Covid-19-samevatting: Personeel by Tigerbrands toets positief

Argieffoto ter illustrasie (Foto: Twitter)

Tigerbrands het sy bakkery in Durban in KwaZulu-Natal tydelik as voorsorgmaatreël gesluit, nadat personeellede positief getoets het vir die nuwe koronavirus wat Covid-19 veroorsaak. Dit is nie duidelik hoeveel personeellede Covid-19 opgedoen het nie.

Luidens ’n verklaring op Tigerbrands se webwerf moet alle personeellede nou vir Covid-19 getoets word.

“Die maatskappy het die besluit geneem [om die bakkery te sluit] in ooreenstemming met bestepraktykprotokol en in die belang van die gesondheid en veiligheid van al sy werknemers by die bakkery, wat die grootste prioriteit is,” lui die verklaring.

Altesaam 519 gevalle is teen Woensdag in KwaZulu-Natal aangemeld. Altesaam 2 506 gevalle Covid-19 is in dié stadium oor die land aangemeld. Die dodetal staan tans op 34.

Eswatini verleng afsondering

Ambrose Mandvulo Dlamini (Foto: ANA)

Die gedeeltelike landwye afsondering in Eswatini (Swaziland) is met drie weke verleng. Die verlenging is Woensdag om middernag ingestel, het Ambrose Mandvulo Dlamini, eerste minister van Eswatini, gesê.

Die land het ’n gedeeltelike afsondering op 27 Maart ingestel. Dié afsondering sou aanvanklik ná 20 dae opgehef word.

“Die verlenging van die afsondering met nog 21 dae sal die land meer tyd gun om die verspreiding van die virus hok te slaan en te verhoed dat dit ons gesondheidstelsel oorweldig. Dit sal ons genoeg tyd gee om die kurwe te laat afplat,” het Dlamini gesê.

Altesaam 16 gevalle van Covid-19 is tot op hede in dié land aangemeld.

Soedan stel afsondering in

Gesondheidswerkers in Soedan (Foto: ANA)

Die Soedannese regering het intussen ’n algehele afsondering van drie weke ingestel. Die afsondering tree Saterdag in werking en geld vir die hoofstad Khartoem en die stad Omdurman.

Kruidenierswinkels en apteke sal gedurende die afsondering oopbly.

Altesaam 32 gevalle van Covid-19 is in dié stadium in Soedan aangemeld. Vyf pasiënte in die land het reeds weens die virus gesterf.

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Eerlik ·

Ek bekommer my oor items wat ons aankoop by kruideniers winkels en by die huis in dra en spuit dus maar die ou santizertjie oor alles, nou bevestig die reuse vervaardiger van bykans alles wat stapel voedsel is, Tigerbrands, dat daar positiewe gevalle in hulle fabriek is. Ek sou dink dat voedsel vervaardigers juis ekstra versigtig moet optree om nie die virus op te doen nie, dit kan n hengse katastrofe afgee. Ek kan met sekerheid se dat die kruideniers winkels/store beslis nie elke item wat in hulle pakhuise afgelewer word, ontsmet nie.

Oopkop ·

`n Bakkery in Durban is sekerlik nie Tigerbrands se fabriek nie. Die berig meld dat die bakkery gesluit is en die res van die personeel getoets word. Die regte optrede word dus gevolg. Nietemin deel ek die kommer oor hantering van produkte deur alle rolspelers.

Cherokee ·

Waar kom die muesli (Jungle) wat ek in Durban koop, vandaan?

marius ·

Kan die uwe dokter asseblief verduidelik of die virus homself uitwis en of ‘ n mens dit eers moet kry , dan herstel om imuun te wees . In reguit leke taal ASB

Maria Magdalena ·

Is Albany brood veilig om te eet Al is die omhulsel gesteriliseer?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.