Covid-19-samevatting: Gauteng se gevalle styg vinnig

(Foto: Brian Inganga/AP)

Die Covid-19-gevalle in Gauteng het die afgelope 24 uur met 47 toegeneem. Dit is meer as ʼn derde van die algehele styging van 124 gevalle oor die hele land. Dit is ʼn styging van 4,3% in Gauteng, teenoor die nasionale styging van 4,1%.

Gauteng is steeds die provinsie met die meeste bevestigde Covid-19-gevalle. Altesaam 1 148 mense in dié provinsie het reeds positief vir die virus getoets.

Die getal bevestigde gevalle van die virus is nou 3 158. Die getal het in die afgelope 24 uur met 124 toegeneem.

Johannesburg het tans 690 gevalle aangemeld, gevolg deur Ekurhuleni met 233. Pretoria het 122 bevestigde gevalle, Sedibeng 11 en die Wes-Rand 39. Altesaam ses mense het reeds in dié provinsie omgekom en 551 mense het al intussen herstel.

Jack Bloom, die DA se woordvoerder van gesondheid in Gauteng, sê die onlangse skerp styging in Covid-19-gevalle in Gauteng kan toegeskryf word aan die toename in die aantal toetse. Tot dusver is altesaam 30 000 toetse in Gauteng gedoen. Altesaam 1 906 toetse is net op 16 April uitgevoer. Bloom meen egter dié provinsie moet daagliks tussen 5 000 en 10 000 toetse uitvoer.

Bloom sê ook selfisolering is nie doeltreffend in digbevolkte nedersettings nie, want dit is moeilik om sosiale afstand te handhaaf.

Die DA meen die Gautengse provinsiale regering moet daagliks die aantal toetse wat gedoen word, asook die aantal gevalle in elke subdistrik in die provinsie bekendmaak, eerder as net die aantal gevalle per stad.

“Ons benodig doeltreffender data om beter besluite te kan neem oor die verligting van die beperkings. Dít kan slegs moontlik gemaak word deur grootskaalse toetse en om besmette pasiënte so gou moontlik in kwarantyn te plaas,” sê Bloom.

Bloom sê Bandile Masuku, die LUR vir gesondheidsorg in Gauteng, het geweier om die aantal gevalle per subdistrik bekend te maak omdat dit tot stigma kan lei. “Sulke inligting is waardevol om inwoners in kennis te stel van hoërisikogebiede,” meen Bloom.

Covid wêreldwyd

Altesaam 2 407 600 bevestigde gevalle van Covid-19 is wêreldwyd in 210 lande aangemeld. Sowat 165 083 mense het reeds weens dié virus omgekom terwyl 625 312 al intussen herstel het.

Volgens die wêreldbarometer Worldometer se statistieke toon Amerika steeds die meeste gevalle en staan tans op 764 265 gevalle en 40 565 sterftes. Amerika het met 25 844 nuwe gevalle gestyg en 1 561 nuwe sterftes aangemeld.

Rusland het sedert Sondag ʼn enorme styging getoon, naamlik van 42 853 tot 47 121 gevalle. Spanje het intussen die 200 000-kerf oorgesteek en sedert Sondag met 1 536 nuwe gevalle gestyg en 399 nuwe sterftes aangemeld. Italië staan tans op 178 972 gevalle en 23 660 sterftes en het geen nuwe gevalle sedert Sondag getoon nie.

Covid-19 in Afrika

Die organisasie Zipline help om meer Covid-19-toetse uit te voer deur ʼn hommeltuig te gebruik (Foto: ANA)

ʼn Amerikaanse mediese afleweringsonderneming, Zipline, het Maandag onderneem om Ghana te help om meer Covid-19-toetse uit te voer deur ʼn hommeltuig te gebruik om toetsmonsters na gesondheidsfasiliteite se laboratoriums te vervoer.

Dié maatskappy is reeds in Ghana en Rwanda gevestig en gaan toetsmonsters by meer as 1 000 fasiliteite in Ghana se landelike gebiede versamel en by laboratoriums in Akkra en Kumasi aflewer.

Keller Rinaudo, uitvoerende hoof van Zipline, sê die gebruik  van hommeltuie kan tyd bespaar en só sal meer toetse uitgevoer word. Die maatskappy verwag om die hommeltuigdiens daagliks te bedryf.

Volgens die Ghana-gesondheidsdiens is meer as 68 000 mense teen Sondag getoets vir die virus van wie 1,52% positief was. Ghana het tot dusver 1 042 bevestigde gevalle en nege sterftes aangemeld.

Chinese miljardêr en sakeman, Jack Ma (Foto: ANA)

Die Nigeriese Sentrum vir Siektebeheer (NCDC) het Maandag 86 nuwe gevalle van Covid-19 in dié land aangemeld. Altesaam 170 mense het reeds herstel en 21 het weens die virus omgekom. Die land het tans altesaam 627 bevestigde gevalle.

Intussen het die Chinese miljardêr en sakeman, Jack Ma, die stigter van die Alibaba-groep, Maandag aangekondig dat hy nóg mediese toerusting aan 54 Afrikalande, onder meer Nigerië, gaan skenk. Dít sal sy derde skenking wees om Afrikalande te help met die bekamping van die Covid-19-pandemie.

Hy het op sy Twitter-blad aangekondig dat hy 4,6 miljoen maskers, 500 000 toetsstelle, 300 ventilators, 200 000 beskermingspakke, 200 000 gesigskerms, 2 000 termometers, 100 liggaamstemperatuurskandeerders en 500 000 handskoene gaan skenk.

korona

Wil jy op die hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Kliek hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

4 Kommentare

jongste oudste gewildste
Raadslid

As DA wakker word sal dit soos gewoonlik weer te laat wees.

Marina

is hierdie syfers akkuraat?

Ronel

Ja en hoekom styg die syfers? het mense al ooit gewonder? Ek sien dit daagliks. Mense gaan aan asof daar geen Lockdown is nie en beweeg sonder gesigmaskers en handskoene! Hulle beweeg sommer teen jou verby in winkels wat beteken jy sal besmet word. Weet julle wat ne, ek dink die Lockdown doen niemand goed nie en is ‘n mors van tyd want almal gaan aan soos hulle wil en in die proses verloor almal geld en werk.