Covid-19-samevatting: WGO gee riglyne vir heropening van skole

Direkteur-generaal van die WGO, dr. Tedros Adhanom Ghebreyesus

Die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) het vandeesweek gesê daar is drie faktore om te oorweeg voordat skole kan heropen te midde van die Covid-19-pandemie.

Dr. Tedros Adhanom Ghebreyesus, direkteur-generaal van die WGO, het gesê ’n duidelike begrip van die huidige oordrag en erns van Covid-19 by kinders is in die eerste plek nodig, waarna die epidemiologie van die virus, waar die skool geografies geleë is, eers oorweeg moet word voordat skole bloot kan heropen.

Volgens Ghebreyesus moet ’n betrokke skool se vermoë om toepaslike voorkoming- en beheermaatreëls binne die skoolomgewing te handhaaf ook eers bepaal word voordat kinders na die skool kan terugkeer.

“Wanneer ’n plaaslike regering besin oor die besluit om skole te heropen, moet skole se vermoë beoordeel word om infeksiebeheer- en voorkomingsmaatreëls in te stel,” het Ghebreyesus gesê.

Volgens Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, se aanvanklike uitsprake, sou skole Maandag vir bestuurspersoneel aan skole oopmaak en volgende Maandag sou onderwysres terugkeer skool toe.

Die Suid-Afrikaanse Demokratiese Onderwysersunie (Sadou) het egter Vrydag gesê sy lede sal nie Maandag aanmeld vir werk nie omdat die departement van basiese onderwys nie aan die minimum vereistes voldoen het om veiligheidsmaatreëls in te stel nie. Motshekga sal na verwagting Donderdag verdere besonderhede oor die heropening van skole aankondig.

Virus word oor die grens van Wes-Kaap en Oos-Kaap oorgedra

Dr. Zweli Mkhize (Foto: Jairus Mmutle/GCIS)

Dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid, het intussen gesê dit is duidelik dat die nuwe koronavirus wat Covid-19 veroorsaak oor die grens tussen die Wes-Kaap en die Oos-Kaap oorgedra word.

“Die nabyheid [van die provinsies] aan mekaar beïnvloed die inwoners. Die Oos-Kaap en die Wes-Kaap … dit is dieselfde gemeenskap en die oordrag tussen hulle is nie eens ’n ongeluk nie,” het Mkhize tydens ’n besoek aan die Oos-Kaap gesê.

Volgens die minister word die twee naburige provinsies aan mekaar verbind deur mense en goedere wat al langs die handelsroete beweeg. Die toenemende aantal Covid-19-gevalle in die Wes-Kaap kan dus ’n invloed op die Oos-Kaap hê, het Mkhize verduidelik.

“Die handelsroetes en seisoenwerkers is iets wat ons in ag moet neem as ons die inperking van infeksies bestuur,” het hy gesê. Die minister het wel bevestig dat die onderskeie premiers van die twee provinsies in verbinding met mekaar is in ’n poging om die situasie te hanteer.

Altesaam 5 621 gevalle Covid-19 is tot op hede in die Wes-Kaap aangemeld, vergeleke met 1 356 gevalle in die Oos-Kaap. Die getal bevestigde Covid-19-gevalle in Suid-Afrika het Maandag tot 10 652 gestyg. Die land se dodetal staan nou op 206.

Steeds geen gevalle in Lesotho

(Argieffoto)

Lesotho het steeds geen gevalle van die nuwe koronavirus aangemeld nie. Dit ten spyte van besoekers aan dié land wat intussen positief getoets het vir Covid-19.

Nkaku Kabi, minister van gesondheid in Lesotho, het gesê die land het reeds 48 moontlike gevalle vir Covid-19 getoets waarvan almal negatief getoets het.

Volgens Kabi is dié toetsmonsters na die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes (Nios) in Suid-Afrika gestuur om getoets te word. Al die toetsmonsters het negatief teruggekom.

Die minister het gesê een van die moontlike 48 gevalle was ʼn Mosotho-persoon wat luidens berigte ’n Suid-Afrikaanse burger in April gehuisves het. Die Suid-Afrikaner het met sy terugkeer na Suid-Afrika positief getoets vir Covid-19, terwyl die Mosotho negatief getoets het.

’n Soortgelyke geval het in Maart plaasgevind toe ’n burger van Eswatini (Swaziland) ’n konferensie in Lesotho bygewoon het. Dié burger het positief getoets vir die virus met sy terugkeer na Eswatini.

’n Persoon van Lesotho wat na bewering in noue kontak met dié pasiënt was, het egter ook negatief getoets.

Lesotho se afsonderingsregulasies word sedert verlede week geleidelik verslap.

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

JohanR ·

Wie is die WGO nou weer? Is dit daai vrot lot wat groot tjomme is met Sjina, en nie Taiwan volle lidmaatskap van die WGO wil gee nie. Dink die ou Dr. Tedros Adhanom Ghebreyesus is lekker vrot. Hy sal mooi inpas by die ANC!

Magda ·

5% van ons skole sal dalk kan oopmaak, maar die ander95% skole is onbevoegd met geen toilet geriewe / of skoon water of elektrisiteit nie, en dit na 26 jaar van ANC se korrupte Regering. Wanneer gaan die mense wakker skrik en sien die NAC van 20 jaar gelede is lankal NIE MEER die ANC van vandag nie. Dit was net n goeie PArty met Mnr Nelson Mandela in die eerste 5 jaar. Skrik wakker mense as julle wil oorleef in EENS N MOOI, SKOON, VEILIGE EN VOLLE FINKSIONELE SUID AFRIKA

Wilhelm ·

Stop die lockdown. Maak oop die skole. Elkeen kan self besluit of hy sy kinders skool toe laat gaan of nie.

Jakes ·

Kan nie glo dat daar nog steeds mense is wat iets glo wat die useless nations of enige van sy afdelings kwytraak nie……

Anel ·

Kan nie glo wat ek hoor nie. Hoe ver moet die provinsies dan uit mekaar wees en hoe wil hy dit doen of keer? Lig die grendelstaat dat ons kan aangaan met ons lewens!!!

Ronel ·

Die vrystaat grens ook aan daardie provinsies en oordrag hier is min sover, Ons grens ook aan Gauteng. Sy wiskunde en my wiskunde maak nie dieselfde sommetjies nie. Hulle sal natuurlik nie die skuld dra vir die feit dat mense vir ‘n week lank oor die grense kon beweeg nie!!!

Stefan ·

Wilhelm, dink jy die onderwysers moet ook die keuse gegun word of hul skool toe wil gaan of nie?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.