Covid-19-samevatting: Nog twee uit SA toets positief in Namibië

(Argieffoto)

Namibië het nóg twee Covid-19-gevalle bevestig van mense wat uit Suid-Afrika na daardie land gereis het.

Dr. Kalumbi Shangula, minister van gesondheid en maatskaplike dienste in Namibië, het gesê ʼn 66-jarige Namibiese vrou en ʼn 28-jarige Namibiese vrou het albei positief vir die virussiekte getoets terwyl hulle in kwarantyn was. Nie een van die twee vroue het simptome van die virus getoon nie.

Namibië het in dié stadium 18 bevestigde gevalle van Covid-19, van wie 14 reeds herstel het. Geen sterftes is nog weens die nuwe koronavirus daar aangemeld nie.

Dit is die eerste keer in 45 dae dat ʼn nuwe Covid-19-geval in Namibië bevestig word.

Kunstenaars uit Turkye eindelik tuis

(Argieffoto)

Die 29 jong kunstenaars wat in Turkye gestrand was, het Vrydagaand eindelik in Suid-Afrika aangekom.

Die groep was op pad terug na Suid-Afrika toe vlugte skielik weens die Covid-19-pandemie opgeskort is. Maroela Media het vroeër berig die Turkse regering het die studente in hul universiteitskoshuise laat aanbly en hulle het daagliks maaltye tydens die afsonderingstydperk in daardie land ontvang.

Die departement van sport, kuns en kultuur sê die groep kom glo uit benadeelde agtergronde en kon nie die vliegkaartjies bekostig vir ʼn vlug wat op 22 Mei na Suid-Afrika vertrek het nie.

Hulle het nou met ʼn vlug wat die Turkse regering gereël het om sy burgers wat nog in Suid-Afrika en sy buurlande gestrand was te repatrieer, na Suid-Afrika teruggekeer.

“Hulle het gisteraand aangekom en is na ʼn staatsfasiliteit vir verpligte kwarantyn geneem,” het die departement Saterdag gesê.

“Ons is gelukkig dat die jong kunstenaars terug is op tuisbodem en dat hulle binnekort met hul gesinne herenig kan word.”

Talle ander Suid-Afrikaners is steeds in die buiteland gestrand nadat geskeduleerde vlugte weens die uitbreking van die nuwe virussiekte opgeskort is.

Korrektiewe dienste

Die getal bevestigde Covid-19-gevalle by die departement van korrektiewe dienste (DKD) staan intussen op 703, nadat nog drie amptenare in die Wes-Kaap positief vir die nuwe virussiekte getoets het.

Altesaam 703 gevangenes en 471 beamptes het tot dusver positief vir Covid-19 getoets.

Altesaam 137 gevangenes en DKD-beamptes het van die siekte herstel.

Die meeste voorvalle is steeds in die Oos-Kaap, waar 487 amptenare en gevangenes Covid-19 opgedoen het. Dit word gevolg deur die Wes-Kaap, waar die getal op 192 staan.

Werkloosheidsversekeringsfonds pas stelsel vir vlak 4 aan

(Foto: Facebook)

Die Werkloosheidsversekeringsfonds (WVF) doen aanpassings aan sy betaalstelsel nadat Suid-Afrika sowat twee weke gelede van vlak 5 van die afsonderingsregulasies na vlak 4 afgewentel is.

Die departement van arbeid sê dit beteken sommige ondernemings gaan steeds vir álle werkers eise indien, terwyl ander dalk nou net vir sommige hoef te eis nadat hulle weer hul bedrywighede kon hervat.

Die stelsel word die naweek getoets.

Daar is steun vir ʼn voorstel dat die WVF geld direk in werkers se rekeninge inbetaal en nie deur werkgewers of bedingingsrade werk nie.

“Ons het talle klagtes gekry van werkers wat nie hul salarisse gekry het selfs nadat die WVF die werkgewers betaal het nie. Dié en ander redes het gelei tot die departement se pleidooi aan Nedlac-rolspelers om die WVF toe te laat om geld direk aan werkers te betaal,” het Teboho Maruping, kommissaris van die WVF, gesê.

Selfs al word die geld direk aan werkers betaal, sal daar steeds van werkgewers verwag word om die eise in te dien. Die werkgewers sal ook steeds sien wat aan hul werkers uitbetaal is.

Die stelsel is intussen ook aangepas om voorsiening te maak vir die wysiging van bankbesonderhede vir werkers wie se betalings afgekeur is omdat hul bankbesonderhede nie bevestig kon word nie.

Die WVF sê hy het sedert 16 April meer as 204 177 geldige eise van meer as 2,6 miljoen werkers verwerk en nagenoeg R14 miljard is reeds uitbetaal.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Venter ·

Covid 19 maar net nog n fase wat holrug gery gaan word en In tussen tyd staan SA op die rand van hongersnoot en daar word nog steeds besluite geneem deur regering wat nog meer skade aanrig kom regering maak die besluite vir landburgers en nie ras gedreef ons almal is Suid Afrikaners hier gebore niks te doen met vorige voorvaders

Ben ·

Nou moet jy sien hoeveel “bogus” werkers daar gaan uitdop. Alweer honderde nuwe miljoeners. Lagwekkend. En niemand gaan enige iets daaraan doen nie.

Anel ·

Hulle kon oorsee gaan. Toe was hulle nie benadeel nie. Nou met die terugkom sal is hulle ewe skielik benadeel. Hoe lank wil hulle nog benadeel wees? Het hulle geen trots of skaamte nie? Ek het gehoor van jongmense wst tit R 35000 vir retoerkaartjie moes betaal. Dit is veregaande. Die mense moet oorsee gaan werk vir inkonste en hierdie ander lot het soort van gaan vakansie gehou. Wat ‘n siek spul.

Baardman ·

Die metode van verslaggewing begin my irriteer en skep n negatiewe houding. As die berig sou lees: “slegs 4 persone is nog positief agv covid 19”, sou almal al beter af wees

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.