Covid-19-samevatting: Watertekort, ontvoerings nou volop

(Argieffoto: Aaron Favila, AP)

Die burgerregteorganisasie AfriForum het Vrydag ’n brief aan Lindiwe Sisulu, minister van menslike nedersettings, water en sanitasie, gerig en versoek dat die departement tydens die Covid-19-pandemie aandag sal gee aan verskeie waterkrisisse waaronder gemeenskappe gebuk gaan.

Dié brief volg nadat talle gemeenskappe gekla het oor ʼn verlaagte waterdruk omdat munisipaliteite nie hul waterrekeninge betaal nie. Gebiede wat onder meer geraak word, is Sundra, Brits, Bloemfontein, Qwaqwa, Kamieskroon in Namakwaland en Klippunt in Upington.

Lambert de Klerk, bestuurder van omgewingsake by AfriForum, sê hulle het die waterrade versoek om die waterdruk van wanbetalende munisipaliteite tyd en wyl te verhoog sodat inwoners tydens die tydperk van algehele afsondering toegang tot water kan hê.

AfriForum het sy kommer uitgespreek oor hoe belangrik dit is dat gemeenskappe juis in dié tyd toegang tot water moet hê.

“AfriForum is bereid om die departement van menslike nedersettings, water en sanitasie waar nodig is te ondersteun en sal ook enige ander probleme deurstuur wat onder die organisasie se aandag gebring word,” sê De Klerk.

Intussen blyk dit kinders is sagte teikens tydens die afsonderingstydperk.

Hlengiwe Mkhize, die adjunkminister in die presidensie belas met vroue, kinders en gestremdes, het haar kommer uitgespreek oor die toenemende aantal kinderontvoerings wat aangemeld is sedert die afsonderingstydperk Donderdag begin het.

Argieffoto

’n 14-jarige seun is Sondag met geweld deur sy biologiese pa uit sy ma se huis in Centurion ontvoer. Die pa is in hegtenis geneem en word by die Lyttelton-polisiestasie in Centurion aangehou. Die kind is weer met sy ma herenig.

Mkhize sê dit was roekeloos van die pa om tydens die 21 dae van afsondering na die ma se huis te gaan en die kind sonder toestemming weg te vat.

“Ons wil hê dat ons kinders in hierdie onsekere tyd ten alle tye veilig moet wees,” het Mkhize gesê.

Lindiwe Zulu, die minister van maatskaplike ontwikkeling, het Saterdag gesê ouers wat in aparte huishoudings woon se kinders mag nie tydens die algehele landwye afsondering albei ouerhuise besoek of afwisselend daar bly nie.

Mkhize doen ’n beroep op die polisie om nie gefrustreerde ouers of voogde weg te wys wat onder meer soortgelyke sake van ontvoering wil aanmeld nie. Sy doen ook ’n beroep op die veiligheidsgroepe om veral in dié tyd waaksaam te wees en in die bres tree vir vroue en kinders wat nou gebuk gaan onder geweld.

“Ons versoek ook ouers om te verseker dat kinders in dié tyd versorg word en nie sonder toesig gelaat word nie.”

Covid-19 in Afrika

Nigerië se sentrum vir siektebeheer en -voorkoming (NCDC) het Maandag 14 nuwe Covid-19 gevalle aangemeld. Een persoon het reeds in die land weens die virus omgekom.

Nigerië het tans 111 bevestigde gevalle van dié siekte.

Die Lagos-staat het die meeste gevalle aangemeld en staan tans op 68, gevolg deur Abuja met 21.

Pres. Muhammadu Buhari, president van Nigerië, het gesê die land het die nodige gesondheidsorgmaatreëls, grensveiligheid asook fiskale en monetêre beleid ingestel om verspreiding te bekamp.

In Namibië is minstens 26 vragmotorbestuurders van Suid-Afrika vir 14 dae in kwarantyn in Namibië geplaas. Dié vragmotors het mediese- en voedselvoorraad uit Suid-Afrika na buurlande vervoer. Hulle is in Botswana voorgekeer en etlike dae lank daar gehou.

Verkeersbeamptes het die vragmotors na ʼn parkeerarea naby die Wernhil Park-winkelsentrum in Windhoek begelei. Die vragmotorbestuurders is in kwarantyn geplaas terwyl die voorrade afgelewer is.

Die getal Covid-19 gevalle in Namibië het tot 11 toegeneem.  Al dié gevalle word verbind met reisigers en inwoners wat die land onlangs binnegekom het. Twee van dié gevalle was inwoners van Namibië wat die afgelope maand gereis het en toe weer teruggekeer het huis toe.

Die Khomas- en Erongo-streke in Namibië het van 27 Maart tot 16 April ’n landswye afsondering aangekondig om die verspreiding van die koronavirus te bekamp.

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.