Covid-19-samevatting: Toename in gevalle in Wes-Kaap ‘kommerwekkend’

Dr. Zweli Mkhize (Foto: Zweli Mkhize/Twitter)

Dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid, het sy kommer uitgespreek oor die stygende getal Covid-19-gevalle in die Wes-Kaap nadat dié syfer teen Donderdagaand op 3 994 te staan gekom het. Dit is byna die helfte van die 8 232 bevestigde gevalle tans in Suid-Afrika, het die minister uitgewys.

Volgens Mkhize sal die regering dringend meer voorsorgmaatreëls moet tref om groepuitbrekings in dié provinsie hok te slaan. “Wat ons in die Wes-Kaap sien, word groepuitbrekings genoem. Ons moet ’n meganisme vind om in daardie gebiede in te gaan om die uitbreking beter te hanteer,” het die minister gesê.

Mkhize het gesê hy is veral bekommerd oor metropolitaanse gebiede wat hoërisikogebiede geword het met verskeie fabrieke en supermarkte wat reeds gedwing is om te sluit nadat personeellede positief getoets het vir die nuwe koronavirus wat Covid-19 veroorsaak.

Die minister beplan om binnekort na die Wes-Kaap te reis om ondersteuning te bied en ondersoek in te stel oor waar die provinsiale gesondheidsdiens versterk kan word. Volgens Mkhize sal pres. Cyril Ramaphosa ook eersdaags die provinsie besoek.

Noordwes

Mpho Khunou, uitvoerende burgemeester van Rustenburg,. (Foto: ANA)

In Noordwes het Mpho Khunou, uitvoerende burgemeester van Rustenburg, gesê dat niemand sonder ’n masker op sy of haar gesig in dié dorp se munisipale geboue toegelaat sal word nie.

“Met die heropening van ons Missionary Mpheni-huis en die lisensiekantore vir die publiek wil ons dit weer eens bevestig dat jou veiligheid van kardinale belang is en dat basiese veranderinge in individuele gedrag en higiëne die doeltreffendste manier is om infeksie te voorkom,” het Khunou in ’n verklaring gesê.

Munispale dienste in Rustenburg sal geleidelik vanaf 12 Mei voortgesit word nadat sekere dienste gestaak is te midde van die algehele landwye afsondering. Personeel in die begroting- en die tesourie-afdeling wat verantwoordelik is vir die munisipaliteit se inkomstebestuur, sal Maandag weer begin werk, waarna personeel in die fakture-afdeling Dinsdag sal inklok, het die burgemeester gesê.

Altesaam 40 bevestigde gevalle van Covid-19 is tot op hede in Noordwes aangemeld. Die provinsie het nog geen sterftes weens die virus aangemeld nie.

Afrika

(Foto: Ng Han Guan/AP)

’n Nuwe studie deur die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) se streekkantoor in Afrika het intussen bevind dat Covid-19 in die eerste jaar van die pandemie enigiets van 83 000 tot 190 000 lewens in Afrika kan eis en soveel as 29 miljoen tot 44 miljoen mense op dié vasteland kan besmet indien beheermaatreëls misluk.

Die studie voorspel dat die aantal gevalle wat mediese behandeling in hospitale sal benodig, die beskikbare mediese kapasiteit in groot dele van Afrika sal oorskry, waarsku die WGO.

Volgens die studie kan tussen 3,6 miljoen en 5,5 miljoen mense in hospitale opgeneem word vir Covid-19, waarvan 82 000 tot 167 000 ernstige gevalle kan wees wat suurstof benodig. Tussen 52 000 tot 107 000 pasiënte kan in ’n kritieke toestand verkeer en kan asemhalingsondersteuning benodig.

’n Opname van gesondheidsdienste in die Afrika-streek wat in Maart 2020 geneem en gebaseer is op verslae van 47 lande verbonde aan die WGO, het ook onthul dat daar gemiddeld nege beddens vir intensiewe sorg in hospitale beskikbaar is. Dié aantal beddens sal onvoldoende wees indien die studie se beramings werklikheid word.

“Hoewel Covid-19 waarskynlik nie so eksponensieel in Afrika sal versprei soos elders ter wêreld nie, sal dit waarskynlik in hoërisikogebiede uitbreek,” het dr. Matshidiso Moeti, die WGO se streeksdirekteur vir Afrika, gesê.

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

26 Kommentare

Burgermeester ·

Ek sal graag wil weet, hoeveel meer mense word getoets in die Wes-Kaap in vergelyking met al die ander provinsies. Ek vermoed die Wes-Kaap is meer pro-aktief en effektief as van die ander provinsies, en dus word meer mense getoets, dus word meer mense wat Covid-19 het geidentifiseer.

antieke antie ·

en hulle toets ook nie eers risiko gevalle as hulle nie simptome het nie

Harold ·

Iets “fishy” is defintief erens aan die gang!Een provinsie so uit lyn met die res???????Nooit.

PH ·

As daar meer toetse in die Wes-Kaap gedoen word, sal daar meer mense wees wat “positief” is.
Logies

antieke antie ·

daar is baie van ander provinsies en lande ook hier….baie beslis nie omdat dit slegter is hier nie….die lot lieg en bedrieg en dink ons is almal soos hulle onopgevoede volgers

Jaco ·

Ek ht n voorstel. Kan MM nie daaglikse syfers elke dag deurgee van sterftes in SA laasjaar op dieselfde datums van hierdie jaar nie van Motorongelukke, Moorde, HIV en TB, alles sterftes wat die regering deur streng maatreels, behandelings ens kon probeer verminder het waaraan hul nie hul naastenby soveel gesteur het as oor die koronavirus nie en dit vergelyk met die daaglikse sterftes aan die koronavirus waroor hulle nou klaarblyklik so bekommerd is. Of gaan dit te polities korrek wees?

Emily ·

In daai dele voel die mense vere, hulle gaan soek drank en sigarette.
En die stories van julle syfers maak nie vir my sin nie.

ooknetmens ·

So, in die ergste geval moontlik deur WHO. Word 190 000 sterftes in AFRIKA aangeteken. Suid Afrika is 58 000 000 van Afrika bevolking van 1 216 000 000. So Suid Afrika is ongeveer 4.77% van die bevolking in die vasteland. As mens dan 4.77% van 190 000 vat beteken dit ons gaan 9 063 sterftes aanteken van Corona in die “worst case scenario”. Onthou jaarlikes verloor ons 19 000 mense aan moorde en 12 000 mense in padongelukke.

Die Wolf ·

Die WHO is n klomp narre. Dit is hoekom Trump vir hulle lag.

Kosie ·

Wie is nog so onnosel naïf om te glo dat hierdie virus iets is wat die belaglike totalitêr beheer regverdig? Dit gaan glad nie oor die virus nie, dit is net die voorwendsel vir totale beheer.

Willem ·

Die syfers van ander prov word gekook maar sal uitkom sodra hulle begin sterf

Jaco ·

toevallig ook die provinsie met die grootste persentasie wit mense en kleurlinge en die enigste provinsie waar die “rassistiese”DA in beheer is.
hierdie syfers word gekook om eendag teen die DA-beheerde Wes-Kaap gebruik te word.

Oujongvrou ·

Jaco dis presies nes jy daar se. Altoos maar die politieke punte wat gewen moet word.

antieke antie ·

ek stem saam
hier is mense met gesonde verstand meestal inbeheer…. en daai magsbehepte ‘diktators’ bewys net hulle onbevoegdheid….. maar dit wys ook hoe maklik hulle mag sal misbruik vir hulle eie gewin..

Rose ·

In die begin van die codvid19 se inval in SA het n video-clip sirkuleer waar n vrou n trollie lek en beweer het net mense van Europese afkoms kry die die virus. Dit is oor sulke onwaarhede dat die virus so vinnig in die informele areas ook verprei het. En steeds beweeg party onverskillig rond en gaan aan asof hulle onaantasbaar is. Ons was vir die afgelope weke baie gehoorsaam en het net winkel toe gegaan toe dit absoluut noodsaaklik was. Maar die jeugdiges is ook onder die wanindruk dat hulle nie vatbaar is nie. Ons het elke middag n realiteits show op die hoek. Hier is n paartjie wat op en af loop en dan helder oordag staan en vroetel en vry in die openbaar. Ek weet dit is meer om reaksie uit te lok as enigeiets anders.

André ·

Komaan mense….dis nie so moeilik om uit te figure nie… Die Weskaap is ‘n DA provinsie….daar is geen manier dat die regering dit sal uitwys as die mees proaktiewe provinsie wat die meeste toetse doen…of uitbasuin dat hier baie herstelle is. Dis hoekom die toets getalle en herstel syfers teruggehou word. Die regte statistieke rakende hierdie virus sal vir die hele land die waarheid uitwys…daar is geen manier dat die regering dit sal toelaat nie.

Lizanda ·

Baie eienaardig, dit laat mens wonder maar wag, wat het Mnr Malema gese van die Wes Kaap???

Martie ·

Daar word meer toetse in die Wes-Kaap gedoen en daarom word daar meer gevalle aangemeld.
Sodra meer toetse in ander provinsies gedoen word, sal daardie getalle ook drasties styg.

J ·

Die ander provinsies toets nie!

As ‘n provinsie GEEN toetse doen nie sal daar geen positiewe besmette mense wees nie.

Dan lyk dit GOED vir die ANC?

Ansie ·

Ek sou graag die getal persone wou weet in die onderskeie gebiede in die Wes-Kaap (maw dorpe, stede, informele nedersettings, “suburbs”). Ons informele nedersettings is baie dig bevolk agv instroming vanaf o.a. Oos-Kaap.

Willem ·

Syfers is n groot geheim ek het al die DA gevra om ondersoek te doen . Dink dis makliker om n bank te beroof as om die DA of VF in die hande te kry

marius ·

Hy is bekommerd , maar bied hulp aan Madagaskar om navorsing te doen oor kruie as teenmiddel ? Kan net sowel die see probeer leegskep met ‘n tee siffie .

Adam ·

Dit is geen verrassing dat die meeste gevalle in Wes-Kaap aangeteken word nie, aangesien dit die provinsie is wat ons vernaamste toeriste bestemming is met Gauteng en Kwazulu-Natal wat ook reuse metropole insluit. Daar kan verder aangeneem word dat die Wes-Kaap se toetsingsprogram waarskynlik die beste bestuur word.

Willem ·

Volgens die DA toets hulle meer effektief en is op die regte groepe ingezoom. Die groot probleem is dat die toetse nie vinnig genoeg gedoen word nie en die agterstand al groter word. Nou is daar dom onnosel anc lede wat die Wes Kaap wil terug vat vlak 5 toe. Ons ekonomie is reeds in sy kanon in

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.