Covid-19-samevatting: SAL bring meer as 300 SA’ners van Miami terug

Die SAL het Woensdag die eerste keer in meer as 20 jaar weer na Miami gevlieg (Foto: SouthAfricanAirways, Twitter)

Meer as 300 Suid-Afrikaners het Woensdagaand teruggekeer na Suid-Afrika op ʼn huurvlug van SAL vanaf Miami in die Amerikaanse deelstaat Florida.

SAL in samewerking met Workaway International, ʼn maatskappy wat werksgeleenthede vir jong mense by gholfklubs in Amerika reël, het dié groep Suid-Afrikaners veilig terug by die huis gekry.

Die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) het Woensdag gesê dit gaan die eerste keer in meer as 20 jaar wees dat hy weer na Miami toe vlieg.

SAL het Maandag omstreeks 13:50 ʼn groep van byna 100 Suid-Afrikaners van Accra in Ghana na Suid-Afrika gerepatrieer. Dieselfde dag omstreeks 00:30 het altesaam 120 Suid-Afrikaners weer huis toe gekom nadat hulle ten tyde van afsondering in Nigerië gestrand was.

Van die SA’ners wat van Ghana na Suid-Afrika teruggebring is (Foto: FlySAA, Facebook)

Meer as 200 Suid-Afrikaners is die afgelope naweek van die Heathrow-lughawe in Londen terug na Suid-Afrika gerepatrieer.

Meer as 4 000 passasiers is die afgelope paar weke al uit en na Suid-Afrika teruggevlieg in repatriasievlugte van SAL.

Tlali Tlali, woordvoerder van die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL), het vroeër aan Maroela Media gesê 18 repatriasievlugte en twee huurvlugte is vir die volgende twee weke geskeduleer om gestrande Suid-Afrikaners veilig huis toe te bring.

Lunga Ngqengelele, woordvoerder van Dirco, het ook gesê hulle neem kennis van al die Suid-Afrikaanse burgers wat steeds in die buiteland gestrand is. Meer as 3 000 Suid-Afrikaners het reeds met hulle kontak gemaak en aangedui dat hulle in die buiteland gestrand is.

Kaapse taxivereniging sorg vir hul bestuurders

Die kospakkies wat aan taxibestuurders uitgedeel word (Foto: Amien Carelse, ANA)

Green Cabs, ʼn taxivereniging in Kaapstad, het ʼn inisiatief van stapel gestuur om toe te sien dat hul taxibestuurders nie honger ly tydens die landwye afsondering nie. Hulle het reeds 84 kospakkies uit hul eie sakke aan taxibestuurders uitgedeel.

Amien Carelse, woordvoerder van Green Cabs, het gesê hulle gaan elke week Woensdag tussen 08:00 en 11:00 kospakkies uitdeel. Dié pakkies bestaan uit melk, suiker, koffie, tee, sakke aartappels, visolie, seep, rys, pap, mieliemeel en ingemaakte niebederfbare produkte.

“Die rede waarom ons dit doen, is dat ons weet ons bestuurders kry nie werk nie. Hulle het geen inkomste in dié tyd nie,” sê Carelse.

Carelse sê van volgende week af gaan hulle ook geld vir elektrisiteit aan dié bestuurders verskaf omdat elektrisiteitsrekeninge ook ʼn groot bron van kommer is.

K-way-fabriek vervaardig maskers

Cape Union Mart het sy K-Way-fabriek in Ottery, Kaapstad, heropen en sy fabriek gerig op die vervaardiging van lapmaskers om die verspreiding van Covid-19 te bekamp, asook die broodnodige vraag na lapmaskers te verlig.

Cape Union Mart se fabriek wat ook nou lapmaskers vervaardig (Foto: Alan Winde, ANA)

Die K-Way-fabriek, wat veral bekend is vir die vervaardiging van toerusting en klere vir die buitelug, vervaardig nou polikatoen- en 100%-poliëster-maskers in hul fabriek.

Die maskers bevat omhulsels wat vervang kan word.

Phillip Krawitz, uitvoerende voorsitter van die Cape Union Mart-groep, sê aanvanklike toetsresultate toon dat die 100%-poliëster die geskikste materiaal is om te gebruik. Hulle probeer alle materiaal plaaslik aanskaf. Hulle Keedo-fabriek vervaardig ook 100%-katoenmaskers vir kinders.

Krawitz sê hulle werk tans saam met die Universiteit Stellenbosch om ʼn unieke masker te vervaardig met ʼn filter wat vervang kan word. Die masker gaan uit ʼn spesiale materiaal, wat in Suid-Afrika ontwikkel word, vervaardig word.

Die maskers gaan in pakke van drie verkoop word met 10 ekstra gratis omhulsels vir R99.

“Ons K-Way-fabriek is ook besig met die ontwikkeling van mediese togas en pakke vir mediese personeel. Gelukkig is ons naald-verseëlingstegnologie en naaldvrye metodologie ideaal vir die vervaardiging van hierdie items,” het Krawitz gesê.

Krawitz sê die finansiële uitwerking wat die landwye afsondering op Cape Union Mart het, is enorm.

“Ons het nul omset van ons meer as 300 winkels en ons mag nie ons aanlyn onderneming bedryf nie. Ons het tans meer as 12 000 aanlyn bestellings wat wag om onmiddellik uit te gaan sodra die afsonderingstydperk verby is.”

Covid-19 in Afrika

Eswatini eersteminister Ambrose Mandvulo Dlamini (Foto: ANA)

Ambrose Mandvulo Dlamini, eersteminister van Eswatini, het Woensdag aangekondig dat die land se gedeeltelike afsondering van Woensdag om middernag met drie weke verleng is.

“Hierdie verlenging van 21 dae sal die land help om die verspreiding van die virus te bekamp en te verhoed dat ons gesondheidstelsel oorweldig word,” het Dlamini gesê.

Hy het ook gesê die verlenging sal help om meer gesondheidswerkers op te lei en die nodige mediese toerusting betyds aan te skaf. Ongeveer 50% van alle gesondheidsorgwerkers is reeds opgelei en die res sal gedurende die verlengingstydperk opgelei word.

Die land is reeds sedert 27 Maart in ʼn gedeeltelike afsondering en laerisiko-ondernemings, wat nie noodsaaklike dienste lewer nie, kan steeds onder streng higiëniese toestande bedryf word. Die ministerie van handel en nywerheid sal dié spesifieke ondernemings nog aankondig.

Die land het tot dusver 16 gevalle van Covid-19 aangemeld met agt wat reeds herstel het.

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Rodger17 ·

Wil SAL nou n medalje hê vir die mense wat hulle teruggebring het!Julle moes lankal gesink het met jul korrupsie,nou is jul time to shine!

Michael 1 ·

Die kospakies aan taxi’s is belaglik ,is daar nie arm mense of bergies vir wie hulle dit kan gee nie?Ek dink die maskers moet verniet gegee word ,die maatskappye wat nou almal maskers vervaardig het in beter tye goeie winste gemaak.

Ivana ·

Ek hoop regtig die klomp wat van oraloor teruggebring is SA toe word ook 3weke iewers apart in kwarantyn geplaas anders sit ons met nog groter getalle op hande as wat huidiglik die geval is. Jy kan nie 1 klomp in kwarantyn sit en die res word landswyd losgelaat nie. Ek hoop daar is iemand met iets tussen die ore wat daaraan gedink het

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.