Covid-19-samevatting: Lesotho verleng afsonderingstydperk

Thomas Thabane (Foto: ANA)

Lesotho het sy algehele landwye afsondering van drie weke met nog twee weke verleng ten spyte daarvan dat dié land nog geen gevalle van die nuwe koronavirus aangemeld het nie.

Thomas Thabane, Lesotho se eerste minister, het Dinsdagaand ’n verlengde afsonderingstydperk aangekondig, slegs ʼn paar uur voordat die land se afsonderingstydperk na verwagting opgehef sou word. Die afsondering sal nou volgens die premier op 5 Mei opgehef word.

Volgens Thabane sal landsburgers in hoë-risiko-areas nou vir Covid-19 nagegaan en getoets word.

“Die regering van Lesotho sal tydens die verlengde afsonderingstydperk voortgaan om die land teen die virus te beskerm. Die regering sal gespesialiseerde toerusting soos ventilators en beskermende klere vir gesondheidsfasiliteite aankoop,” het Thabane gesê.

Die eerste minister het ’n beroep op landsburgers gedoen om die regulasies tydens die afsonderingstydperk na te kom en elke middag omstreeks 12:00 vir die land se beskerming te bid.

Nigerië meld meeste nuwe gevalle nog aan

Mense loop met maskers in Nigerië. (Foto: ANA)

Nigerië het Dinsdagaand 117 nuwe gevalle van Covid-19 aangemeld. Dit is die grootste daaglikse toename in gevalle sedert die virus einde Februarie in dié land aangemeld het.

Nigerië het nou altesaam 782 bevestigde gevalle van Covid-19 tot op hede aangemeld. Altesaam 25 mense in dié land het reeds aan die virus omgekom en 197 Covid-19-pasiënte is reeds uit ’n hospitaal ontslaan.

Die Nigeriese stad Lagos gaan veral gebuk onder die nuwe koronavirus, met 59 nuwe gevalle wat in die stad aangemeld is. Altesaam 430 gevalle is teen Dinsdagaand in dié stad aangemeld.

Tweede golf infeksies kan VSA tref

Pres. Donald Trump. Foto: (Doug Mills/The New York Times via AP, Pool)

’n Amerikaanse gesondheidsamptenaar het gewaarsku ’n tweede golf van die nuwe koronavirus kan die VSA tref. Die tweede golf infeksies kan erger as die eerste wees, het Robert Redfield, direkteur van die sentrums vir siektebeheer en -voorkoming (CDC), gesê.

Volgens Redfield bestaan die gevaar dat nog ’n uitbreking saam met die griepseisoen in die VSA kan voorkom. “Dit sal ondenkbare druk op die Amerikaanse gesondheidsorgstelsel plaas,” het hy gesê.

Die VSA is tans die episentrum van die nuwe koronavirus, met meer as 800 000 gevalle van Covid-19 reeds in dié land aangemeld. Altesaam 45 355 pasiënte in die VSA het reeds weens die virus omgekom.

Kalifornië het Maandag die meeste nuwe gevalle nog per dag aangemeld, terwyl New Jersey die meeste sterftes nog per dag aangemeld het.

Debat oor Spanje se afsonderingstydperk

Mense staan op hul balkonne tydens die algehele landwye afsondering in Barcelona, Spanje. (Foto: Emilio Morenatti, AP)

Die Spaanse regering oorweeg ʼn voorstel deur die land se eerste minister dat dié land se algehele landwye afsondering tot 9 Mei verleng moet word. Pedro Sanchez, die land se premier, het gesê die regering beplan ook om die land se regulasies stelselmatig te verslap wanneer die afsondering eindelik opgehef word.

Spanje het 435 nuwe sterftes die afgelope 24 uur aangemeld. Altesaam 21 717 sterftes is tot op datum in dié land aangemeld. Spanje is tans die Europese land met die meeste gevalle van Covid-19 (208 389).

Talle boetes in Roemenië uitgereik

‘n Vrou staan Saterdag by ‘n venster in Boekarest, Roemenië. (Foto: Andreea Alexandru, AP)

Sowat 200 000 boetes is die afgelope maand in Roemenië uitgereik aan landsburgers wat nie die regulasies nakom nie. Robert Negoita, die burgemeester van Boekarest, is een van diegene wat beboet is nadat hy in ’n park fietsgery het.

Landsburgers in Roemenië mag bedags net werk toe gaan en benodighede aankoop te midde van die Covid-19-pandemië. Altesaam 9 710 bevestigde gevalle van Covid-19 is tot op hede in dié land aangemeld. Die land se dodetal staan tans op 508.

Bronne: BBC, ANA, Worldometer

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.