Covid-19-samevatting: Werknemer van departement van arbeid toets positief

(Foto: Brian Inganga/AP)

ʼn Werknemer van die departement van arbeid se vergoedingsfondsafdeling in Pretoria het Maandag positief vir Covid-19 getoets.

Dié werknemer het ten tyde van afsondering in die Bellville-arbeidsentrum gewerk. Dit volg nadat sy glo by haar familie in Kaapstad gaan kuier het en tydens die afsonderingstydperk steeds daar gestrand gesit het. Sy is toe in dié arbeidsentrum geplaas om tydens die afsondering daar haar werk voort te sit.

Teboho Thejane, woordvoerder van die departement van arbeid, sê dié arbeidsentrum in Bellville is nou tydelik gesluit. Die stap is gedoen om toe te laat dat al die werknemers wat moontlik met die betrokke werknemer in kontak was, getoets en gemonitor word en dat die kantore eers behoorlik ontsmet kan word.

Volgens Thobile Lamati, direkteur-generaal van die departement, het amptenare van die departement ten tyde van die afsondering steeds bly werk, maar was nie in kontak met die publiek nie omdat die sentrums vir lede van die publiek gesluit was.

“Sy was nie in kontak met enigeen van die publiek nie. Sy was egter in kontak met die ander 36 personeellede wat in die arbeidsentrum werk. Sy het veral naby aan 20 van hulle gewerk. Ons het alle personeel getoets,” sê Lamati.

Lamati sê dié werknemer het op 28 April vir die eerste keer aangedui dat sy siek is.

“Sy het met die instel van die vlak 4-afsondering terug na Gauteng gereis. Op 3 Mei het sy simptome van griep getoon en griepmedikasie begin neem, maar haar simptome het vererger,” sê Lamati.

“Dit is bykans onvermydelik dat sommige van ons besmet gaan word. Wat wel van kardinale belang is, is hoe ons reageer. Met al die gegewe omstandighede het die departement gereageer op die manier wat verwag word om die neergelegde protokol te volg. Hoewel die wet op beroepsgesondheid en -veiligheid vereis dat werkgewers op ’n gereelde basis risikobepalings moet hersien en opdateer, is die nuwe gevaar wat Covid-19 inhou duidelik geïdentifiseer en is die basiese maatreëls om die risiko’s uit te skakel of te verminder, nou bekend.”

Die saak is by die sentrum vir oordraagbare siektes in Gauteng sowel as in Kaapstad aangemeld en die werknemer se gesin is op hoogte gebring van die jongste verwikkelinge.

Mkhize moet Covid-19-vrae in die parlement beantwoord – DA

Dr. Zweli Mkhize. Foto: GCIS

Die DA het Maandag ʼn brief aan Thandi Modise, speaker in die Nasionale Vergadering, gerig en versoek dat daar op ʼn gereelde basis ʼn vraag-en-antwoord-sessie met Zweli Mkhize, minister van gesondheid, in die parlement gehou sal word.

Die DA het die versoek gestel kragtens die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting (PAIA) om sowel die notules van die ministeriële raad rakende die sluitingsregulasies as aanvullende inligting van provinsiale departemente van gesondheid oor toetsingstatistieke in te win.

Volgens Siviwe Gwarube, die DA se woordvoerder vir gesondheid, wil dit voorkom asof die regering stilbly oor sekere data uit die vrees dat dit die publiek paniekbevange sal maak. Dit volg nadat die gesondheidsowerhede in KwaZulu-Natal aangevoer het dat sommige gegewens geklassifiseerd is.

“Om inligting van die publiek te weerhou help nie veel om die vertroue van die publiek te wen nie. Om met die publiek te deel waarom hulle [die owerheid] sekere belangrike besluite ten tyde van die afsondering neem, sal ongetwyfeld beteken dat ons dit [die pandemie] as een nasie saam sal klop,” sê Gwarube.

Die getal nuwe Covid-19-gevalle het die afgelope naweek die 10 000-kerf verbygesteek. Mediese kundiges het gewaarsku dat dit nie die juiste syfer is nie, omdat daar nie voldoende toetse in alle provinsies gedoen is nie.

WGO waarsku lande teen ongetoetste Covid-19-geneesmiddels

Die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) het lande gewaarsku teen die gebruik van produkte wat voorgehou word om Covid-19 te genees en wat nog nie aan kliniese toetse onderwerp is nie.

Matshidiso Moeti, direkteur van die WGO in Afrika, sê hulle waarsku lande teen die aanvaarding van produkte wat nie streng kliniese toetse ondergaan het nie. Die toetse is belangrik om die veiligheid van produkte en die doeltreffendheid teen Covid-19 asook die veiligheid daarvan in verskillende subgroepe in die bevolking te verseker.

“Enige produk wat gebruik word, moet gebruik word onder voorwaardes van kliniese proefnemings, waar bewyse versamel kan word en met die versekering dat dit nie ’n gevaar vir mense se gesondheid inhou nie,” sê Moeti.

Dié aankondiging volg nadat die president van Maleisië, Andry Rajoelina, verlede maand ʼn sogenaamde Covid-19-geneesmiddel op ’n nuuskonferensie bekend gestel het. Tydens die inligtingsessie het Rajoelina van ’n bottel vol amber vloeistof gedrink. Dié vloeistof het glo volgens dié president reeds twee mense van die virus genees.

’n Plaaslike maatskappy in Malawi, Teras Health Care, het ook beweer dat sy kruiesap die virus kan genees. Teras beweer dat twee mense van die virus genees is nadat hulle van die konkoksie gedrink het.

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.