Covid-19-samevatting: Werknemer van lughawensmaatskappy sterf

Argieffoto ter illustrasie (Foto: Unsplash)

Die National Union of Metalworkers of South Africa (Numsa) het sy medelye betuig nadat een van sy lede in die Wes-Kaap onlangs aan komplikasies weens die nuwe koronavirus gesterf het.

Masonwabe Tshambu het verlede Dinsdag weens Covid-19 gesterf. Tshambu het by die sekerheidsdepartement van die Suid-Afrikaanse Lughawensmaatskappy (Acsa) in Kaapstad gewerk ten tyde van sy dood.

Vuyo Lufele, streeksekretaris van Numsa, het vandeesweek in ’n verklaring bevestig dat diegene wat saam met Tshambu skofte gewerk en moontlik kontak met hom kon gehad het, in kwarantyn geplaas is. Hulle het almal intussen negatief vir Covid-19 getoets.

Tshambu se werksplek is ook kort nadat hy positief getoets het, ontsmet.

Geld beskikbaar gestel vir meer dokters

Dr. Zweli Mkhize (Foto: Twitter)

Die Nasionale Tesourie het intussen ingestem om geld beskikbaar te stel om alle vakante poste vir dokters so gou moontlik te vul te midde van die Covid-19-pandemie.

Dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid, het Dinsdag gedurende ’n virtuele mediakonferensie gesê Tito Mboweni, minister van finansies, het hom daartoe verbind om geld beskikbaar te stel vir bykomende gesondheidspersoneel.

Hoewel alle vakante poste vir dokters in sekere provinsies reeds gevul is, sal die vakante poste in ander provinsies nou gevul kan word, het Mkhize gesê.

Die minister doen dus ’n beroep op dokters om aansoek te doen.

Meer as ’n miljoen gevalle in Amerika

Pres. Donald Trump spreek die media toe in Washington. (Foto: Alex Brandon, AP)

Die VSA het nou die miljoenkerf in Covid-19-gevalle oorgesteek. Altesaam 1 035 765 gevalle van die nuwe koronavirus is tot op hede in die VSA aangemeld. Dié land se dodetal staan tans op 59 266.

Meer Amerikaners het die afgelope drie maande weens Covid-19 omgekom as wat Amerikaners destyds in die Viëtnam-oorlog van 20 jaar gesterf het. Altesaam 58 220 Amerikaners het gedurende dié oorlog tussen 1955 en 1975 omgekom.

Viëtnam keer terug na nuwe normale fase

wod-2019-lugbesoedeling-01

‘n Vrou met ‘n masker ry op een van die miljoene bromponies in Hanoi, Viëtnam. Foto: Suscan Scott.

In Viëtnam keer landsburgers se lewe stelselmatig terug na die sogenaamde nuwe normaal nadat dié land sy algehele landwye afsondering verlede week verslap het.

Viëtnam word wyd geloof vir sy hantering van die virus. Die land het tot dusver slegs 270 gevalle van Covid-19 aangemeld ten spyte daarvan dat Viëtnam aan China grens waar die koronavirus in Desember uitgebreek het.

Viëtnam, ’n land met ’n bevolking van 97 miljoen mense, het nog geen sterftes weens die virus aangemeld nie.

Bronne: BBC, Worldometer, ANA

Wil jy op die hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief. 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

summie ·

NOU HOE IS DIT MOONTLIK ?? Viëtnam word wyd geloof vir sy hantering van die virus. Die land het tot dusver slegs 270 gevalle van Covid-19 aangemeld ten spyte daarvan dat Viëtnam aan China grens waar die koronavirus in Desember uitgebreek het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.