Covid-19-samevatting: Gevalle nou meer as ʼn miljoen

Pres. Donald Trump praat Woensdag oor Covid-19 in Washington. (Foto: Alex Brandon, AP)

Meer as ’n miljoen bevestigde gevalle van die nuwe koronavirus wat Covid-19 veroorsaak, is nou reg oor die wêreld aangemeld. Die aantal sterftes het ook die 50 000-kerf oorgesteek soos die Wêreldgesondheidsorganisasie voorspel het.

Volgens die wêreldbarometer Worldometer het 1 016 395 mense tot dusver positief getoets vir Covid-19 sedert die uitbreking van die virus in Desember, van wie 213 133 reeds herstel het. Altesaam 53 238 mense het egter die afgelope vier maande weens Covid-19 omgekom.

Die VSA is in die stadium die episentrum van die virus met 245 373 gevalle Covid-19 in dié land aangemeld. Meer as 6 000 pasiënte in die VSA het reeds gesterf weens Covid-19. Dié land het nou 1 169 nuwe sterftes in ’n kwessie van ’n dag aangemeld.

Italië het egter die meeste Covid-19-sterftes ter wêreld, met 13 915 lewens reeds geëis. Die land het tans 115 242 bevestigde gevalle van die virus.

In Spanje het 112 065 mense in die stadium positief vir Covid-19 getoets, met 10 348 sterftes . Dié land het Donderdag sy meeste sterftes (950) nog binne ’n kwessie van 24 uur aangemeld.

Universitas- akademiese hospitaal in Bloemfontein

Vooruitgang in die Vrystaat

Altesaam 1 462 bevestigde gevalle is in die stadium in Suid-Afrika aangemeld, waarvan 84 gevalle in die Vrystaat aangemeld is. Talle van dié pasiënte het positief getoets vir Covid-19 na ’n kerkbyeenkoms in Manguang verlede maand.

Dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid, het nou bevestig dat 1 600 van die 1 700 persone waarmee kerkgangers sedertdien in kontak was, reeds opgespoor is.

Volgens Mkhize toon die Universitas-hospitaal in Bloemfontein tans opwindende tegnologiese vordering in die stryd teen Covid-19. Dit sluit in die druk van 3D-ventilasiemaskers asook gesigsmaskers. Die minister het verduidelik dat dit moontlik is om 33 000 gesigsmaskers met 3D-druktegnologie te druk te midde van die wêreldwye tekort aan gesigsmaskers.

Die hospitaal het ook die getal beddens in sy waakeenheid van 16 tot 86 beddens verhoog. Die hospitaal se kraamsaal asook neonatale afdeling is nou ook ingerig om Covid-19-pasiënte te behandel.

Die maatskappy Decathlon se snorkelmaskers. (Foto: ANA)

Snorkelmaskers as ventilators

Ingenieurs van Marokko het  aangedui dat hulle snorkelmaskers in asemhalingsapparate omskep om pasiënte met respiratoriese probleme weens Covid-19 te behandel.

Marokko het opdrag gegee dat 550 ventilators as deel van ’n pakket van $200 miljoen (ongeveer R3,7 miljard) versprei moet word om ander toerusting en medisyne aan te skaf om pasiënte met Covid-19 te behandel.

Volgens die ingenieurs het die sporttoerustingmaatskappy Decathlon die nodige voorraad snorkelmaskers om in ingenieurs se behoeftes te voorsien. Hulle sal dit skenk sodra die owerhede die plan goedkeur.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Michael 1 ·

As ek na die statistieke van SA kyk blyk dit dat die virus onder beheer is maar wat ek nie verstaan is dat daar meer bekende persone in die land is wat positief is as wat die totale wat aangegee word

Steady Eddie ·

Die jongste verslag van ‘n maatskappy in die Vrystaat wat Covid-19 maskers maak, is juis waarvan ek praat …
Ons het die kundigheid en mannekrag om Sjina se produkte uit te sny !!!
Koop Local – di’s Lekka !!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.