Covid-19-samevatting: Nog 17 herstel in ’n tronk

Argieffoto Foto: veooz.com

Die departement van korrektiewe dienste het Maandag gesê nog 17 Covid-19-pasiënte in die tronk het van die nuwe koronavirus herstel. Altesaam 20 pasiënte in die tronk, hetsy gevangenes of korrektiewe beamptes, het reeds herstel.

Die departement het egter vyf nuwe gevalle aangemeld.

Singabakho Nxumalo, woordvoerder van die departement, het in ’n verklaring gesê vier korrektiewe beamptes en een gevangene van ’n tronk in Goodwood in die Wes-Kaap het positief getoets vir Covid-19. Die departement het tot dusver 154 gevalle van Covid-19 aangemeld.

Een sterfte word ook in dié stadium in die Wes-Kaap ondersoek om te bepaal of die pasiënt weens Covid-19-komplikasies omgekom het.

Franchise-groep kry swaar

Die franchise-groep Famous Brands het Maandag gesê die groep se omset het die afgelope vyf weke afgeneem, weens die instelling van die afsonderingsregulasies. Die impak van die Covid-19-pandemie op sy besigheid het wel verskil afhangende van restaurante se geografiese ligging.

Famous Brands is die eienaar van restaurante soos Steers, Wimpy, Debonairs, Fishaways en Mugg & Bean.

Die groep het gesê die meerderheid van sy restaurante in Afrika, die Midde Ooste en die Verenigde Koninkryk moes noodgedwonge tydelik sluit weens landwye afsonderings wat in dié lande ingestel is om die verspreiding van Covid-19 hok te slaan.

Die groep se restaurante in Angola, Botswana, Ethiopië, Kenia, Malawi, Mauritius, Mosambiek, Namibië, Nigerië, die Verenigde Arabiese Emirate, Zambië en Zimbabwe kon egter oop bly, hoewel dié restaurante slegs ’n beperkte diens kan lewer, het Famous Brands gesê.

Die groep het ook sy vervaardigings- en logistieke bedrywighede opgeskort behalwe vir ‘n klein onderdeel van direkte verkope aan die kleinhandelmark en een vervaardigingsaanleg wat aartappelprodukte mag lewer tydens die pandemie.

Sommige van die groep se restaurante word wel nou toegelaat om gedurende vlak 4 van die afsonderingstydperk in Suid-Afrika kos af te lewer. “Hoewel die bestuur hoop dat hierdie handelsaktiwiteite ‘n broodnodige hupstoot vir inkomste en moraal gaan bied, weet ons nog nie hoe lewensvatbaarheid hierdie beperkte leweringsaanbod is nie,” het Famous Brands bygevoeg.

Slegs enkele Covid-19-toetse in Pretoria gedoen

pretoria-jakaranda-stad-sa-tourism-flickr-com

Pretoria. Argieffoto: SA Toerisme/Flickr.com

Jack Bloom, die DA se woordvoerder vir gesondheid in Gauteng, het gesê hy is besorg dat daar steeds te min Covid-19-toetse in Pretoria uitgevoer word.

“Dit blyk dat die kriteria vir toetsing in Pretoria te beperk was, en talle Covid-19-gevalle kon moontlik misgekyk word, veral omdat daar bevind is dat 50% of meer van besmette mense nie simptome toon nie,” verduidelik Bloom.

Volgens Bloom toon die jongste syfers ’n skerp toename (30%) van Covid-19-gevalle in Pretoria. Altesaam 52 nuwe gevalle is vanaf 29 April (149) tot 2 Mei (201) in dié metro aangemeld.

Ekurhuleni, met ‘n soortgelyke grootte bevolking, het gedurende dieselfde tyd met 31 gevalle gestyg van 318 tot 349.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

david ·

Is die risiko vir verspreiding van die virus dalk groter binne die tronke?
Dis ‘n welbekende feit dat SA se tronke heeltemal oorbevolk is.
Dit bring mens by die vraag oor Mense van onnodiglik aangehou word
–byvoorbeeld…Die Doodskis twee..eers op parool vrygelaat en toe , sonder
enige rede weer aangehou word…
Ook Janusz Walus, –die man het sy vonnis uitgedien….waarom word hy steeds ingehok..?
Wat sou die situasie wees, indien enige van hierdie gevangenes die Virus in die tronk opdoen
en te sterwe kom ? Daar kan geredeneer word dat in hulle geval, die betrokke minister
verantwoordelik gehou kan word vir hulle gesondheid…! Buite die tronk was hulle veiligheid
hulle eie verantwoordelikheid…
Die Wet het mos die beginsel van..”jy kon voorsien het…”

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.