Covid-19-samevatting: Kliniekverpleegster toets positief

Argieffoto (Foto: Jossué Trejo/Pixabay)

ʼn Verpleegster by die Promosa-gemeenskapsgesondheidsentrum in Potchefstroom in Noordwes het positief getoets vir die nuwe koronavirus wat Covid-19 veroorsaak.

Madoda Samabatha, LUR van gesondheid in Noordwes, het Donderdag gesê hy is Woensdagaand van die verpleegster se toetsuitslae in kennis gestel. Die kliniek is gevolglik tydelik gesluit sodat die gebou ontsmet kan word. Alle personeel is ook reeds in kwarantyn geplaas.

Mense wat moontlik in aanraking met die verpleegster was, word nou nagespeur, het die LUR gesê.

“Alle personeellede by die fasiliteit sal vir die volgende 14 dae in kwarantyn geplaas word. Reaksiespanne ondersoek die geskiktheid van hul huise vir tuiskwarantyn. As die huise nie aan die kriteria vir tuiskwarantyn voldoen nie, sal hulle na ʼn aangewese kwarantynterrein geneem word. Dit geld ook vir hul gesinne en pasiënte.”

Volgens Samabatha sal die kliniek se personeellede dus nie vir die volgende twee weke beskikbaar wees nie. Bykomende personeel sal beskikbaar gestel word vir wanneer die kliniek weer oopgestel word hoewel slegs beperkte dienste gelewer sal word. Pasiënte sal ook na ander fasiliteite verwys word.

Altesaam 37 bevestigde gevalle van Covid-19 is tot dusver in Noordwes aangemeld van wie 20 pasiënte reeds herstel het.

Vrou gee geboorte op repatriasievlug

Argieffoto

ʼn Vrou het intussen geboorte gegee op ʼn repatriasievlug vanaf Dubai na Nigerië.

Kafayat Amusan se babaseuntjie het sowat 30 minute nadat die vliegtuig opgestyg het sy opwagting gemaak. Die vliegtuig het noodgedwonge omgedraai om ma en seun se veiligheid te verseker.

Amusan en haar baba is in ʼn hospitaal in Dubai opgeneem en sal na Nigerië kan terugkeer sodra die baba se geboortesertifikaat uitgereik en die nodige reisdokumente voltooi is.

Sowat 256 passasiers wat saam met die vrou op die vlug was, kon wel later na Nigerië vlieg en het Woensdag omstreeks 19:00 by die Murtala Muhammed Internasionale Lughawe in Lagos geland. Hulle sal nou in kwarantyn geplaas word.

Geoffrey Onyeama, minister van buitelandse sake in Nigerië, het gesê sowat 4 000 van sy landsburgers het reeds aangedui dat hulle na dié land gerepatrieer wil word.

Duisende bemanningslede nog vasgekeer op passasierskepe

Argieffoto

Meer as 57 000 bemanningslede is steeds aan boord van 74 passasierskepe in en om Amerikaanse hawens, die Bahamas en die Karibiese Eilande. Alle passasiers is reeds toegelaat om dié vaartuie te verlaat.

Volgens die Amerikaanse sentrum vir siektebeheer en voorkoming (CDC) word bemanningslede op passasierskepe in Amerikaanse water slegs toegelaat om die vaartuie te verlaat indien hulle gerepatrieer of tussen passasierskepe oorgeplaas moet word.

Die bemanning van passasierskepe wat nié deur Covid-19 geraak word nie, word slegs toegelaat om die vaartuig te verlaat en plaaslik te reis indien hulle vooraf goedkeuring by die CDC ontvang het.

Bronne: ANA, BBC, CNN

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.