Covid-19-samevatting: Verskeie personeellede by hospitaal toets positief

Argieffoto (Foto: Parentingupstream, Pixabay)

Minstens 12 personeellede by die Morningside Mediclinic in Johannesburg het positief getoets vir die nuwe koronavirus wat Covid-19 veroorsaak.

Die hospitaal het in ’n verklaring gesê een personeellid het onlangs positief getoets vir Covid-19. Meer as 100 mense met wie die personeellid onlangs kontak gehad het, is sedertdien nagespeur.

Luidens die verklaring het die meeste van dié mense negatief vir die virus getoets, hoewel 12 personeellede, van wie sewe gesondheidswerkers, positief getoets het. Hulle is reeds in isolasie geplaas en die nodige protokol is ingestel.

Die hospitaalbestuur het in die verklaring verseker dat die veiligheid van pasiënte, personeellede en dokters voorkeur geniet.

Hlomani Chauke (Foto: ANA)

Raadslede in die sop oor regulasies

Die ANC in Noordwes het drie raadslede se lidmaatskap opgeskort nadat hulle na bewering nie die regulasies van die algehele landwye afsondering nagekom het nie.

Tryphosa Botlhokwane, ’n raadslid by die Moses Kotane- plaaslike munisipaliteit wat Sun City en Pilanesberg insluit, is deur dié munisipaliteit op spesiale verlof geplaas. Dít ná bewerings deur buitelandse handelaars dat Botlhokwane van die munisipaliteit se handreiniger aan hulle verkoop het.

Lerato Selebogo en Alfred Nyamane, albei raadslede by die Ramotshere Moiloa- plaaslike munisipaliteit, wat Zeerust en Groot Marico insluit, is ook oor die kole gehaal oor wangedrag soos uiteengesit in die ANC-grondwet, het die regerende party verduidelik.

“Die ANC beskou die aantygings teen hierdie raadslede in ’n ernstige lig aangesien dit neerkom op groot magsmisbruik en swak dissipline deur sy openbare verteenwoordigers,” het Hlomani Chauke, tussentydse provinsiale komiteekoördineerder, gesê.

Volgens Chauke sal die bewerings rakende die raadslede ondersoek word.

Die Kotoka Internasionale Lughawe (Foto: ANA)

Suid-Afrikaners uit Ghana gerepatrieer

Sowat 100 Suid-Afrikaners is vandeesweek vanuit Ghana na Suid-Afrika gerepatrieer.

Lulana Ximgwana, die Suid-Afrikaanse ambassadeur in Ghana, het die groep Suid-Afrikaners Maandag na die Kotoka Internasionale Lughawe in Akkra vergesel, nadat hulle die nodige toestemming verkry het om huiswaarts te keer.

Volgens Ximgwana het sommige van dié Suid-Afrikaners voor die tydperk van algehele afsondering aan projekte in Ghana vir hul maatskappye gewerk. Ander het vergaderings in dié land bygewoon of by vriende of familie gekuier. “Hulle sou vroeg in April terugkeer, maar weens die afsondering was daar geen vlugte na Suid-Afrika beskikbaar nie.”

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
Anel

En waar is hulke nou? Terug by hulle families. Dit is volwassenes maar 2 kinders mag nie terugkeer huis toe nie. Dis siek man!