Covid-19-samevatting: Prins Charles toets positief  

Die koningklike familie (Chris Jackson/Pool Photo)

Die Britse troonopvolger, prins Charles, het positief vir die nuwe koronavirus oftewel Covid-19 getoets.

Clarence House het dié nuus Woensdagoggend in ’n verklaring bevestig.

Luidens die verklaring het die 71-jarige prins Sondag ligte simptome begin toon waarna hy Maandag vir die virus getoets is. Hy het sy uitslae Dinsdagaand ontvang.

“Charles is andersins gesond,” lui die verklaring. Hy sterk tans tuis in selfisolasie in Skotland aan saam met sy vrou, Camilla, die hertogin van Cornwall. Sy het negatief vir Covid-19 getoets.

Luidens die verklaring is dit nie moontlik om vas te stel by wie die prins aangesteek het nie weens die groot aantal sosiale geleenthede wat hy die afgelope weke as openbare figuur moes bywoon.

Die prins het koningin Elizabeth sowat twee weke gelede gesien. Buckingham-paleis het reeds bevestig dat die 93-jarige koningin gesond is.

Byna 435 000 bevestigde gevalle van Covid-19 is in dié stadium reg oor die wêreld aangemeld.

Strenger maatreëls word van Woensdag in Egipte geïmplementeer. Die land het Dinsdag 402 gevalle van die virus aangemeld. Twintig mense in dié land het reeds weens die virus omgekom.

Die nuwe maatreëls behels beperkte werksure vir die volgende 15 dae.

Sakkara, Egipte (Foto: Thomas Dreyer)

Mostafa Madbouly, die land se eerste minister, het gesê landsburgers mag vir die volgende twee weke slegs tussen 07:00 en 18:00 buite hul huise beweeg. Openbare vervoer sal gesluit wees buite dié ure.

Diegene wat dié maatreëls verontagsaam kan ’n boete of tronkstraf opgelê word.

JSE

Die Johannesburgse aandelebeurs (JSE) sal soos gebruiklik voortgaan tydens die algehele landwye afsondering wat môre in Suid-Afrika begin.

Leila Fourie, uitvoerende hoof van die JSE, het gesê 90% van die JSE se werknemers sal oor die volgende drie weke van die huis af werk. Sekere personeel sal wel ook op kantoor werk, sou dit die verhandeling en verspreiding van inligting vergemaklik.

“Aangesien baie ondernemings moet toemaak sal hul bedrywighede en kontantvloei onder geweldige druk verkeer. Die JSE sal in hierdie tyd ʼn wesenlike rol speel om prysdeursigtigheid moontlik te maak en toegang tot kapitaal te verseker,” het Fourie gesê.

Fourie het daarop gewys dat pres. Cyril Ramaphosa Maandagaand in sy toespraak gesê het dat die JSE ʼn noodsaaklike diens is wat kritieke markinfrastruktuur lewer en ekonomiese momentum handhaaf.

Die regering moet nog ʼn volledige lys publiseer van kritieke dienste wat die volgende drie weke toegelaat sal word om te werk.

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.