Covid-19-samevatting: WhatsApp om magsmisbruik aan te meld

Verdagte persone word deursoek tydens die afsonderingsperiode (Goodwood/Bellville) (Foto; Courtney Africa/African News Agency/ANA)

Die Demokratiese Alliansie het Woensdag ʼn toegewyde WhatsApp-nommer en e-posadres bekend gemaak wat die publiek kan gebruik om aanranding, mishandeling en omkopery deur wetstoepassers aan te meld.

John Steenhuisen, leier van die DA, het gesê die platforms sal, tydens die huidige afsonderingsperiode om die verspreiding van die koronavirus (Covid-19) te beperk, gebruik word om burgers in te lig oor hul regte en hulle in staat stel om klagtes by die betrokke owerhede aan te meld.

“Die land is nog maar net ses dae in afsondering en ons het reeds ʼn toename gesien in geweld van diegene wat veronderstel is om ons te beskerm en te dien. Volgens berigte het die polisie Dinsdag twee verpleegsters by die Bongani-streekshopspitaal in Welkom geskiet en ʼn Ekurhuleni-metropolisielid is Maandag in hegtenis geneem toe hy glo ʼn man van Vosloorus doodgeskiet het,” het Steenhuisen bygevoeg.

“Daar is verskeie video’s op sosiale media wat wys hoe polisiebeamptes en soldate lede van die publiek aanrand en verneder. Sommige Suid-Afrikaners is gedreig en in hul eie erwe aangerand of terwyl hulle in ʼn ry gestaan het om noodsaaklike goedere te koop. Dit is die growwe misbruik van mag wat in die hande van die SAPD en SANW geplaas is.”

ʼn Taakspan van DA-LP’s sal die WhatsApp-nommer en e-posadres monitor. “Hulle is kundiges in hul veld en sal kundige raad kan lewer aan die Suid-Afrikaanse publiek.”

Gebruik die WhatsApp-nommer 067 977 9324 en e-posadres [email protected] om magsmisbruik aan te meld. Jy kan ook navrae doen oor jou wettige regte.

Steenhuisen het gesê daar is ʼn “dringende behoefte” om die SANW se ontplooiing landswyd en die polisie se gedrag te monitor. “Suid-Afrika is ʼn grondwetlike demokrasie en nie ʼn militêre staat nie. Ons wil wetstoepassers daaraan herinner dat dit ʼn ramptoestand en nie ʼn noodtoestand is nie. Die rol van die weermag is slegs om seker te maak dat afsonderingsriglyne nagekom word terwyl hulle in gedagte hou dat Suid-Afrikaners regte het, selfs in ongekende tye.”

Eerste twee gevalle in Burundi

Dr. Thaddée Ndikumana, minister van gesondheid in Burundi, het aangekondig twee persone, wat in isolasie was by die Bumerec-hotel, het positief getoets vir Covid-19. Die twee persone, onderskeidelik 42 en 56 jaar oud, het via Rwanda van die Verenigde Arabiese Emirate teruggekeer huis toe.

Die pasiënte is tans in kwarantyn by ʼn isolasiehotel in Bujumbura.

Afsonderingsperiode in Rwanda duur voort

Die regering in Rwanda het sy polisiebeamptes landswyd ontplooi om gesondheidsbeamptes te help om die verspreiding van Covid-19 hok te slaan. Die land is besig met ʼn twee weke lange algehele afsonderingsperiode.

Sportaktiwiteit, insluitend om buite te gaan draf, word verbied. Restaurante en kroeë, skole en kerke het hul deure gesluit.

Minstens 75 persone het positief getoets vir Covid-19 in die land.

Verkiesing in Ethiopië uitgestel 

Ethiopië het sy langverwagte nasionale verkiesing uitgestel weens die Covid-19-pandemie. Die verkiesing sou in Augustus plaasgevind het.

Die Nasionale Verkiesingsraad van Ethiopië (Nebe) het die besluit bekend gemaak toe die 25ste geval van die virus in die land aangemeld is.

“Nebe het besluit om die huidige verkiesingskalender te kanselleer en verkiesingsbedrywighede op te skort,” het die organisasie gesê.

Die 2020-verkiesing sou die sesde verkiesing vir Ethiopië wees ná die huidige Grondwet in 1994 in werking getree het. Die regering hou elke vyf jaar ʼn parlementêre verkiesing.

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Jaco ·

As dié virus nog lank met ons bly, wat word dan van die Amerikaanse presidentsverkiesing in November vanjaar?

JC Venter ·

Ek sal eerder graag wil weet ons nie hier ons volgende Algemene verkiesing met 3 jaar kan vervroeg nie?

jzjz05 ·

,Die DA dink net aan die publiek wat eindelik die vlieg in die salf is As hulle hul by die reels hou en by hul huise bly en weg bly van die straate af sal daar geen probleem wees nie.

Genis ·

Persoonlik dink ek die publiek moet luister.. hulle is dom astrant en dink in gevalle die is n grap… Ek stem daar is gevalle van omkoop, dit moet vasgevat word.. maar vir die res, as jy nie wil hoor nie, moet jy voel…

Vriendelike Frikkie ·

Is daar ‘n WhatsApp nommer waar die publiek aangemeld kan word? Gistermidaag was hier ‘n volbloed partytjie in Capital Park. Hordes motors het op die sypaadjies gekom en gegaan, mense is met bier in die hand buite die erf gewaar en die musiek was oorverdowend. Geen polisie of weermag was in sig nie. Hier was baie duidelik ‘n geval waar ‘n lid van die publiek genoeg geld vir omkoop aangebied het. So ‘n persoon moet ‘n mens tog êrens kan verkla?

wimpie ·

As die Weermag SAP of enige iemand optree teen die wat nie saamwerk nie dan word vinnag op social media gesit en die mense word “gesteenig” want die ander party se mense regte word geskend
wat van die weermaglede ens se mense regte wat ook geskend word deur die oortreders wat veroorsaak dat hulle nie hulle plige kan uitvoer nie en wat het geword van altwee kante van n storie vertel.
As die Weermag ens verkeerd is tree op teen hulle maar doen dan dieselfde teen die ander ook
“wat goed is vir die een is goed vir die ander” werk net as dit sekeres pas
einlik baie hartseer dat die “leiers” nie kan saam staan om die ding teprobeer veg nie maar eerder sit en wag vir ander se voute en dan teprobeer “browny points” kry en die covid-19 in n politieke geveg te omskep

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.