Covid-19-samevatting: Polisiestasie ontsmet ná positiewe geval

(Foto: pixabay)

Die Garsfontein-polisiestasie in die ooste van Pretoria word ontsmet nadat ʼn Covid-19-geval daar bevestig is.

Kol. Noxolo Kweza, polisiewoordvoerder in Gauteng, het gesê die gemeenskapdienssentrum is tydelik na ʼn perseel langs die polisiestasie verskuif.

Inwoners is intussen gevra om sake eerder by die Brooklyn-polisiestasie aan te meld.

Kweza kon nie sê by hoeveel polisiestasies in Gauteng Covid-19-gevalle bevestig is nie en het gesê net die minister van polisie, Bheki Cele, maak dié syfers bekend.

Die polisie het vroeër vandeesmaand ook sy hoofkantoor in die middestad tydelik gesluit nadat een van die beamptes daar positief vir die virussiekte getoets het.

Landwyd is tientalle polisiestasies al ontsmet in ʼn poging om die verspreiding van die virus te stuit.

Nóg ʼn Tshwane-metropolisielid positief

(Argieffoto: Tshwane-metropolisie)

ʼn Vierde lid van die Tshwane-metropolisie het ook positief vir Covid-19 getoets, het sr. supt. Isaac Mahamba, woordvoerder, Woensdag gesê.

Mahamba het gesê die jongste slagoffer, ʼn vrouekonstabel, het haar toetsuitslag Dinsdag gekry nadat ʼn kollega ook positief vir Covid-19 getoets het.  Dié vrou is in die hospitaal opgeneem.

Die geraakte beamptes werk in die Mercedes-Benz-gebou in die Pretoriase middestad wat ook die metropolisie se spesialiseenhede huisves. Die metropolisie se oproepsentrum is in dieselfde gebou geleë.

Mahamba het gesê die gebou sal tot minstens Vrydag gesluit wees vir ontsmetting.

Twee ander metropolisiebeamptes wat ook positief vir Covid-19 getoets het, sterk by die huis aan.

Gesondheidsprotokolle opgeskerp ná eNCA-anker virus opdoen 

Shahan Ramkissoon, ‘n anker by eNCA, het ook positief vir Covid-19 getoets. (Foto: eNCA)

eNCA het intussen bevestig dat Shahan Ramkissoon, ʼn anker by die nuuskanaal, ook positief vir Covid-19 getoets het.

Ramkissoon het verlede week begin siek voel en is Vrydag aangeraai om ʼn Covid-19-toets te ondergaan. Sy uitslag het Maandag positief teruggekom. Ramkissoon is in dié stadium in self-isolasie.

Die eNCA-anker is deel van ʼn span in die kanaal se Johannesburgse kantoor wat agt weke gelede opgestel is as deel van die uitsaaier se rampbestuursplan. Die ateljee is opgestel om die risiko van Covid-19 te bestuur en die getal werkers wat in ʼn enkele afdeling werk, te beperk.

Dié ateljee is heeltemal afgesonder van die kanaal se hoofuitsaai-afdeling en geen bedrywighede word geraak nie, het eNCA in ʼn verklaring gesê.

Alle ander werkers wat dieselfde skof in die isolasieateljee gewerk het, is huis toe gestuur. Die maatskappy is ook besig om enige werkers wat moontlik aan die virus blootgestel is, te identifiseer.

eNCA sê hy het nou selfs verdere maatreëls ingestel, waaronder die gebruik van afsonderingskerms, in ʼn poging om werkers teen die virus te beskerm.

Lungile Tom (45), ‘n kameraman verbonde aan eNCA se kantoor in Kaapstad, is verlede maand weens Covid-19 dood.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

NetM ·

Mooinooi se polisie stasie was ook gesluit. Glo 20 gevalle gehad…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.