Covid-19-samevatting: Kliniek gesluit ná verpleegster positief toets

Argieffoto (Foto: Unsplash)

ʼn Kliniek in Nigel aan die Oos-Rand is Woensdag tot verdere kennisgewing gesluit nadat ʼn verpleegster positief vir die nuwe koronavirus, wat Covid-19 veroorsaak, getoets het.

Luidens ʼn verklaring deur die Ekurhuleni-munisipaliteit het ʼn verpleegster van die Duduza-kliniek verlede maand ’n kerkbyeenkoms in Bloemfontein in die Vrystaat bygewoon waar verskeie mense vermoedelik Covid-19 opgedoen het, onder wie eerw. Kenneth Meshoe van die ACDP en die prediker Angus Buchan.

Die verpleegster is Maandag vir Covid-19 getoets ná identifisering as kontak van die kerkbyeenkoms. Die verpleegster se toetsuitslae het Dinsdag positief teruggekom waarna ʼn kwarantynfase gevolg het.

Luidens die verklaring is alle kliniekpersoneel wat simptome toon reeds vir Covid-19 getoets en in selfisolasie geplaas totdat hulle hul toetsuitslae ontvang. Personeel wat nie simptome het nie, is op spesiale verlof geplaas om hulle self te isoleer.

Twee mobiele klinieke sal nou in die omgewing opgerig word terwyl die Duduza-kliniek ontsmet word. Personeel van omliggende klinieke sal by dié mobiele klinieke ontplooi word totdat die Duduza-kliniek weer oopgestel word.

“Ons vra vir kalmte onder gemeenskapslede terwyl ons reageer op Covid-19-gevalle in en om Ekurhuleni,” het Mzwandile Masina, burgemeester van Ekurhuleni, in die verklaring gesê.

piet-le-roux

Piet le Roux, uitvoerende hoof van Sakeliga. Foto: Morné Prinsloo

Sakeliga rig skrywe aan Ramaphosa

Die sakeorganisasie Sakeliga het ʼn skrywe aan pres. Cyril Ramaphosa gerig om dringende bystand met die verlening van noodsaaklike goedere en dienste deur klein, mikro- en mediumgrootte ondernemings te versoek.

Piet le Roux, uitvoerende hoof van Sakeliga, het in ʼn verklaring gesê Sakeliga se brief aan Ramaphosa volg op onbeantwoorde skrywes aan die departement van handel en nywerheid en mededinging waarin Sakeliga versoek dat die departement sy besluit herroep dat alle ondernemings wat noodsaaklike goedere en dienste gedurende die afsondering wil voorsien, ’n sertifikaat moet bekom.

Volgens Le Roux verhoed die departement tans duisende klein, mikro- en mediumgrootte ondernemings om noodsaaklike goedere en dienste aan die publiek te lewer. “Dwarsoor die land is wetstoepassers besig om ondernemings wat noodsaaklike werk verrig, toe te maak en om hul eienaars en werknemers te dreig. Dit gebeur omdat die wetstoepassers onder die wanindruk verkeer dat ondernemings sertifisering by die Kommissie vir Maatskappye en Intellektuele Eiendom benodig voordat hulle met noodsaaklike werk mag voortgaan,” het Le Roux verduidelik.

WGO loof Ramaphosa

Dr. Tedros Adhanom Ghebreyesus, direkteur-generaal van die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO), het vandeesweek Ramaphosa se leierskap te midde van die Covid-19-pandemie geloof.

“Ek bedank pres. Cyril Ramaphosa vir sy leierskap, asook die hele regering van Suid-Afrika en sy landsburgers wat hul bes doen om te voldoen aan die maatreëls wat getref is om die verspreiding van die koronavirus hok te slaan,” het Ghebreyesus Dinsdag op Twitter gesê.

Dr. Tedros Adhanom Ghebreyesus, direkteur-generaal van die WGO. Foto: (Jean-Christophe Bott/Keystone via AP)

Suid-Afrika het tans 1 380 bevestigde gevalle van Covid-19. Vyf pasiënte het reeds weens die virus gesterf.

Altesaam 936 491 bevestigde gevalle van die nuwe koronavirus is in 203 lande en twee passasierskepe aangemeld. Altesaam 47 251 mense wêreldwyd het reeds weens die virus omgekom.

Ghebreyesus het Woensdag gesê hy voorspel dat die aantal bevestigde Covid-19-gevalle oor die volgende paar dae die eenmiljoenkerf gaan oorsteek. Hy voorspel ook dat die dodetal binne enkele dae tot meer as 50 000 sal styg.

Wil jy op die hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Rooikoos ·

O, die landsburgers doen hul bes nê? Sekeres gee nie n bloue duit om nie!

Petrus Johannes ·

Eending wat ek nie verstaan mense gee niks om HULLE glo die is n witmens siekte en niks sal met hul gebeur nie.Hoe hartseer as hul besef hul is verkeerd en te laat.

DieKriek ·

Daardie byeenkoms is gehou nadat die president afgekondig het dat meer as 100 mense nie mag saamtrek nie. Ironies dat dit die bron is van vele Covid-19 gevalle.

Daar was ook n berig oor iemand wat die hof genader het om die 21 dae tydperk op te hef omdat die virus nie swart mense affekteer nie. Hmm, en nou?

Lorna ·

Omw ek het ook daai by my werk gehoor
DIS NET N WITMENS SIEKTE
Arme Jan gaan weer die skuld kry

Marietjie ·

Hier by ons weier van die “care workers” om maskers te dra . Hulle glo dit kom van China af en is besmet!

Michael 1 ·

Dr Tedros het duidelik nie sy feite reg oor sa nie as ek so kyk na wat hy sê

Jan ·

Mense waaroor die paniek daar is sovewl siektes wat meer dodelik is as korona soos kanker en tb…gee eerder aandag aan mense wat regrig siek is want angus makeee skielik niks nie en so ook ou prons charles….skielik weer gesond….laat mens wonder…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.