Covid-19: SAners vertrou regering, wys peiling

Pres. Cyril Ramaphosa (Maart 2020) (Foto: Jairus Mmutle/GCIS)

Die meerderheid Suid-Afrikaners wat die internet gebruik het vertroue in die regering se hantering van die Covid-19-pandemie. Dít volgens ʼn studie deur die marknavorsingsgroep Ipsos.

Volgens Ipsos se jongste meningspeiling vertrou sowat ses uit elke tien Suid-Afrikaners (61%) pres. Cyril Ramaphosa en sy regering se hantering van die krisis waarin Suid-Afrika tans gedompel is weens die nuwe koronavirus. Effens minder Suid-Afrikaners (52%) het volgens dié aanlyn peiling tans vertroue in die instellings wat ʼn sleutelrol moet speel om die land se ekonomie aan die gang te hou.

Dié bevinding kan egter vinnig verander in die komende weke met al meer sakeondernemings wat aktiewe stappe doen om gemeenskappe in dié tyd te ondersteun, meen Ipsos.

Die meningspeiling toon verder dat 50% van Suid-Afrikaners wat aan die peiling deelgeneem het nié vertroue het in die land se grensbeheerowerhede nie. Dié deelnemers het aangedui dat hulle nie die owerhede se hantering van die in- of uitvloei van mense by die land se grense vertrou nie.

Byna nege uit elke tien (89%) Suid-Afrikaners wat aan die peiling deelgeneem het sê hulle het vertroue in die akkuraatheid van inligting wat deur die Suid-Afrikaanse gesondheidsowerhede verskaf word. Die meerderheid Suid-Afrikaners (77%) vertrou ook inligting van die regering en die nuus op televisie (85%) as bronne van inligting tydens die pandemie.

Ipsos het dié bevindinge vergelyk met soortgelyke vrae wat aan burgers van ander lande gerig is. Die marknavorsingsgroep het bevind dat die meeste burgers vertroue het in hul betrokke land se pogings om die verspreiding van Covid-19 hok te slaan.

Argieffoto ter illustrasie. (Foto: Unsplash)

Burgers van China (97%), Viëtnam (94%) en Indië (85%) het die meeste vertroue in hul regerings uitgespreek, gevolg deur burgers van Kanada (74%), Italië (66%), Suid-Afrika (61%), Australië (60%), Brittanje (59%), Brasilië (59%), Frankryk (50%) die VSA (50%) en Rusland (50%).

Volgens Ipsos het minder as die helfte van burgers in Duitsland (49%), Japan (48%) en Mexiko (45%) vertroue in die manier waarop hul nasionale regerings die krisissituasie rondom die nuwe koronavirus hanteer.

Vertroue in gesondheidsowerhede is ook baie hoog in China (83%), Viëtnam (81%) en Italië (81%).  Burgers in Rusland (29%), Japan (31%) en Mexiko (45%) vertrou oor die algemeen nié die inligting wat hulle van hul plaaslike gesondheidsowerhede ontvang nie.

Die resultate vir Suid-Afrika toon dat die meerderheid burgers wat toegang het tot die internet, van mening is dat Covid-19 die grootste bedreiging vir die wêreld as geheel (94%), sowel as Suid-Afrika as ʼn land (90%) inhou.

Dit blyk ook dat die meeste wêreldburgers redelik bekommerd is oor die bedreiging wat Covid-19 op verskillende vlakke, insluitend ʼn persoonlike vlak, gesinsvlak en gemeenskapsvlak inhou.

Dit is egter duidelik uit antwoorde van reg oor die wêreld dat die meeste wêreldburgers veral bekommerd is oor die koronavirus as ʼn wêreldwye bedreiging.

Wil jy op die hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Maria ·

Ek vertrou dat president Ramaphosa sy bes doen, maar dat ondeurdagte besluite steeds aan die orde van die dag is. Heeltemal te veel sinnelose besluite. die ekonomie ly elke dag skade as gevolg hiervan en die skuldlas skiet ten hemele.

Jack ·

Ek het GEEN vertroue in die Regering, Cyril of sy ministers nie. ALMAL is onbevoeg vir hulle taak en maak sinnelose besluite, veral Cele !!!!!!!! Jammer Ipsos, dit is maklik om statistieke te manipuleer.

RB ·

Ipsos manupileer nie noodwendig statistieke. Dit hang alles af wie die persone is wat deelgeneem het aan die navorsing. Jy kan weet deelname was ten beste verteenwoordigend van die land se demografie – ten beste, maar waarskynlik nie eers so goed nie.

Werner ·

Het so min vertroue in die regering as die instansie wat die peiling gedoen het wag nog so twee weke dan praat ons weer

Mieke ·

Ek glo nie dat die statistiek wat deur gegee word akkuraat is nie, en ek dink dat die syfers agter mag wees . Daar is baie meer gevaar as wat ons dink. Ja, ek dink Ramaphosa doen sy beste, maar die samewerking tussen verskillende lede van die polisie kan beslis verbeter. Dis nie nou tyd om te maak soos hulle lus is en mense te boelie en onregmatig te arresteer nie. Hierdie is ‘n tyd van omgee, ondersteuning en samewerking om die toestande te probeer verlig vir mekaar.

Alida ·

Mnr Ramaphosa hanteer die situasie fantasties. Hy moet net met die spoed van lig ontslae raak van paar ministers wat nie weet wat hulle doen nie. Hardloop soos afkop hoenders rond a nee a!

Boortor ·

Doen hierdie sogenaamde peiling oor drie of vier weke weer. Dan sal jy n heeltemal ander storie sien. Vertrou n korrupte klomp waarvan nog nie een toegesluit is nie? Nie maklik nie! Dis te laat vir mooi syfertjies.

Raadslid ·

Indien die peiling se inligting korrek is is dit net nog ‘n bewys hoe gebreinspoel Suid-Afrikaners is. Ramapadda het nog niks anders gedoen as wat ander lande en internasionale organisasies doen of voorstel nie.

Genis ·

Nou wonder ek waar het hulle die opname gedoen? Ek is jammer ek het nie die vertroue nie…

Anel ·

Die virus maak nie meer mense dood as wat mense vermoor is nie. Die see word hier heeltemal onder die eend uit geruk. Ja, mense gaan siek word, maar is die paar wat siek word en aan ander komplikasies of onderliggende siektes doodgaan meer belangrike as duisende wat werkloos gaan wees of van die honger omkom? Mense word siek in die winter en as jy jou nie oppas nie gaan jy siek word. As jy aanhou gesond eet, oefen en higiëne toepas, sal jy mis nie sommer so siek word en doodgaan nie.

Michael 1 ·

Ek ken nie een van daardie persone wat die regering of hulle president vertrou nie.

PH ·

Na meer as 20 jaar se wanbestuur en korrupsie van sekere amptenare? Die ANC is nou skielik bevoeg?

Schalk N ·

Ons as Suid Afrikaners is tans besig om alle “rekords” te verbeter wat samewerking betref sedert’94 Ons as nasie het en kon nog NOOIT saam staan nie. Nou in hierdie tyd van n Wêreld pandemie sit ons egter ons verskille een kant en DOEN WAT GEVRA WORD. Ja daar is steeds dié wat dink hulle kan doen wat hulle wil… ongelukkig vir hulle word wets toepassing streng gevolg en ry aan die kortste ent.

Hennie ·

Ek wonder.. Dis soos om ‘n skynbaar dooie slang te vertrou…. Aikôna!

Vriendelike Frikkie ·

Statistiek is vir die redenaar soos ‘n lamppaal vir die dronke. Hy staan nie daar vir die lig nie, maar vir die ondersteuning.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.