Covid-19-samevatting: Kaapstad-toetssentra, Stats SA-gebou tydelik gesluit

Brackenfell-toetssentrum (Foto: Henk Kruger/African News Agency/ANA)

Nege bestuurslisensie-toetssentra in Kaapstad en Statistieke Suid-Afrika se hoofkantoor in Pretoria is gesluit ná personeellede positief getoets het vir Covid-19.

Kaapstad-toetssentra

Minder as twee weke ná Kaapstad sy bestuurslisensie-toetssentra oopgemaak het, moes nege weer gesluit word nadat Covid-19-gevalle aangemeld is.

Maxine Bezuidenhout, woordvoerder vir die stadsraad, het Sondag bevestig die toetssentra in Parow, Brackenfell, Hillstar, Bellrail (Bellville), Gallows Hill, Vishoek, Kuilsrivier, Somerset-Wes en Gordonsbaai is gesluit.

“Die geboue word ontsmet en bedrywighede sal so vinnig as moontlik weer hervat,” het sy gesê.

Kaapstad het aanvanklik 11 van sy fasiliteite op 9 Junie oopgemaak, terwyl die res op 17 Junie oopgemaak het. Beperkte dienste is aangebied ná die sentra vir meer as twee maande gesluit was tydens die landswye afsonderingsperiode.

Die Kaapstadse stadsraad het, soos ander stadsrade landswyd, motoriste ʼn 90 dae grasieperiode aangebied om hul motorvoertuiglisensies of rybewyse te hernu wat tydens die afsonderingsperiode verval het. Bezuidenhout het gesê almal wat wag vir leerlinglisensies of om padtoetse te ondergaan vir bestuurderslisensies, sal gekontak word met alternatiewe datums.

Kaapstad-vullisverwydering

Die stadsraad het ook bevestig daar is weer ʼn vertraging in vullisverwydering in gebiede wat deur die Woodstock-depot gediens word ná ʼn positiewe geval bevestig is. Inwoners in Dunoon word ook gewaarsku oor ʼn moontlike vertraging in vullisverwydering weens betogings in die gebied.

Die Schaapkraal-fasiliteit, wat tydelik op 19 Junie gesluit is, is ontsmet en het weer heropen.

Klik hier om op hoogte te bly van enige diensleweringskennisgewings vir Stad Kaapstad.

Statistieke Suid-Afrika in Pretoria

Felicia Sithole, woordvoerder van Statistieke Suid-Afrika, het Maandag gesê die organisasie se hoofkantoor in Pretoria, ISIbalo House, is ook tydelik gesluit ná ʼn personeellid positief getoets het vir Covid-19. Alle persone wat met die personeellid in aanraking was, sal gekontak word. ISIbalo House is gesluit totdat die gebou volledig ontsmet is.

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

marius ·

Was die mense wat positief getoets is besig om dood te gaan ? Nee , hulle was besig om te werk ! Grootste neusring met riem ooit in die wereld se bestaan .

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.