Covid-19-samevatting: Honderde Amerikaners uit SA gevlieg  

OR Tambo- internasionale lughawe (Foto: ANA/verskaf)

Honderde Amerikaanse burgers het Suid-Afrika teen Vrydag op pad na die VSA verlaat. Luidens ʼn verklaring deur die Amerikaanse ambassade het twee vlugte, een van Kaapstad se internasionale lughawe en die ander van die OR Tambo-lughawe in Johannesburg, Donderdagmiddag vertrek.

“Ons verwag dat ʼn derde vlug Vrydagoggend uit Kaapstad sal vertrek. Dié drie vlugte, almal op pad na Washington, sal ongeveer 900 Amerikaners uit Suid-Afrika terugbring,” het die ambassade in die verklaring gesê.

Intussen wag Suid-Afrikaners in die buiteland nog in spanning vir die regering om hulle te laat haal. Maroela Media ontvang steeds talle klagtes van gestrande Suid-Afrikaners uit verskeie wêrelddele, wat steeds geen woord van die regering gehoor het oor hoe hulle kan terugkeer nie. Die departement van buitelandse sake het reeds ʼn week gelede gesê hulle is besig om planne te maak om Suid-Afrikaners terug te bring.

Pres. Cyril Ramaphosa het Donderdagaand die tydperk van algehele afsondering verleng tot die einde van April. Bykans 2 000 Suid-Afrikaners is reeds met Covid-19 gediagnoseer.

Die Azadi-toring, ook bekend as die Vryheidstoring, in Tehran, Iran, is belig met die vlae van lande wat deur die Covid-19-pandemie geraak word.. Foto: Skermskoot uit video/@easygoiran/Twitter

Covid-19 in die buiteland

Teen Donderdagaand is meer as 1,3 miljoen mense in meer as 200 lande wêreldwyd met Covid-19 gediagnoseer en tussen 80 000 en 90 000 het weens dié virus gesterf.

Die Chinese provinsie Hubei, waar die koronavirus in Desember uitgebreek het, het egter Donderdag geen nuwe gevalle van Covid-19 aangemeld nie. Een persoon het wel Donderdag in dié provinsie omgekom aan die virus, terwyl 18 pasiënte uit hospitale ontslaan is. Sowat 350 Covid-19-pasiënte word steeds in dié provinsie behandel.

Intussen is die Britse eersteminister, Boris Johnson, Donderdag uit intensiewe sorg na ʼn algemene saal oorgeplaas. Hy is vroeër die week in die hospitaal opgeneem nadat hy met Covid-19 gediagnoseer is. Volgens ʼn woordvoerder van die premier sal hy nou fyn dopgehou word die volgende paar dae. Sy pa het Donderdag aan die media gesê hy sal nie gou terug wees by die werk wees nie, aangesien hy tyd nodig het om aan te sterk.

In Australië is honderde inwoners beboet omdat hulle die regulasies van ʼn algehele afsondering op die eerste dag van die Paasnaweek oortree het.

Don Harwin, minister van kuns in Nieu-Suid-Wallis, het intussen bedank nadat hy opgemerk is terwyl hy klere koop. Teen Vrydag het 54 mense reeds in dié land weens Covid-19 omgekom.

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Strandloper ·

Hoop die lawe arrogante ministertjie was ook opi vlug….hou mos van rond rits en ons geld mors…

Johan ·

Kyk bietjie persoon bedank oor hy klere koop, in Suid Afrika roep Rampspoedig jou in (lockdown) en raas met jou want aan haar salaris gaan nie geraak word nie want die is mos RAK (republiek van korrupsie).

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.