Covid-19-samevatting: Werknemer by Uniegebou toets positief

Argieffoto

Personeel word by die Uniegebou in Pretoria beperk nadat ’n werknemer positief getoets het vir Covid-19.

Die presidensie het Woensdag in ’n verklaring gesê persone wat moontlik in kontak was met die werknemer, ʼn siftingsproses ondergaan.

Die presidensie se fasiliteite by die Uniegebou word sedert verlede Dinsdag ontsmet. Toegang tot die gebou se fasiliteite is intussen ook beperk.

Khusela Diko, woordvoerder van pres. Cyril Ramaphosa, het bevestig dat die president en die adjunkpresident nie uit die Uniegebou werk sedert algehele landwye afsondering ingestel is nie.

“Die presidensie wens die betrokke kollega vinnige beterskap toe,” het Diko gesê.

Myne moet meer werknemers toets

Gwede Mantashe, minister van minerale hulpbronne en energie en sy eweknie by die departement van gesondheid, dr. Zweli Mkhize, kom in Rustenburg aan. (Foto: Twitter)

Gwede Mantashe, minister van minerale hulpbronne en energie, het Woensdag gesê mynboumaatskappye voldoen aan die siftingsproses van werknemers vir Covid-19 hoewel hulle tekort skiet in die toets van werknemers.

“Myne vaar goed met die sifting van werknemers, maar nie met die toetsing van werknemers nie. Dít is wat ons moet verskerp. Ons het verduidelik dat ons nie almal toets nie, maar slegs diegene wat geringe tekens van Covid-19 toon,” het die minister verduidelik.

Mantashe en dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid, het vroeër Woensdag die Sibanye-Stillwater-myn in Rustenburg besoek om persoonlike beskermingstoerusting vanaf dié mynboumaatskappy en Old Mutual te ontvang. “Mynwerkers moet getoets word. Ons gaan nie mense in gevaar stel ten koste van wins nie,” het Mantashe gedurende die besoek gesê.

Hy het verduidelik dat ’n myn se bedrywighede dadelik opgeskort sal word indien ’n werknemer positief toets vir die nuwe koronavirus.

Hy het bygevoeg dat mynwerkers nie gedurende die afsonderingstydperk afgelê mag word nie. Mynboumaatskappye wat in hierdie stadium werknemers verwittig het dat hulle afgelê gaan word, is beveel om die afleggings terug te trek.

Drywer toets positief wat toetsmonsters vervoer

Vlag van Nigerië

In Nigerië het ’n drywer van dié land se sentrum vir siektebeheer die nuwe koronavirus opgedoen toe hy toetsmonsters vervoer het.

Abdullahi Sule, die goewerneur van die Nigeriese staat Nasarawa, het gesê die drywer het Dinsdagoggend positief getoets vir Covid-19 en is sedertdien in die sorg van ʼn isolasiesentrum geplaas.

Alle Covid-19-pasiënte wat tans mediese behandeling in dié land benodig, word in die Dalhatu Araf-spesialishospitaal en die Federale Mediese Sentrum behandel, het Sule bygevoeg.

Altesaam 2 950 bevestigde gevalle van Covid-19 is tot dusver in Nigerië aangemeld. Die land se dodetal staan tans op 98. Byna 500 pasiënte in Nigerië het reeds herstel.

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Barbara ·

Daar is seker nou weer ń politieke rede agter die skerm dat meer mynwerkers getoets moet word. Hul voldoen dan aan al die vereistes. Ons regering en ministers is omtrent op ń magspel en ego trip.

Michael 1 ·

Die myne moet begin produseer anders gaan die myne moet sluit en hoeveel werkers word dan geafekteer, onthou die marikana voorval Lonmin kon nooit weer herstel van daardie af tydperk nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.