van die Covid-19-uitbreking.

Maroela Media het vroeër berig pres. Cyril Ramaphosa het Maandagaand ʼn algehele landwye afsondering (lockdown) as noodmaatreël afgekondig om die verspreiding van die virus te bekamp. Die getal bevestigde Covid-19-gevalle in Suid-Afrika beloop in dié stadium 402. Geen sterftes is nog in die land aangemeld nie.

‘n Trein word Maandag in Wuhan, China, ontsmet. (Foto: Xiao Yijiu. AP)

Die res van Afrika

Drie ander lande op die Afrika-vasteland het wel vandeesweek hul eerste sterftes weens Covid-19 bevestig.

Die Demokratiese Republiek van die Kongo het Maandag een sterfgeval en vyf nuwe bevestigde gevalle van die virus aangemeld. Altesaam 23 pasiënte in dié land het in die afgelope twee weke positief getoets vir Covid-19.

Nigerië het ook Maandag sy eerste sterfgeval aangekondig – ʼn 67-jarige man wat onlangs vanuit Brittanje teruggekeer het nadat hy mediese behandeling ontvang het. Die man het onderliggende mediese toestande gehad waaronder diabetes. Die man het ook chemoterapie ondergaan.

Nog vyf bevestigde gevalle is in Nigerië aangemeld. Dit bring dié getal op 36 te staan.

In Zimbabwe het ʼn 30-jarige joernalis weens die virus omgekom. Zororo Makamba was die tweede pasiënt in dié land om positief vir Covid-19 te toets nadat hy onlangs na Amerika gereis het. Zimbabwe het nou sy grense vir buitelanders gesluit. Alle sosiale byeenkomste is ook opgeskort.

Operateurs ontsmet mekaar nadat hulle ‘n ambulans in die noorde van Italië ontsmet het. (Foto: Fabio Ferrari/LaPresse via AP)

WGO

Die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) waarsku dat die Covid-19-pandemie versnel met meer as 300 000 gevalle oor die hele wêreld heen.

Dr. Tedros Adhanom Ghebreyesus, direkteur-generaal van die WGO, het aangedui dat dit sewe dae vanaf die eerste geval van Covid-19 geneem het om 100 000 gevalle te bereik, 11 dae vir die tweede 100 000 en net vier dae vir die derde 100 000.

Volgens Tedros behoort mense by die huis te bly, ʼn goeie sosiale afstand van mekaar te behou en elke moontlike geval so vinnig moontlik getoets te word.

Europa

Italië het teen Maandag altesaam 6 077 sterftes en byna 64 000 bevestigde gevalle aangemeld. Die dodetal het oornag met 601 gestyg.

Agt mense, van wie 28 Covid-19-pasiënte, is tot dusver vanaf die Lombardye-streek na ander hospitale oor die land verskuif om verligting te bring aan dié streek wat die meeste geraak word. Duitsland het ook reeds twee pasiënte ingeneem en is gereed om altesaam agt te huisves.

‘n Covid-19-pasiënt land by ‘n lughawe in Duitsland. (Foto: Zentralbild/dpa via AP)

Boris Johnson, die Britse eerste minister, het op sy beurt streng maatreëls vir die volgende drie weke in Brittanje afgekondig. Britte mag voortaan slegs die huis verlaat om een keer per dag oefening te kry, werk toe of winkel toe te gaan om die nodigste te koop. Sosiale byeenkomste van meer as twee mense wat nié saambly nie word nou ook verbied.

Altesaam 335 mense in Brittanje het reeds weens Covid-19 omgekom.

Oostenryk se getal bevestigde gevalle het Maandag tot 4 426 toegeneem. Altesaam 21 sterftes is in dié land aangemeld. Altesaam 145 pasiënte is in ʼn hospitaal opgeneem van wie 15 intensiewe sorg benodig.

Bykomende bronne: ANA, CNN, BBC

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Johan Venter ·

‘Lockdown’ – Afrikaans is Staat van inperking, Suid-Afrika is gesluit of ingeperk.

Martie ·

Dit is nie “lock down” as mense nog kan uitgaan nie, mense wat winkels toe gaan, dokter toe gaan en gaan geld haal nie, die virus gaan steeds so versprei….

Selfs 6 van ‘n item is nogal extreme.
Goed soos bv handsaniteermiddels gaan nooit in voorraad wees as mense selfs 6 daarvan koop nie.

lollapot ·

Wat was ALdie jare verkeerd met ‘n koekie seep en water?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.