Covid-19-samevatting: Nuuskameraman sterf

Lungile Tom (45), ‘n eNCA-kameraman, het weens Covid-19 gesterf. (Foto: eNCA)

ʼn Kameraman van eNCA is een van die jongste slagoffers van die Covid-19-pandemie.

eMedia Investments het Woensdag gesê Lungile Tom (45), verbonde aan sy kantoor in Kaapstad, is Sondagaand met Covid-19-verwante simptome in ʼn hospitaal opgeneem. Hy het toetse ondergaan en is na die intensiewe sorgeenheid oorgeplaas. Die toetse het bevestig dat hy die virussiekte opgedoen het.

Hy is Woensdagoggend dood.

Antonio Lee, bedryfshoof van eMedia, het gesê Tom het in Desember 2013 by die maatskappy aangesluit.

“Lungile was bekend vir sy ongelooflike groot persoonlikheid en sy toewyding aan sy werk. Sy uitbundige lag gaan gemis word. Ons gedagtes is by sy vrou, Nandipha, asook sy kinders,” het Lee gesê.

Lee sê die geraakte afdeling is ingevolge regeringsregulasies gesluit en ontsmet.

Die maatskappy het ook met ʼn proses begin om diegene op te spoor met wie Tom in aanraking gekom het.

Kollegas wat met hom in aanraking was, is gevra om tuis te bly. Hulle sal vir die virussiekte getoets word en in selfisolasie gaan.

Die Suid-Afrikaanse Nasionale Redakteursforum (Sanef) het ook sy medelye met Tom se familie, vriende en kollegas betuig.

“Sanef glo die tragiese sterfte dui op die geweldige gevaarlike werk wat verslaggewers op die voorste linie doen. Ons doen ʼn beroep op alle mediamaatskappye om joernaliste van beskermende toerusting te voorsien en vra verslaggewers om alle veiligheidsmaatreëls te volg.”

Sanef het ook gevra dat maatskappye hul verslaggewers met traumaberading bystaan.

Kommer oor dokters se toetsuitslae

(Argieffoto: Vincent Thian/AP)

Die DA het intussen die dringende vergadering van die Raad vir Mediese en Tandheelkundige Beroepe verwelkom om te beraadslaag oor die uitslae van 100 dokters wat in die buiteland gekwalifiseer en hul praktiese eksamen in Januarie vanjaar afgelê het.

Talle van die dokters is Suid-Afrikaners wat al in Maart hul uitslae moes ontvang het. Die Raad op Gesondheidsberoepe (RGB) het egter gesê weens die Covid-19-pandemie is al die raad se vergaderings afgestel.

Die DA sê talle dokters het hulle gekontak oor die vertraging om ʼn vergadering byeen te roep omdat hulle gretig is om te begin help in die stryd teen die Covid-19-pandemie.

“Dit is ongelukkig dat dit die raad nou amper twee maande neem om ʼn vergadering te hou sodat die uitslae bespreek kan word terwyl Suid-Afrika kniediep in ʼn pandemie is,” het Haseena Ismail, ʼn DA-lid van die portefeuljekomitee oor gesondheid gesê.

Ismail sê Suid-Afrika is so desperaat dat hy selfs die hulp 214 Kubaanse dokters teen die astronomiese koste van R500 miljoen bekom het. Dít terwyl Suid-Afrikaanse dokters wíl werk, maar die raad se onwilligheid om by die huidige omstandighede aan te pas, in hul pad staan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Hekwag ·

Die sloerdery is doelbewus. Kuba kry miljoene rande op die manier van die buiteland in en gebruik dit dan weer vir allerhande onderduimshede ala VSA.

capie ·

Moet die Kubaanse “dokters” nie ook eers getoets word voor hulle hier mag werk nie. Dit is mos net regverdig. Ek wet nie waar die ander dokters opgelei is en wat die standaarde daar is nie, maar al is dit in ‘n eerste wereldse land met uiters hoë standaarde, word hulle in elk geval gestoets. Net so vir die Kubane.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.