Covid-19-samevatting: Zwelinzima Vavi in hospitaal

Zwelinzima Vavi van die vakbondfederasie Saftu Foto: Werner Beukes, SAPA

Zwelinzima Vavi, sekretaris-generaal van die Suid-Afrikaanse federasie van vakbonde (Saftu), is weens voorsorgmaatreëls in ’n hospitaal opgeneem nadat hy verlede week positief vir die nuwe koronavirus, wat Covid-19 veroorsaak, getoets het.

Vavi het die nuus Sondagaand in ’n video op sosiale media bevestig. Vavi sê in die video hy sukkel tans met sy longe en bors en het rus nodig. Die video is vermoedelik opgeneem voordat hy hospitaal toe is.

Volgens Vavi het niemand in sy gesin positief vir Covid-19 getoets nie behalwe sy sewejarige seun. Dokters is egter nie bekommerd oor sy seun nie, het hy gesê. Sy vrou moet ook weer getoets word.

Vavi het verlede week aan eNCA gesê hy het aanvanklik simptome van griep getoon waarna hy die daaropvolgende dae al slegter begin voel het. Hy het eindelik positief vir Covid-19 getoets. Vavi het gesê hy het geen idee waar hy moontlik Covid-19 kon opdoen nie.

Groep studente klaar met kwarantyn

Altesaam 76 van ’n groep van 80 studente wat sowat twee weke gelede in kwarantyn in ’n hotel in Ekurhuleni geplaas is, kon Sondag huis toe gaan nadat hulle hul verpligte kwarantyn voltooi het.

Die groep is studente aan verskeie TVET-kolleges en werk vir Chinese maatskappye in Wuhan.

Die oorblywende vier studente sal Dinsdag huiswaarts keer nadat hulle langer moes aanbly weens durende mediese toestande. Al 80 het wel negatief vir die nuwe koronavirus getoets.

Kwara Kekana, woordvoerder van die Gautengse departement van gesondheid, het in ’n verklaring gesê die studente is tydens die kwarantyntydperk by die Birchwood Hotel in Boksburg gehuisves nadat hulle op 20 Maart uit China na Suid-Afrika teruggekeer het.

Argieffoto (Foto: DarkoStojanovic, Pixabay)

Beroep op gekwalifiseerde gesondheidswerkers

Die Suid-Afrikaanse Militêre Mediese Diens (SAMHS) doen ’n beroep op gekwalifiseerde gesondheidswerkers om die weermag by te staan in die stryd teen Covid-19. “Die SAMHS  hergroepeer en versterk sy mediese kapasiteit in die nasleep van die nasionale ramptoestand,” het die diens in ’n verklaring gesê.

Dokters, verpleegsters en nooddienswerkers word nou gevra om hul dienste aan te bied en aansoek te doen by die SAMHS.

Wil jy op die hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

5 Kommentare

jongste oudste gewildste
Sobymykoolkop

En ek neem aan die voorste vegter vir “gewone” werkers is in ń staatshospitaal opgeneem. Toemaar, ek grap net, dit sal NOOIT gebeur nie.

Erica

Jammer om te hoor. En die ander 1600?

Jan

Ag waaaroor die bohaai minder as 1 persent an mense sterf aan die virus dis minder as gewone griep en tb…en in china is daar geen gevalle nie nadat almal n rukie trug mal gegaan het en hul ekonomie is al weer up en running

Ougrote

Ek wens geen persoon enige siekte toe nie. Dit is glad nie lekker om enige geliefde af te staan aan die dood nie. Hoop jy en die res van die wêreld word gou gesond…
Dankie vir diegene wat wel hulle self laat toets indien hulle twyfel.