Covid-19-samevatting: VF Plus-leier laat hom toets

Dr. Pieter Groenewald. (Foto: VF Plus)

Dr. Pieter Groenewald, leier van die VF-Plus, het hom Dinsdag laat toets vir die nuwe koronavirus wat Covid-19 veroorsaak. Dit nadat Groenewald onlangs gedurende ʼn vergadering in kontak gekom het met eerw. Kenneth Meshoe. Meshoe het intussen positief vir Covid-19 getoets nadat hy ʼn kerkbyeenkoms in Bloemfontein in die Vrystaat bygewoon het.

Groenewald het Woensdag aan Maroela Media gesê hy wag steeds op sy toetsuitslae. Groenewald toon in die stadium geen simptome van die virus nie.

Oppenheimer-familie skenk nog R1 miljard

Mary Oppenheimer en haar dogters het aangekondig dat hulle R1 miljard aan die regering se Solidarity Fund skenk vir die stryd teen Covid-19. Mary Oppenheimer is die dogter van die sakeman Harry Oppenheimer en suster van Nicky Oppenheimer wat ook reeds R1 miljard tot die fonds bygedra het, soos vroeër in Maroela Media berig is.

“Ek en my dogters het lank en hard gedink oor hoe ons die grootste verskil kan maak in hierdie stryd en het besluit dit is om die verligting van die humanitêre nood van almal wat in Suid-Afrika woon, te ondersteun. Ons dink die Solidarity Fund stem die meeste ooreen met ons bekommernisse oor Suid-Afrikaners se basiese behoeftes, kos, medikasie, algemene sorg en geslagsgebaseerde geweld,” het Mary in ʼn verklaring gesê.

OR Tambo- internasionale lughawe (Foto: ANA/verskaf)

Eerste repatriasievlug

Die eerste repatriasievlug het Woensdagoggend vanaf OR Tambo-lughawe in Kempton Park vertrek om Brasiliane uit Suid-Afrika na Brasilië te repatrieer.

Altesaam 321 passasiers het op ʼn vlug van die Brasiliaanse lugredery LATAM na Sao Paulo vertrek. Die vlug se bemanning het nie in Suid-Afrika van die vliegtuig afgeklim nie. Die bemanning het egter uit 16 bykomende bemanningslede bestaan, sodat lede skofte kon ruil met hul aankoms in Suid-Afrika. Die vlug het dus met 16 bemanningslede as passasiers teruggekeer na Brasilië.

Refentse Shinners van die Lughawensmaatskappy van Suid-Afrika het in ʼn verklaring gesê daar was geen groot uitdagings om die nodige reëlings vir die eerste repatriasievlug te tref nie.

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Cherokee ·

re: ‘Die vlug se bemanning het nie in Suid-Afrika van die vliegtuig afgeklim nie’.
Die Queen Mary 2 is op die oomblik by ons. Dit het gisteraand om 10nm hier aangekom. Niemand kan die skip verlaat en die stad verken nie, so hulle is net soos ons in isolasie. Duur seevaarte is ook negatief gestrem. Vul natuurlik proviand aan, en dit is al.

Michael 1 ·

Solank Phillip van Staden gesond bly behoort die VF+ sterk te staan ,die jongman verbaas my met sy deursettingsvermoë en sterk geaardheid hy gaan nog n dela Rey vir die Afrikaner volk word.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.