Covid-19-samevatting: Meer as 200 in NW vas

Argieffoto ter illustrasie

Meer as 200 mense in Noordwes is in hegtenis geneem nadat hulle nie die regulasies van die algehele afsondering nagekom het nie.

Sello Lehari, LUR vir gemeenskapsveiligheid in Noordwes, het gesê van die mense het versuim om in hul huise te bly gedurende die afsonderingstydperk, terwyl ander steeds alkohol verkoop het of betrokke was by sosiale byeenkomste.

Volgens Lehari handhaaf mense ook nie afstand van mekaar by winkelsentrums of OTM’s nie. Die regulasies is ingestel om die verspreiding van die koronavirus in Suid-Afrika hok te slaan.

Botswana

Botswana het intussen sy eerste drie bevestigde gevalle van die nuwe koronavirus (Covid-19) aangemeld.

Dr. Lemogang Kwape, minister van gesondheid in Botswana, het Maandagaand gesê die land se eerste Covid-19-pasiënte is twee mans en ’n vrou wat onlangs vanuit Thailand en die Verenigde Koninkryk na Botswana teruggekeer het. Die pasiënte is onder meer by die Sir Ketumile-hospitaal in Gaborone in kwarantyn geplaas.

Mokgweetsi Masisi, president van Botswana (Foto: ANA)

Mokgweetsi Masisi, president van Botswana, het nou vir kalmte onder burgers gevra en verseker dat die land se regering ’n gebeurlikheidsplan het. “Ons het ons hierop voorberei. Die maatreëls wat ons tot dusver ingestel het, het daarvoor gesorg dat ons een van die laaste lande is om gevalle van Covid-19 aan te meld,” het die president gesê.

Botswana se regering het sowat twee weke gelede besluit om alle amptenare se oorsese reise op te skort in ’n poging om die verspreiding van Covid-19 na dié land te beperk. Burgers is ook afgeraai om te reis.

Volgens die wêreldbarometer Worldometer is altesaam 786 270 bevestigde gevalle van Covid-19 nou reeds wêreldwyd aangemeld, met meer as 37 000 mense wat weens die nuwe koronavirus omgekom het. Altesaam 165 660 het reeds van Covid-19 herstel.

Geen nuwe gevalle in Wuhan

Wuhan, waar die virus aanvanklik uitgebreek het, het te midde van die Covid-19-pandemie vir bemoedigende nuus gesorg. Dié Chinese stad het Maandag vir die eerste keer in byna vier maande geen nuwe gevalle van Covid-19 aangemeld nie. Die virus het in Desember in Wuhan uitgebreek, waarna die stad maande lank as die episentrum van Covid-19 beskou is. Die VSA is nou die episentrum van die virus met 164 266 gevalle en meer as 3 000 sterftes. Dit nadat Italië ’n tydperk lank die episentrum was.

Mense met gesigmaskers loop in die leë strate van Wuhan waar streng noodmaatreëls in plek gestel is. Foto: (Chinatopix via AP)

Italië het reeds 101 739 bevestigde gevalle en 11 591 sterftes aangemeld.

Die Chinese provinsie Hubei, waarin Wuhan geleë is, het Maandag slegs een nuwe sterfte aangemeld. Volgens die Chinese gesondheidsowerhede is geen nuwe gevalle weens plaaslike oordrag op die Chinese vasteland aangemeld nie. Die 48 nuwe gevalle wat wel Maandag op die Chinese vasteland aangemeld is, is van pasiënte wat almal onlangs gereis het.

China het teen Maandag 81 518 bevestigde gevalle van Covid-19 aangemeld en 282 pasiënte is dieselfde dag uit ’n hospitaal in China ontslaan. Meer as 3 300 mense het reeds in die land aan die virus omgekom, terwyl meer as 76 000 van die virus herstel het.

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

6 Kommentare

jongste oudste gewildste
marius

Sit hulle in die selle of is hulle weer vrygelaat ?

JC Venter

Ek sien daar is hordes ander plekke/dorpe in Suid-Afrika waar dit soos normaal gaan, die wetstoepassers is net eenvoudig te min, dan lê die kriminele ook nog op die loer vir elke geleentheid. Hoe gaan die in die groot stedelike swart gebiede, die plakkerskampe, die nedersettings, die landelike gebiede?

Sean

Dra al die staatsamptenare nou rooi dasse soos mnr Trump

JC Venter

Dan, Maroela, help asseblief. Waar kry joernaliste en nuuswebwerwe in hierdie dae hul nuus vandaan? Dit nou om oor te berig wat hier by ons in die land aan gaan. Mag verslaggewers en veldwerkers uitgaan om die situasie op die grond te beloer, in stede, dorpe, die platteland? Mag hulle rond beweeg? Hoe verifieer hulle wat op grondvlak gebeur? Waar kry hulle die nuus vandaan, dit nou buiten wat die regering vir hulle voer en wat hulle van die Korona webwerf af trek?

Jaco

steek daar enige waarheid in gerugte dat die corona virus in ‘n laboratorium in Wuhan geskep is?