Covid-19-samevatting: Duisende Duitsers uit SA gerepatrieer

Argieffoto ter illustrasie (Foto: Unsplash)

Die Duitse regering het vandeesmaand meer as 5 600 van sy burgers en ander burgers van lande in die Europese Unie uit Suid-Afrika na hul tuislande gerepatrieer.

Die laaste Duitse repatriasievlug het Woensdag uit Kaapstad vertrek. Die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) het sedert 3 April gestrande Duitsers in Suid-Afrika huis toe gevlieg. Dié vlugte het met die terugkeer gestrande Suid-Afrikaners in Duitsland na Suid-Afrika teruggebring.

“Ons is baie bly dat ons soveel van ons landgenote kon huis toe bring. Dit was ʼn voortreflike spanpoging. Ons innige dank aan die wonderlike kollegas van die Suid-Afrikaanse Lugdiens wat ons beïndruk het met hul professionaliteit, buigsaamheid en vriendelikheid deur die loop van hierdie proses,” het Martin Schäfer, die Duitse ambassadeur in Suid-Afrika, gesê.

Sowat 240 000 toeriste van regoor die wêreld is die afgelope paar maande na Duitsland gerepatrieer.

Nigerië

Osagie Ehanire van Nigerië (Foto: ANA)

In Nigerië het meer as 40 gesondheidswerkers positief getoets vir die nuwe koronavirus, het Osagie Ehanire, dié land se minister van gesondheid, gesê.

Volgens Ehanire is daar benewens dié 40 nóg gesondheidswerkers die afgelope twee weke  in kwarantyn geplaas is nadat hulle aan die virus blootgestel is.

Die Nigeriese regering het vroeër private hospitale verbied om Covid-19-gevalle te behandel aangesien baie van die gesondheidswerkers nie opgelei is om dié pasiënte te hanteer nie.

Luidens berigte is die personeel van ten minste 17 private hospitale in Lagos reeds deur pasiënte aan die virus blootgestel waarna dié hospitale verbied is om verder pasiënte op te neem sodat die hospitale ontsmet kan word.

Hospitale wat bereid is om pasiënte met die nuwe koronavirus te behandel, moet nou registreer sodat personeel opgelei kan word.

Altesaam 981 bevestigde gevalle van Covid-19 is tans in dié land in Wes-Afrika aangemeld. Nigerië se dodetal staan nou op 31.

Indië

Die Indiese owerhede neem Donderdag beslag op ‘n goenteverkoper se produkte in Gauhati, Indië. (Foto: Anupam Nath, AP)

Meer as 23 000 bevestigde gevalle van Covid-19 is nou in Indië aangemeld.

Die land se ministerie van gesondheid het Vrydagoggend 1 377 nuwe gevalle en 32 nuwe sterftes aangemeld. Altesaam 23 077 mense in Indië het nou reeds die nuwe koronavirus opgedoen. Die land se dodetal weens die virus staan nou op 718.

’n Algehele landwye afsondering is ’n maand gelede in Indië ingestel. Die afsonderingstydperk is intussen tot 3 Mei verleng.

Altesaam 14 gesondheidswerkers, onder wie dokters en verpleegsters, by ’n hospitaal in Jahangirpuri in die noorde van Nieu-Delhi het onlangs positief getoets vir die virus. Die hospitaal is gesluit om ontsmet te word.

Altesaam 31 lede van ’n uitgebreide familie in Jahangirpuri het vroeër vandeesweek ook positief getoets vir die nuwe koronavirus.

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Kliek hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Jaco ·

ek wens ek kon saamgaan… om nooit weer terug te kom SA toe nie…

Cecil ·

Jaco moenie wens nie. Jy het geld, gaan.
Ek dink nie die gras is groener aan die ander kant nie.

Realis Thailand ·

Dit is groener as jy positief is en die nuwe land se wel en wee kan aanvaar.Ek woon al ses jaar in Thailand en is baie gelukkig hier
Dis nie net maanskyn en rose nie.
Jy het ook nie baie geld nodig om in n ander land te gaan woon nie
Hier soek hulle tans tien duisend onderwysers
Ek hou nie skool nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.