Covid-19-samevatting: Wes-Kaapse onderwyser sterf

Argieffoto van skoolgronde ter illustrasie. (Foto: Unsplash)

Die nuwe koronavirus het die lewe van ’n Wes-Kaapse onderwyser geëis.

Die Wes-Kaapse Onderwysersforum het vandeesweek bevestig dat ’n onderwyser aan die Montevideo Primary School in Montana, Kaapstad, weens Covid-19-komplikasies gesterf het.

Die betrokke onderwyser het vir graad 7-leerders aan die skool klasgegee.

Volgens die forum is die onderwyser vroeër vandeesweek onder kwarantyn geplaas nadat hy positief vir Covid-19 getoets het. In ʼn verklaring wat die skool Vrydag uitgereik het, is bevestig dat nog ’n onderwyser by die skool ook positief vir die nuwe koronavirus getoets het, terwyl ’n derde onderwyser op toetsuitslae wag. Die skoolgebou word tans ontsmet en ouers sal in kennis gestel word wanneer die leerders weer skool toe kan kom.

Die oorsprong van Covid-19 by die betrokke skool is nie in die stadium duidelik nie hoewel die skool aangedui het dat graad 7‑leerders veiligheidsmaatreëls by die skool verontagsaam het.

Altesaam 57 941 bevestigde gevalle Covid-19 is tot dusver in die Wes-Kaap aangemeld, met 1 692 sterftes.

Tshwane-varsproduktemark

Argieffoto ter illustrasie. (Foto: Unsplash)

Die Tshwane-varsproduktemark is intussen weer oopgestel nadat dit enkele dae gesluit was weens ’n positiewe Covid-19-geval.

Die Stad Tshwane het Saterdag in ’n verklaring gesê die mark het vanoggend (Saterdag) weer bedrywighede hervat nadat die markperseel vroeër vandeesweek ontsmet is.

Luidens die verklaring het die stad se munisipale gesondheidsdienste Vrydag ’n inspeksie by die mark uitgevoer en vasgestel dat die mark aan al die nodige vereistes voldoen om bedryfsaktiwiteite te hervat.

Vars produkte kan dus voortaan weer by die mark afgelewer word.

Die dra van maskers en die ontsmet van maskers is egter verpligtend. ’n Sosiale afstand van een en ’n half meter moet ook ten alle tye by die mark gehandhaaf word, het die Stad benadruk.

Tshwane-metropolisie (TMPD)

(Argieffoto)

’n Gebou van die Tshwane-metropolisie (TMPD) is tydelik gesluit nadat ’n positiewe geval Covid-19 in die gebou aangemeld is.

Volgens die Stad sal die TMPD se Mabopane-gebou, noord van Pretoria, tot Maandag gesluit bly sodat die gebou oor die naweek ontsmet kan word.

Altesaam 31 344 bevestigde gevalle Covid-19 is in dié stadium in Gauteng aangemeld. Dié provinsie het tans die meeste aktiewe gevalle Covid-19 van al die provinsies.

Gauteng se dodetal staan op 149.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.