Covid-19-samevatting: Myne, uitsaaier gaan voort

Gwede Mantashe (Foto: Twitter)

Mynboubedrywighede gaan nie tydens die algehele landwye afsondering heeltemal opgeskort word nie, hoewel bedrywighede aansienlik afgeskaal sal word, het Gwede Mantashe, minister van mineralebronne en energie, Woensdag op ’n mediakonferensie gesê.

Volgens Mantashe sal myne oor die volgende drie weke steeds steenkool aan Eskom verskaf sodat Suid-Afrikaners se ligte kan aanbly. Dit sal egter ook op ’n kleiner skaal wees. Beurtkrag sal waarskynlik nié in dié tyd ingestel word nie aangesien die vraag na elektrisiteit aansienlik laer sal wees, het die minister verseker. “Nywerheidsverbruikers gaan natuurlik nie in dié tyd in produksie wees nie.”

Mantashe het verder gesê die vraag na brandstof sal tydens die afsondering ook baie laer as gewoonlik wees. Suid-Afrikaners hoef dus nie bekommerd te wees dat daar ’n tekort aan brandstof by vulstasies sal wees nie.

Die kunste

Nathi Mthethwa, minister van kuns, kultuur en sport, het gesê dié bedryf gaan waarskynlik die swaarste kry tydens die volgende drie weke van afsondering. “Ek kan nie dink aan enige ander sektor wat nou meer ondersteuning en solidariteit benodig nie.”

Nathi Mthethwa (Foto: Twitter)

Volgens Mthethwa gaan die departement R150 miljoen geprioritiseer om die bedryf by te staan. Die nasionale rolprent- en videovereniging van Suid-Afrika gaan geld beskikbaar stel aan rolprentfeeste wat gekanselleer moes word weens die Covid-19-uitbreking. R4,5 miljoen word as verligtingsmaatreël vir dié doel geoormerk.

Mthethwa het die openbare uitsaaier gevra om in dié tyd plaaslike inhoud uit te saai sodat plaaslike kunstenaars darem tantieme kan verdien. Die minister raai kunstenaars ook aan om voort te gaan met vertonings hoewel dit aanlyn uitgesaai sal moet word.

Eredienste tydens Pase

Stella Ndabeni-Abrahams, minister van kommunikasie, het gesê DStv en die SAUK sal kanale beskikbaar stel wat eredienste op Paassondag sal uitsaai. Suid-Afrikaners kan dus op dié dag na verskeie kerkdienste in hul huise kyk.

Platform vir familieboere gedurende afsondering

Die landbounetwerk vir familieboere, Saai, het ’n webgebaseerde platform vir familieboere en hul werkers geskep waar noodsaaklike reisdokumente tydens die landwye afsondering opgelaai kan word.

Dr. Theo de Jager, Saai se uitvoerende direksievoorsitter, het in ’n verklaring gesê landbou- en voedselvoorsieningverwante operasies, insluitend boerdery-, veeartsenykundige en plantegesondheiddiensverskaffers, plaagbeheerdienste en chemiese en kunsmisverskaffers is geklassifiseer as noodsaaklike dienste vir volgehoue sake wat die gesondheid en veiligheid van Suid-Afrikaners ondersteun.

dr-theo-de-jager-01

Dr. Theo de Jager, direksie voorsitter van Saai. Foto: Verskaf.

Volgens De Jager gaan familieboere en hul werknemers tydens hierdie tydperk na en van plase moet reis om in staat te wees om hulle onderskeie funksies en take te verrig.

Francois Rossouw, uitvoerende hoof van Saai, verduidelik dat dié webgebaseerde platform enige persoon wat as noodsaaklike dienste vir volgehoue sake in die landbousektor geklassifiseer word, toelaat om noodsaaklike dokumente op te laai ten einde te bewys dat hulle reise wel wettig is binne die staat van inperking.

“Die stelsel stuur dan ’n e-pos na deelnemers wat ’n PDF-dokument met al hulle inligting bevat. Saai sal ook ’n kaartjie aan intekenaars WhatsApp met ’n QR-kode wat al die nodige inligting sal bevat,” verduidelik Rossouw.

Luidens die verklaring is QR-tegnologie vrylik beskikbaar en kan by enige app-winkel afgelaai word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Johan Venter ·

EN: Die besoekers aan al Sanparke se vakansieoorde ook wildtuine, moes teen vanoggend op die laaste die parke en oorde verlaat tot verdere kennisgewing. Als is doodstil. Ook die Krugerpark is leeg. Wat ‘n saligheid vir die diere en as die mens die dag terug mag kom, is alle diere weer wild en verskrik, selfs die rooibokke.

Mens gun hulle dit!

Michael 1 ·

Dit is die enigste positiewe ding wat hieruit gaan kom die natuur sal gedeeltelik terugkeer na wat dit behoort te wees.

Michael 1 ·

Weet hulle dat daar goud,platinum en croom myne ook in sa is en dat hulle op total lockdown is.

PieterP ·

Netnou gelees steenkool en goudmyne gaan voort alhoewel op kleiner skaal wat dit ookal vir hulle sou beteken.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.