Covid-19: Shoprite stel mobiele klinieke bekend om druk op staat te help verlig

Die Shoprite-groep het plastiekmaskers aan sy werkers verskaf en stel verskeie mobiele klinieke bekend om in die stryd teen Covid-19 te help. (Foto: Shoprite)

Die kleinhandelgroep Shoprite het bykomende maatreëls in werking gestel om nie net sy werkers nie, maar ook klante teen die nuwe koronavirus te probeer beskerm.

Werkers se temperatuur word deesdae daagliks geneem wanneer hulle vir diens aanmeld en mobiele klinieke word in werking gestel.

Werkers het verlede week al plastiek gesigskilde gekry en streng higiëniese en ontsmettingsmaatreëls geld by Shoprite-winkels, verspreidingsentrums en kantore in ʼn poging om die inkopie-omgewing virusvry te hou, het die groep in ʼn verklaring gesê.

Shoprite het reeds vier klinieke by sy verspreidingspunte in Brackenfell, Canelands, Centurion en Cilmor beskikbaar gestel. Vyf mobiele klinieke is in Gauteng en vier in die Wes-Kaap in werking gestel en nog agt mobiele klinieke sal vandeesweek nog in KwaZulu-Natal, Limpopo en die Vrystaat aankom.

Die klinieke gaan in dig bevolkte gebiede ingespan word waar staatsklinieke tans onder enorme druk verkeer.

“Ons gaan voort om proaktiewe stappe te doen om ons werkers en klante te beskerm terwyl ons ʼn noodsaaklike diens verrig om kos aan die land te verskaf,” het Shoprite se uitvoerende hoof, Pieter Engelbrecht, gesê.

Sedert die eerste geval van die virus in Suid-Afrika bevestig is, het Shoprite verskeie maatreëls ingestel om higiëne en ontsmettingsmaatreëls te verbeter.

Klante word gevra om van die handontsmettingsmiddels in winkels gebruik te maak en lappies vir gebruik op winkelwaentjies en mandjies is beskikbaar.

Werkers dra reeds gesigsmaskers wat uurliks ontsmet word en betaalpunte en ander oppervlakke, ook die kaartmasjiene, word gereeld onsmet.

Shoprite sê sosiale distansiëring word streng toegepas en veiligheidsbeamptes monitor die getal klante wat die winkel binnegaan en verlaat.

Die winkels het ook spesiale betaalpunte vir gesondheidswerkers en wetstoepassers beskikbaar gestel sodat hulle vinnig gehelp kan word. Dieselfde geld vir bejaarde en kwesbare klante.

Wil jy op die hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Strandloper ·

Dankie Shoprite! Ek daag die res uit om dieselfde te doen! Die regeering aleen kan nie die mas op kom nie!

Genis ·

Ek het dit nog nie gesien nie, maar wel gedaan.. toe ek laas week in Hyper Checkers Mayville Pretoria was, was die tellers nie beskerm nie…

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.