Covid-19-samevatting: Meer laboratoriums vir toetse

Argieffoto (Foto: Francisco Seco, AP)

Die Nasionale Gesondheidsdienslaboratoriumdienste het meer laboratoriums beskikbaar gestel sodat pasiënte se toetsuitslae vir Covid-19 vinniger beskikbaar is.

Dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid, het gesê die departement van gesondheid is bewus van ʼn beduidende agterstand in pasiënte se Covid-19-toetsuitslae veral by sommige private laboratoriums wat onder druk verkeer weens ʼn toenemende werkslas.

Volgens Mkhize is daar tans vyf toetsfasiliteite in die land se akademiese hospitale. Dit sluit die volgende hospitale in: Inkosi Albert Luthuli, Charlotte Maxeke, Universitas, Tygerberg en Groote Schuur. Die nasionale instituut vir oordraagbare siektes (Nios) het ook ʼn laboratorium wat as verwysingslaboratorium bedryf word.

Die aantal laboratoriums sal nou na die Tshwane- akademiese hospitaal, Walter Sisulu- en Port Elizabeth-hospitaal uitgebrei word, het die minister gesê.

Daar is ook tans sewe mobiele toetslaboratoriums. Die minister verwag dat die land teen April 47 mobiele toetslaboratoriums oor die hele land sal hê. “Aan die einde van April gaan ons 30 000 toetse per dag kan uitvoer indien nodig,” het Mkhize gesê.

Die departement soek ook na verskaffers van toetstoestelle om in die vraag na dié toestelle te kan voorsien.

Argieffoto (Foto: Rick Bowmer, AP)

Departement werf gesondheidswerkers

Die Gautengse departement van gesondheid werf tans meer gesondheidswerkers om te verseker dat die provinsie wel die vermoë het om ʼn toename in Covid-19-pasiënte te behandel.

Die departement doen ʼn beroep op verpleegsters, aptekers, fisioterapeute, radiograviste asook spraak- en arbeidsterapeute om hulle dienste aan te bied gedurende die pandemie. Die departement het ʼn aanlyn platform bekend as e-Recruitment hiervoor bekendgestel. Die stelsel sal help om die werwing van opgeleide gesondheidswerkers te bespoedig.

DStv

MultiChoice het Vrydag gesê hy sal R80 miljoen opsy sit om die plaaslike vermaakbedryf tydens die Covid-19-pandemie te ondersteun. Die geld sal gebruik word sodat produksiespanne se salarisse vir Maart en April betaal kan word.

“MultiChoice het besluit om verskeie maatreëls in te stel wat daarop gemik is om die inkomste van akteurs, spanlede en kreatiewe denkers wat betrokke is by die produksies, asook die volhoubaarheid van produksiehuise te verseker.”

Foto: http://myciti.org.za/

MyCiti-busse

Die MyCiti-pendeldiens gaan sy bedrywighede vanaf Saterdag inperk in ʼn poging om die verspreiding van Covid-19 hok te slaan

MyCiti-busse sal vir die volgende drie weke slegs passasiers wat noodsaaklike dienste lewer soggens tussen 05:00 en 09:00 en saans tussen 16:00 en 20:00 vervoer.

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

4ntj13 ·

Die kernvrae is:
1.) Wat is NHLS se huidige, werklike wagtydperk vir resultate? Wat is hul vermoë om privaatlaboratoriums te kan (moet!) help met hul agterstand?
2.) Wat is NICD se wagtydperk voor resultate gepubliseer word?
3.) Wat is die akkuraatheid van die toetse, veral in ernstige siek mense reeds op behandeling, en in afgestorwenes?
4.) Is die WGO riglyne vir akkurate diagnose nie op ʼn te laat stadium om die verspreiding te kan stop nie? Dit voel vir my dit word eers geaktiveer omtrent 2 weke na infeksie, en met die huidige wagtydperk bykomend, sal baie uitslae eers post-mortem beskikbaar word. Tog hoor ons nie van so-iets nie. Hoeveel mense is saam met my bang vir hierdie scenario?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.