Covid-19: SAners gee gehoor aan regulasies, sê Ramaphosa

Pres. Cyril Ramaphosa.

“Die manier waarop alle Suid-Afrikaners vir hul eie en ander se gesondheid verantwoordelikheid aanvaar het, is bemoedigend.”

Só skryf pres. Cyril Ramaphosa in sy weeklikse nuusbrief nadat streng regulasies verlede week in die Staatskoerant gepubliseer is in ʼn poging om die verspreiding van die nuwe koronavirus, bekend as Covid-19, hok te slaan.

Maroela Media het vroeër berig dié regulasies verbied onder meer sosiale byeenkomste van meer as 100 mense, sosiale byeenkomste van meer as 50 mense waar drank bedien word, asook die verkoop van drank ná ʼn bepaalde tyd.

Volgens Ramaphosa gee die meeste Suid-Afrikaners – op enige plek, van taxistaanplekke tot vulstasies, spazawinkels en restaurante – reeds gehoor aan die regulasies en besef hulle die erns van die situasie. Hy verduidelik dat die regering sedert die afkondiging al meer opmerk dat Suid-Afrikaners hul hande was, handreinigingsmiddels koop en sosiale byeenkomste beperk. Dit is ook duidelik dat sakeondernemings die regulasies gehoorsaam, sê Ramaphosa.

Hy sal vandeesweek met onder meer vakbonde, tradisionele leiers en ander sektore vergader oor die verdere bekamping van Covid-19.

Dít nadat die president Sondag eers met sakeleiers by die Uniegebou vergader en daarna met opposisiepartyleiers beraadslaag het.

Ramaphosa het ook met die nasionale bevelsraad vergader en sal na verwagting later vandag (Maandag) die land toespreek oor die kwessie of die huidige regulasies rakende die koronavirus voldoende is en of strenger maatreëls vereis word.

Suid-Afrika het teen Sondagaand 274 bevestigde gevalle van Covid-19 gehad. Geen sterftes is tot dusver aangemeld nie.

“Ons weet wat die waarheid is en wat gedoen moet word. Ons moet die verspreiding van die virus beperk. Ons moet toesien dat diegene wat hulp benodig, dit ontvang. Ons moet die hoogste standaarde vir higiëne handhaaf en volhou met sosiale distansiëring.

“Ons sukses berus op die inspanning en energie van elke burger en sy en haar toewyding om ander te help,” skryf Ramaphosa.

Botswana

Intussen is die president van Botswana, Mokgweetsi Eric Keabetswe Masisi, Saterdag vir 14 dae lank in afsondering geplaas nadat hy Namibië onlangs besoek het. Dié land het drie bevestigde gevalle van die koronavirus.

Hoewel Botswana nog geen gevalle Covid-19 aangemeld het nie, het die land se direkteur van gesondheid Masisi aangesê om as voorsorgmaatreël in afsondering te bly. Die president sal vir Covid-19 getoets word terwyl hy vir die volgende twee weke van die huis af werk. Hy sal in dié tyd nie in aanraking met sy familie kom nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

6 Kommentare

jongste oudste gewildste
RS

Hy moet alle plekke toe maak. Vat lande soos Italie erenstig op. Hulle is op moedverloor se vlakte.

Werner

Wonder of hy in SA is die mense gee defnitief nie gehoor aan wat hy gesê het nie of hy weet nie wat op voetsool vlak aangaan nie

Ferdie

Baie mense gee gehoor aan die hoeveelheid mense wat hulle toe laat wat baie goed is. Maar gister toe moes ek net melk gaan kry vir die kind en ek gaan checkers toe hier in PÉ. Ek het die plek nog nooit so vol gesien nie. Daar was meer as 400 mense. Nie eens n trollie beskikbaar nie.

So wat help dit dan as net amper almal die reels volg?

Persoonlik dink ek dis reeds te laat en baie strenger maat reels moes al op dag 1 in gestel gewees het.

My Mening

Hier in ongelukkig nog baie mense in SA wat nie die ernstigheid van die virus besef of net nie omgee nie Jy kan dit dikwels selfs net in mense se kommentaar sien op sosiale media.

Ons word oorlaai met inligting, so hoe jy nie die ernstigheid daarvan kan besef nie, gaan my verstand te bowe.

katerinadiekat

Verkeerde artikel jammer