Covid-19-samevatting: Lugrederye, gimnasiums skort bedrywighede op

Argieffoto (Foto: Comair/Facebook)

Die lugdiensgroep Comair en lugredery FlySafair het al hul vlugte tot in April gekanselleer.

Comair, wat British Airways en Kulula in Suid-Afrika bedryf, het Dinsdag in ’n verklaring gesê sy vlugte word vanaf Donderdag tot 19 April opgeskort te midde van die landwye afsondering wat later vandeesweek ingestel word.

FlySafair het intussen op sosiale media aangekondig dat al sy vlugte tussen Donderdag en 20 April opgeskort word.

Maroela Media het vroeër berig pres. Cyril Ramaphosa het Maandagaand afgekondig dat ʼn algehele landwye afsondering vir 21 dae ingestel sal word in ’n poging om die verspreiding van die nuwe koronavirus in Suid-Afrika hok te slaan. Dit tree Donderdag 26 Maart om 23:59 in werking.

Wrenelle Stander, uitvoerende hoof van Comair, sê in die verklaring alle werknemers van die lugdiensgroep sal vanaf Vrydag by die huis bly. Sommige van die werknemers sal wel van die huis af werk indien moontlik.

Volgens Stander sal Comair passasiers wat oor die volgende twee dae wil reis, probeer akkommodeer onderworpe aan die beskikbaarheid en prysverskil van kaartjies.

Die lugdiensgroep moedig kliënte aan wat nie hul vliegkaartjies gaan gebruik nie of hul vlugbespreking na ’n latere datum wil skuif om ’n e-pos aan die groep te stuur met die nuwe datums of ’n versoek om krediet.

Luidens die verklaring kan passasiers hul vlugdatum gratis verander sou daar nie ’n prysverskil van toepassing wees nie.

Passasiers kan ook hul vliegkaartjies kanselleer en krediet daarvoor ontvang. Dié voorwaardes is egter slegs van toepassing op kaartjies wat voor of op 23 Maart bespreek is en voor 17 April vertrek.

Argieffoto ter illustrasie (Foto: Unsplash)

Gimnasiums

Die gimnasiumgroep Virgin Active het reeds vandag (Dinsdag) sy takke se deure gesluit. Die maatskappy het Maandagaand op sosiale media gesê hy ondersteun Ramaphosa se besluit om die landwye afsondering in te stel. Lede se lidmaatskap sal oor die volgende drie weke bloot gevries word. Geen debietorder sal dus afgaan totdat bedrywighede middel April hervat nie.

Die gimnasiumgroep Planet Fitness sluit Woensdag sy deure. Lede wat aan dié gimnasium behoort se lidmaatskap sal ook gevries word totdat sy takke na verwagting weer op 17 April sal heropen.

Formule 1

Chase Carey, uitvoerende hoof van Formule 1, sê hoewel dit nie in dié stadium duidelik is wanneer presies die seisoen sal kan afskop te midde van die Covid-19-uitbreking nie, die 2020-seisoen wel een of ander tyd ʼn aanvang sal neem met ʼn hersiene kalender van tussen  15 en 18 wedrenne.

“Ons sal gebruik maak van die somervakansie wat na Maart /April geskuif word. Ons voorsien dat die einddatum van die seisoen tot na ons oorspronklike einddatum van 27 tot 29 November sal strek met die werklike volgorde en datums vir wedrenne wat aansienlik sal verskil van ons oorspronklike 2020-kalender,” sê Carey.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Johnny ·

My magtag. Hulle kanselleer hulle vlugte, en as jy dan wil (of moet) verander, moet jy steeds die prysverskil betaal? Watter vermetelheid is dit darem nou?

Johan Venter ·

As jy mooi kyk sal jy sien daai vliegtuig van Kulula het soos ‘n helikopter gaan sit.

Jan ·

Die coronavirus is definitief nie n nuwe virus nie gaan kyk in enige ensiklopedie dis al dekases terug identifiseer en volgens nare lange navorsing is dit onskadelik vir mense…gaan doen maar julle huiswerk

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.