Covid-19: Sassa-toelae dié maand vroeër betaal

(Argieffoto: GCIS)

Die Suid-Afrikaanse agentskap vir maatskaplike sekerheid (Sassa) het aangekondig hy gaan maatskaplike toelae te midde van die verspreiding van die nuwe koronavirus vroeër betaal.

Pensioenarisse en diegene met gestremdhede sal op 30 en 31 Maart hul toelae ontvang. Ander begunstigdes se toelae sal van 1 April beskikbaar wees, het die regeringsnuusagentskap SA News berig.

Die besluit om die toelae vroeër te betaal is geneem in die lig van pres. Cyril Ramaphosa se aankondiging verlede naweek dat Covid-19 tot nasionale ramp verklaar word.

Sassa het met kleinhandelaars, die bankbedryf en die verbruikersraad vergader om ʼn volhoubare aanslag te volg om toelae vroeër te betaal in ʼn poging om lang toue by betaalpunte te voorkom.

“Ons weet die uitwerking van Covid-19 gaan veel erger deur die weerloostes in die samelewing gevoel word, veral ouer burgers,” het Lindiwe Zulu, minister van maatskaplike onwikkeling, gesê.

Die departement sal amptenare by alle betaalpunte ontplooi om te verseker uitbetalings word ingevolge die bepalings van die Wet op Rampbestuur gedoen.

Volgens Zulu sal bykomende maatreëls ook ingestel word om die hoeveelheid mense by betaalpunte behoorlik te bestuur.

“Dit word gedoen sodat higiëneprotokol en sosiale distansiëring gevolg word,” het sy gesê.

Die departement het begunstigdes ook gevra om vir hul eie veiligheid nie op die eerste betaaldag hul geld te onttrek nie en gebiede te vermy waar groot getalle mense byeen is.

Sodra die geld inbetaal is, bly dit beskikbaar.

“Daar is geen rede om al die geld voor ʼn spesifieke datum te onttrek nie,” het Zulu gesê.

Begunstigdes word ook gevra om hulle debietkaarte te gebruik vir betalings, eerder as om kontant te gebruik.

Veral ouer mense is vatbaar vir die nuwe koronavirus wat wêreldwyd reeds meer as 12 000 lewens geëis het.

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Scalla ·

Maak dit n permanente reëling, versprei die vertrapping by instellings.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.