Covid-19-samevatting: Eerste Duitsers vanaand gerepatrieer

(Foto: Suid-Afrikaanse Lugdiens)

Die Duitse regering sal Vrydagaand die eerste groep Duitse toeriste uit Suid-Afrika na Duitsland repatrieer. Meer as 5 000 Duitse burgers is tans in Suid-Afrika gestrand weens die algehele landwye afsondering.

Repatriasievlugte na Duitsland sal oor die volgende paar weke van Johannesburg en Kaapstad vertrek. Die Duitse ambassade in Pretoria het bevestig dat die Suid-Afrikaanse Lugredery (SAL) die repatriasievlugte na Duitsland sal behartig.

Martin Schäfer, Duitse ambassadeur in Suid-Afrika, het in ’n verklaring gesê hoewel die meerderheid passasiers Duitse burgers is, sal burgers van ander lande in die Europese Unie ook op die vlugte geakkommodeer word.

Slegs passasiers wat nie simptome van Covid-19 toon nie sal op vlugte toegelaat word. Passasiers sal dus voor die vlugte getoets word vir Covid-19.

Gestrande buitelanders in Seychelle

Byna 2 000 toeriste het verkies om in Seychelle agter te bly toe die laaste repatriasievlug vandeesweek uit dié land vertrek het om gestrande buitelanders na hul tuislande te vervoer.

Talle vakansiegangers, meestal van Europa, is op dié eiland gestrand gelaat weens reisbeperkings en algehele landwye afsonderings om die verspreiding van Covid-19 hok te slaan.

Alain Volcere, hoofsekretaris vir immigrasie in Seychelle, het gesê daar was teen Woensdag altesaam 1 999 buitelanders op dié eiland. Die laaste repatriasievlug na Europa het Dinsdag vertrek.

Volgens Volcere sal plaaslike owerhede diegene akkommodeer wat besluit het om agter te bly, aangesien die pandemie toeriste se reismiddele beïnvloed. “Ons besef ​​dat daar geen vlugte meer is nie. Daarom het ons besluit om hul verblyf in die land te vergemaklik. Hulle het die situasie geëvalueer voordat hulle besluit het om aan te bly. Ons verstaan dit gedurende hierdie moeilike tyd,” het Volcere gesê.

Foto: EgyptAir

Egiptiese lugrederye vra vir ingryping

Egipte se lugrederye het ’n beroep op die land se regering gedoen om hulle by te staan te midde van die groeiende ekonomiese krisis weens Covid-19.

Die lugdienste het ʼn dringende versoek aan Mohammed Manar Enabah, die minister van burgerlugvaart, in Egipte gerig om in te gryp aangesien vlugte na en van Egipte se internasionale en binnelandse lughawens opgeskort is. Alle vlugte is van 19 Maart tot 14 April in Egipte opgeskort.

Die Internasionale Lugvervoervereniging (IATA) voorspel inkomsteverliese van $ 1,6 miljard vir die Egiptiese lugvaartbedryf. Volgens IATA kan die Covid-19-wêreldkrisis byna 205 560 werkgeleenthede in Egipte en ʼn bydrae van ongeveer $ 2,4 miljard tot dié land se ekonomie in die gedrang bring.

Egipte laat in dié stadium buitelanders toe om terug te keer huis toe, ten spyte van die algehele landwye afsondering wat ook in dié land ingestel is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.