Covid-19-samevatting: Vervoervergunning op Sassa-betaaldae

Argieffoto ter illustrasie (Foto: Nardus Engelbrecht, AP)

Busse en taxi’s mag passasiers vandeesweek Maandag tot Vrydag tussen 05:00 en 20:00 vervoer as gevolg van die Suid-Afrikaanse agentskap vir maatskaplike sekerheid (Sassa) se maatskaplike toelae wat vandeesweek aan begunstigdes uitbetaal word.

Fikile Mbalula, minister van vervoer, het in ’n verklaring gesê hy het besluit om gehoor te gee aan verskeie oproepe, onder meer dié van Lindiwe Zulu, minister van maatskaplike ontwikkeling, om vervoertye aan te pas om begunstigdes tegemoet te kom.

Volgens Mbalula behoort passasiers steeds sosiale afstand te handhaaf. Begunstigdes wat vervoer moet word moet hul ID’s en Sassa-kaarte byderhand hou.

Fabriekseienaar vas

Die eienaar van ’n fabriek in Durban is in hegtenis geneem nadat hy 14 werkers sedert Maandag in sy fabriek toegesluit het om maskers te vervaardig te midde van die Covid-19-pandemie.

(Foto: Unsplash)

Nomusa Dube-Ncube, KwaZulu-Natalse LUR vir ekonomiese ontwikkeling, toerisme en omgewingsake, het gesê die departement van arbeid en indiensneming het ’n ondersoek van stapel gestuur in verband met die skending van diensvoorwaardes van die Wet of Beroepsgesondheid en Veiligheid.

Volgens Dube-Ncube het beamptes verskeie winkels en apteke in Durban besoek en vasgestel dat sommige maskers vir soveel as R780 stuk verkoop word.

Gevalle, sterfte in Zimbabwe

Die Zimbabwiese departement van gesondheid het Sondag bevestig altesaam sewe gevalle van die nuwe koronavirus (Covid-19) is in die land aangemeld. Een persoon het reeds in die land weens die virus omgekom.

Vier van die pasiënte het onlangs uit die buiteland na Zimbabwe teruggekeer terwyl die virus aan drie plaaslik oorgedra is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Niné ·

Baie mense kon nie in hulle karre spring, ATM toe ry en hulle trollies propvol laai nie. Baie oumense, gestremdes en armes moes wag vir SASSA. In tye soos die is menslikheid, goedhartigheid en behulpsaamheid wat ons almal gaan deurdra. Niemand het vir die onding virus beplan nie en doen maar hul bes soos die tyd hul leer. Veilig bly.

ZeldA ·

Regtig. Van 5 tot 8…. What a joke. !! En ons besighede moet sluit.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.