Covid-19-samevatting: Ramaphosa spreek nasie weer toe

Pres. Cyril Ramaphosa (Maart 2020) (Foto: Jairus Mmutle/GCIS)

Pres. Cyril Ramaphosa sal na verwagting Dinsdagaand weer die nasie toespreek.

Khusela Diko, Ramaphosa se woordvoerder, het vanoggend in ’n verklaring gesê die president sal vanaand aanvullende ekonomiese en maatskaplike verligting te midde die Covid-19-pandemie aankondig.

Dit is nie in dié stadium duidelik hoe laat Ramaphosa die nasie sal toespreek nie.

Diko het gesê die presidensie sal meer besonderhede omtrent die president se toespraak deur die loop van die dag aankondig.

Nog beamptes, gevangenes toets positief

Argieffoto: ANA.

Intussen het nog 11 korrektiewe beamptes en een gevangene positief getoets vir die nuwe koronavirus. Dit bring die getal bevestigde gevalle van Covid-19 in die 243 korrektiewe sentrums in die land op 111 te staan.

Singabakho Nxumalo, woordvoerder van die departement van korrektiewe dienste, het in ’n verklaring gesê die nuwe gevalle is by die Worcester- korrektiewe sentrum in die Wes-Kaap aangemeld. Die departement het nou reeds 20 gevalle in dié provinsie aangemeld.

Die korrektiewe sentrum in Oos-Londen in die Oos-Kaap is dus nie meer die enigste gevangenis in die land waar gevangenes die nuwe koronavirus opgedoen het nie.

Volgens Nxumalo is geen nuwe gevalle egter in dié provinsie aangemeld nie. Altesaam 31 beamptes en 56 gevangenes in die Oos-Kaap het tot op hede positief getoets vir Covid-19.

Twee korrektiewe beamptes in Limpopo en een korrektiewe beampte by die departement se hoofkantoor het ook positief getoets.

Nxumalo het gesê gevangenes en beamptes by die betrokke gevangenis word nagegaan vir Covid-19. Die korrektiewe sentrums word ook ontsmet.

Nog watertenks in Mpumalanga beskikbaar gestel

Lindiwe Sisulu (Foto: Twitter)

Lindiwe Sisulu, minister van water en sanitasie, het Maandag in ’n verklaring gesê nog 500 watertenks en 56 watertenkers is by verskillende munisipaliteite in Mpumalanga afgelaai.

Altesaam 37 watertenks is onder die plaaslike munisipaliteite in die Ehlanzeni-distrik versprei. Bosbokrand het reeds 45 watertenks ontvang terwyl Mbombela (Nelspruit) 32 ​​ontvang het.

Die watertenks word by die plaaslike munisipaliteite afgelewer, wat dit dan na strategiese plekke sal versprei om te verseker dat mense nader aan hul huishoudings toegang het tot water en dus nie meer lang afstande na water hoef te loop nie. Op dié manier sal mense dus makliker by die regulasies van die algehele landwye afsondering kan hou.

‘Hef afsonderings geleidelik op’

Foto: (Martial Trezzini/Keystone via AP)

Die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) het Dinsdag gesê lande behoort hul algehele landwye afsonderings geleidelik op te hef. Die organisasie het gewaarsku dat infeksie weer sal opvlam indien regulasies te vinnig verslap word.

Volgens Takeshi Kasai, die WGO se streeksdirekteur vir die Westelike Stille Oseaan, blyk ’n afsonderingstydperk effektief te wees in die bekamping van die virus, hoewel mense aan ’n nuwe normaal gewoond sal moet raak.

Kasai het gesê mense sal moet aanpas by die manier van leef tydens ’n pandemie totdat ’n entstof beskikbaar gestel word.

Wil jy op die hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Kliek hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Boortor ·

Jy kan dit op jou maag skryf! Hierdie mense geniet hulle ” powerplay”. Dit sal aangaan verseker.

Rodger17 ·

Alles word net vir die people van cyril gedoen,verwag julle wonderwerke?

Willem ·

Stem sy raadgewers (cele mev zuma, en razz) het ongelukkig nie n idee wat hulle aanvang nie. Die verligting sal slegs vir sy mense wees en nie die ekonomie nie

Genis ·

CR gaan die rykes belas.. Gevanagenes, moet ophou om alerhande besoekers te kry, Bewaarders moet ophouomkoop… Klapperkop moes al lankal water voorsien het.. WHO is te pro China…

Emily ·

Nou moet ons aanpas tot daar n entstof beskikbaar is, Asb man, Julle het voor die virus ons getref het gese, JULLE is gereed. Vlg grap.
Ek hoop net as die ou praat en ons weer onder huisarres plaas, hy tenminste sekere winkels sal oopmaak, sodat mense hulle kopies kan doen.
Wat is dit met die mens, Ons koop maandeliks ons voorraad of dit nou gifpyltjies, drank of kos is, en nou moet ons daarsonder. Word wakker. Julle dink julle is slim totdat mense meer gaan begin plunder.
Wie gaan ons rent, rekeninge, debietorders ens. betaal.
Ons werk hard vir die paar sente wat ons kry.

Jurg ·

Almal kla wat van al die honde en diere wat verlore sit in die shelters hul is afhanklik van helpers en skenking van kos, waar gaan die geld vandaan kom vir hul versorging. Huur moet betaal word veearts kostes is hoog en hul word daagliks gered van uiterste mishandeling. Spca en shelters is oorval laaste ruk

Michael 1 ·

Ons kan teruggaan werk toe maar 1 Mei is vakansie dag en ons sal nie werk nie n mens moet rus ook.

Ronel ·

Ek glo en vertrou op onse VADER dat sekere dinge wat President C Ramaphosa gaan toespreek tot in die belang van ALLE SUID-AFRIKANERS sal wees. Ek hoop nie so nie……….ek glo so en ek vetrou. TE VEEL GAAN AAN ASOF NIKS FOUT IS NIE en so perd moet in die bek geruk word want daar is ander mense wat ook geraak word deur die virus. Party kan nie dink nie en ander wil nie dink nie. Ek vertrou President Ramaphosa se oordeel.

Chris ·

Weet iemand nou al hoe laat gaan Ramaposa praat? Ek verstaan nie hoekom moet word dit nie heel bo aan die Maroela media geadverteer nie.

Sune van Heerden ·

Dagsê Chris

Die presidensie het nog nie bekend gemaak hoe laat die president sy toespraak gaan lewer nie.
Ons sal dit dadelik op Maroela bekend maak sodra die inligting bevestig is.

Groetnis
Suné
nms Maroela Media

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.