Covid-19-samevatting: EU-leiers isoleer ná Macron positief toets

Emmanuel Macron (Foto: Ludovic MARIN / POOL / AFP)

Verskeie Europese leiers en Franse top-amptenare het Donderdag inderhaas in isolasie gegaan nadat die Franse president Emmanuel Macron positief getoets het vir Covid-19.

Macron (42) het homself laat toets nadat hy onlangs simptome begin toon het. Die president sal ingevolge sy land se regulasies vir die volgende sewe dae in self isolasie wees terwyl hy sy pligte tuis voortsit.

Macron het verlede week ʼn EU-beraad in Brussel in België en Maandag ʼn konferensie in Parys aangebied deur die Organisasie vir Ekonomiese Samewerking en Ontwikkeling (OESO) bygewoon.

Charles Michel, die president van die Europese Raad, en die Spaanse premier Pedro Sanchez was albei by die konferensie in Parys en intussen in selfisolasie. Die Portugese premier, Antonio Costa, is intussen ook in isolasie en het al sy onmiddellike verpligtinge gekanselleer nadat hy en Macron Woensdag saam middagete geëet het.

Macron is een van verskeie wêreldleiers waaronder die Britse premier Boris Johnson en die Amerikaanse president Donald Trump wat vanjaar die koronavirus opgedoen het.

Swede

Koning Carl XVI Gustaf van Swede (Foto: Jonathan NACKSTRAND / AFP)

Koning Carl XVI Gustaf van Swede het Donderdag gesê dié land het daarin misluk om lewens te red midde die Covid-19-pandemie.

Die Skandinawiese land is eens geprys vir sy relatief ontspanne benadering tot die koronavirus maar sukkel nou om ʼn tweede golf infeksies in bedwang te bring. Die land se nuwe daaglike gevalle is sedert middel Oktober aan die toeneem.

“Ons het ʼn groot aantal wat gesterf het en dit is verskriklik,” het die koning gesê.

Namibië

Hage Geingob (Foto: Johannes EISELE / AFP)

Hage Geingob, president van Namibië, het intussen inwoners van Namibië gemaan om die land se strenger beperkings gedurende die feesgety te gehoorsaam om sodoende ’n streng inperking van sewe dae lank en ’n ramptoestand te voorkom.

Geingob sê die Namibiese regering het dit oorweeg om ’n streng inperking in Windhoek of selfs die hele land in te stel hoewel hulle eindelik daarteen besluit het weens die verwoestende impak wat op die land se ekonomie sou hê.

Namibië beleef ook tans sy tweede golf van infeksies. Meer as 2 000 nuwe gevalle is die afgelope twee weke in dié land aangemeld.

Die dra van ’n masker in die publiek is nou verpligtend. Sosiale byeenkomste word ook nou strenger beperk.

Bykomende bron: The Namibian

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Fritz ·

Vat dit met n knippie sout wanneer n politikus, sport “ster”, rolprent “ster” of enige ander “bekende” positief toets. Sommige mense sal ver gaan om aandag te trek. Dalk het hy dit, dalk nie.

Tanniepetoors ·

Maar geen ander land het ‘n minister wat op strande rondloop en mense dreig nie.

Karina ·

Wanneer ‘n vriendin sterf, en dan ‘n familielid, besef jy weereens die ernstigheid van die pandemie. En dan loop nogsteeds mense rond wat glo dit is nonsens, daar is nie ‘n pandemie nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.