Covid-19-samevatting: Laaste SA’ners terug uit Wuhan

The Ranch Hotel in Polokwane. (Foto: Google)

Dr. Blade Nzimande, minister van hoër onderwys en opleiding, het Dinsdagmiddag gedurende ʼn mediakonferensie gesê ’n groep van 80 Suid-Afrikaners het intussen uit China in Suid-Afrika geland en word tans onder kwarantyn in Ekurhuleni in Gauteng gehou. Hulle is getoets en wag nou op hul uitslae.

Die groep Suid-Afrikaners van Wuhan by The Ranch Hotel buite Polokwane gaan hierdie naweek hul laaste toetse vir die koronavirus ondergaan.

Mmamoloko Kubayi-Ngubane, minister van toerisme, bedank die personeel en bestuur van The Ranch Hotel wat in die belang van die land opgetree het en die hotel vrywillig as kwarantynfasiliteit beskikbaar gestel het.

Kubayi-Ngubane doen ʼn beroep op die openbare en private sektors om te oorweeg om nog fasiliteite beskikbaar te stel om gebruik te word om pasiënte tydens isolasie te huisves met die toepaslike gesondheidsprotokolle in plek.

“Dit is in tye soos hierdie dat ons besef ons het ʼn toerismebedryf wat omgee.”

Nzimande het verder ook gesê Suid-Afrikaanse navorsers is besig om plaaslik vervaardigde toestelle vir korona-toetse te prakseer. Die land is een van ’n paar ter wêreld waar navorsers met ander lande se navorsers saamwerk om ’n korona-teenmiddel te ontwikkel.

Covid-19 in Afrika

President Hage Geingob het algehele afsondering aangekondig (Foto: ANA)

Intussen het Namibië ook ’n toestand van algehele afsondering aangekondig om die verspreiding van die koronavirus te bekamp. Dié land het reeds ses positiewe gevalle aangemeld en het verlede week ’n noodtoestand in die land verklaar.

Die strenger maatreëls sluit in: Geen Namibiërs mag vir die volgende 30 dae na enige land ter wêreld reis nie. Mense van ander lande sal slegs onder buitengewone omstandighede toegelaat word in Namibië. Alle Namibiërs moet van die huis af werk of gewoon tuis bly tensy hulle noodsaaklike dienste verskaf. Die parlement sal ook nie vir die volgende 21 dae bymekaar kom nie en verskeie grensposte is ook gesluit.

Alhoewel Botswana nog nie ʼn bevestigde Covid-19-geval in die land aangekondig het nie, is maatreëls reeds ingestel om te verhoed dat die virus soos in ander lande soos ʼn veldbrand versprei.

Botswana se regering het Dinsdag die reis na buurlande verbied. Slumber Tsogwane, Botswana se visepresident, het gesê die beweging van alle mense word beperk met uitsondering van die beweging van goedere en dienste oor grense.

Botswana het die reis na hoërisikolande verbied en toeriste van hoërisikolande mag ook nie die land binnekom nie. Botswana-burgers en inwoners wat uit hoërisikolande na die land terugkeer, sal eers vir 14 dae onder kwarantyn geplaas word.

Kroeë en restaurante bly gesluit; drankwinkels sal oop bly tot verdere kennisgewing. Tronkbesoeke is ook tot verdere kennisgewing opgeskort.

“Dit is net ʼn kwessie van tyd voordat die virus ook in Botswana uitbreek,” het Tsogwane gesê.

Covid-19 wêreldwyd

Mense in Indië haas na die winkels om kos te koop na algehele afsondering aangekondig is (Foto: ANA)

Die eerste minister van Indië, Narendra Modi, het Dinsdag aangekondig dat ʼn algehele landwye afsondering vir 21 dae in Indië ingestel sal word. Dit tree reeds Dinsdag om 00:00 in werking.

Dié drastiese stappe volg na die getal Covid-19-gevalle die afgelope dae skerp toegeneem het – 519 gevalle is reeds aangemeld. Altesaam 10 sterfgevalle is ook reeds aangemeld.

Verskeie Indiese state het voor die afkondiging van die landwye afsondering hul inwoners reeds in afsondering geplaas om die verspreiding van die virus te bekamp. Internasionale grense is ook reeds gesluit.

Slegs noodsaaklike dienste sal gelewer word, insluitend water-, elektrisiteit-, gesondheid-, brandweer-, voedselvoorsiening- en munisipale dienste.

Alle winkels, kommersiële ondernemings, fabrieke, werkswinkels, kantore, markte en plekke van aanbidding sal ook gesluit word. Busse en metro’s gaan ook opgeskort word. Die boubedryf sal ook gedurende hierdie tydperk tot stilstand kom.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Jaco ·

Terug in ‘n land met beurtkrag, swak of geen munisipale dienslewering, plaasmoorde, regstellende aksie, BEE en so kan my lys aan en aan gaan.
Behalwe vir die coronavirus en diskriminasie teen Christene, is China VEEL beter as SA. As ek in Wuhan was, sou ek net daar gebly het. Daar word jy immers nie op straat aangerand vir jou foon nie. En sou dit gebeur en die aanvaller word gevang, wag LANG tronkstraf of selfs die doodstraf op hom.

antieke antie ·

hierdie invoer van siekes is goed beplan om vir die kadermaatjies n ekstra inkomste te reel….. sal graag wil sien wie die ‘gaste’ is….dink dis ook kadermaatjies … ….sodra die ‘gesond’ is gaan die volgende ingevoer word

Wil ook net sê ·

Botswana stel ‘n voorbeeld vir baie ander. Goed gedoen!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.