Covid-19-samevatting: ‘Meer toetse moet gedoen word’

‘n Persoon word getoets vir Covid-19. (Foto: Brian Inganga, AP)

Meer Covid-19-toetse moet so vinnig as moontlik uitgevoer word voordat die algehele landwye afsondering opgehef word. Só meen Siviwe Gwarube, die DA se skaduminister van gesondheid.

Gwarube het Vrydagoggend in ’n verklaring gesê sy gaan ’n skrywe aan dr. Sibongiseni Dhlomo, die voorsitter van die portefeuljekomitee vir gesondheid, rig om te versoek dat die kwessie van toetse op die agenda van die volgende komiteevergadering deur die minister van gesondheid geplaas word.

“As die toets en naspeur van moontlike gevalle in Suid-Afrika nie op groot skaal verhoog word nie, loop ons die gevaar dat die vyf weke van algehele landwye afsondering tevergeefs was. Die funksie van die afsondering is om die oordrag van die virus op groot skaal te verminder en die gesondheidstelsel toe te laat om kapasiteit te bou vir die onvermydelike toename in infeksies,” verduidelik Gwarube in die verklaring.

Gwarube meen Suid-Afrika moet die omvang van infeksies ten volle begryp om sodoende daarvoor te kan voorberei.

Maroela Media het vroeër berig dr. Zweli Mkhize, die minister van gesondheid, het Donderdag bevestig 2 605 persone het positief getoets vir die virus. Altesaam 95 060 toetse is teen Donderdag gedoen.

“Hierdie syfer is nie genoeg as ’n mens die internasionale maatstaf in berekening bring wat vereis dat daagliks minstens 17 000 toetse gedoen moet word nie,” sê Gwarube.

Die land se dodetal staan tans op 48.

Res van Afrika

Die piramides in Egipte is grafstil weens die Covid-19-pandemie. (Foto: Nariman El-Mofty, AP)

Ten spyte van kenners se bekommernis oor die aantal toetse wat in Suid-Afrika gedoen word, is Suid-Afrika steeds die land wat die meeste toetse tot op hede op die Afrika-vasteland uitgevoer het.

Die aantal gevalle Covid-19 op die Afrika-vasteland het intussen die 19 000-kerf oorgesteek. Noord-Afrika is die streek wat die swaarste getref word met meer as 7 500 gevalle.

Volgens die wêreldbarometer Worldometer se statistiek vir die nuwe koronavirus is Egipte die Afrikaland met die meeste gevalle tot op hede aangemeld. Altesaam 2 673 bevestigde gevalle is teen vanmiddag in dié land aangemeld. Die land se dodetal staan tans op 196.

Die Egiptiese gesondheidsowerhede het reeds sowat 25 000 toetse uitgevoer.

Marokko en Algerië het nou elkeen die 2 000-kerf oorgesteek. Die lande het onderskeidelik 2 283 en 2 268 gevalle Covid-19 aangemeld, terwyl Algerië die meeste sterftes van al die Afrika-lande aangemeld het. Die land se dodetal staan tans op 348.

Luidens Worldometer se statistiek het 4 655 mense op die Afrika-vasteland in dié stadium van die nuwe koronavirus herstel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

4 Kommentare

jongste oudste gewildste
Johann

95 000 toetse? In hoeveel DAE? Deur hoeveel GEKWALIFISEERDE persone? In watter areas met watter bevestigde bewys van verblyf? Ja shure…die ANC regering het.oornag bevoeg en bekwaamd en verandwoordbaar geword?

gehasie

Die werkswyse skep n pandemie en beslis nie die virus nie!

Bets

Ja ek dink hierdie word meet n sirkus as n pandemie doen iets en nou op slim en sterk wees maar hoeveel mense al werke en geld verloor dink bietjie hierdie tyd en afsondering het meet skade al verrig as die virus word of skrik net Wakker kom by Julie mos dokters en slim geleerdes

Cherokee

So, 100 000 toetse is gedoen en 54,990,000 is uitstaande. Julle kan gerus vir Zuma vra om hierdie syfer te lees.