Covid-19-samevatting: Weermag bevestig vier gevalle

(Argieffoto)

Vier bevestigde gevalle van die nuwe koronavirus in die geledere van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW) is aangemeld.

Lt.genl. Zola Dabula, geneesheergeneraal van die SANW, het in ’n verklaring gesê drie van die gevalle is in die Wes-Kaap en een van die gevalle is in Gauteng aangemeld.

Luidens die verklaring is dié lede nie in uniform of deel van die groep wat die polisie tydens die algehele landwye afsondering bystaan nie.

“Dit is noodsaaklik om daarop te let dat die militêre gemeenskap groter is as die SANW. Die militêre gemeenskap sluit in afhanklikes van dienende lede in die weermag, asook afgetrede soldate en ander wat in aanmerking kom vir sorg deur die Suid-Afrikaanse Militêre Mediese Diens,” het Dabula gesê.

Volgens Dabula is fasiliteite vir die doeleindes van isolasie en kwarantyn reeds binne die gemeenskap van die SANW identifiseer.

DA maak groot skenking

Argieffoto

Die DA het Woensdag aangekondig dat hy R1,5 miljoen tot die regering se Solidarity Fund gaan bydra om klein ondernemings by te staan wat tans gebuk gaan onder die algehele landwye afsondering.

Dié finansiële bydrae kom uit die party se openbare verteenwoordigers se sakke, het Solly Malatsi, woordvoerder van die DA, gesê.

Volgens Malatsi gaan dié party ook handreiniger ter waarde van R200 000 aan noodsaaklike werkers skenk.

Die Inkatha Vryheidsparty (IVP) het ook die naweek aangedui dat hy oor die volgende drie maande R500 000 tot die fonds sal bydra.

Duitsland, Rusland vies vir Trump

Pres. Donald Trump praat Dinsdag by die Withuis. (Foto: Alex Brandon, AP)

Die Duitse regering het Woensdag sy misnoeë uitgespreek oor die Amerikaanse president Donald Trump se besluit om dié land se finansiering van die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) te staak.

Volgens Trump het die WGO sy basiese plig versuim vanweë die manier waarop die organisasie op die Covid-19-pandemie gereageer het. In reaksie het Trump sy administrasie opdrag gegee om die land se finansiering van die organisasie te staak.

“Om ander te blameer gaan nie help nie. Die virus ken geen grense nie,” het die Duitse minister van buitelandse Sake, Heiko Maas, in reaksie op Twitter geskryf.

Steffen Seibert, woordvoerder van die Duitse kanselier Angela Merkel, het op sy beurt gesê die WGO doen ongelooflik belangrike werk. “Die regering is oortuig van die waarde daarvan om die WGO te ondersteun en te finansier.”

Die VSA is die grootste enkele finansierder van die WGO en het verlede jaar $400 miljoen aan die organisasie oorbetaal.

Sergei Riabkof, adjunkminister van buitelande sake in Rusland, het intussen gesê Trump se besluit is ’n selfsugtige reaksie op die pandemie. “Dit is ʼn teken van ’n baie selfsugtige benadering deur die Amerikaanse owerheid tot wat tans in die wêreld aangaan as gevolg van die pandemie,” het Riabkof gesê.

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

007 ·

Hoekom gee die klomp wat so kla nie geld vir WHO nie? USA het nou hulle geld vir hulle self nodig. Ek gaan ook nie die jaar belasting betaal nie ek moet vir my gesin en werkers sorg.

Anel ·

Nou hoeveel het Duitsland en Rusland gegee? Die Amerikaaners kyk na hul eie mense. Ek haal my hoed af vir Trump. By hom gaan dit eerste oor sy eie mense, die amerikaaners. Jammer dit wil nie so hier by ons gaan nie. Al wat tel is our people. En dan gee die DA ook nog geld so dat daar nog meer teen blankes gediskrimineer kan word. Ek glo baie van daardie geld kom van blankes. As jy wil geld gee, gee vir Solidariteit se helpende hand.

PieterP ·

DA begin vroeg om stemme te werf. Siende dat hulle geld vir die selektiewe hulp aan klein besighede gaan weet ek vir wie om nie te stem nie. Ek stem met Trump. As die WHO se koppe nie in hulle dingese was nie aie weet waar kon die ding al gestop gewees het. Help jou eie eerste Mnr Trump

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.