Covid-19: Só keer leerders terug

ʼn Skool word ontsmet teen Covid-19 (Foto: Ayanda Ndamane/ANA)

Angie Motshekga, die minister van basiese onderwys, het Sondag bevestig watter vordering gemaak is sedert die skole in die Covid-19-omgewing oopgemaak het en ook terugvoer gegee oor die terugkeer skool toe van nog grade.

Motshekga het gesê sedert graad 7 en graad 12-leerders op 8 Junie 2020 teruggekeer het, moes 968 skole weens Covid-19-gevalle toemaak en weer oopmaak. Dit is slegs sowat 4% van die altesaam 25 762 privaat- en staatskole landswyd. Dit duur gemiddeld drie dae om ʼn skool te ontsmet voor onderrig kan hervat.

Altesaam 2 740 onderwysers van die totale onderwyserskorps van 440 000 onderwysers, is deur die virus geraak. “Dit verteenwoordig minder as 1% van alle onderwysers. In dieselfde periode is 1 260 leerders deur die virus geraak – dit is 0,01% van ons leerders,” het Motshekga bygevoeg.

Die hoogste getal gevalle was in die Wes-Kaap, Oos-Kaap en Gauteng.

“Ons het ongelukkig 11 onderwysers en vier personeellede aan die dood afgestaan weens Covid-19. Drie leerders het ook weens Covid-19 gesterf. Dit is belangrik om te noem dat dié onderwysers en leerders nog nie kans gehad het om terug te keer skool toe nie. Ons innige meegevoel aan die betrokke families.”

Motshekga het gesê die departement word steeds beperk deur Covid-19-verwante uitdagings en kan nie bekostig dat alle leerders op dieselfde tyd terugkeer nie. “Ons verskaf steeds voortdurend ondersteuning aan leerders by die huis deur ʼn verskeidenheid van platforms soos die radio, televisie, aanlyn en natuurlik in die skool. Ons het 197 webwerwe wat goeie kurrikulum-inhoud bevat en mens kan toegang kry daartoe, of jy data het of nie.” ʼn Lys van dié webwerwe is beskikbaar by www.education.gov.za

Vandalisme by skole

Byna alle provinsies is besig met herstelwerk aan 1 718 skole wat tydens die afsonderingsperiode onder vandale deurgeloop het. “Dit is kommerwekkend dat die misdadigers steeds verwoesting saai,” het Motshekga bygevoeg.

In Gauteng is 351 skole geteiken en ses skole is die afgelope week gevandaliseer. Rooftogte het plaasgevind by skole wat reeds vantevore geteiken is.

In Noordwes is drie klaskamers vandeesweek beskadig weens brandstigting.

Oriëntasie by skole

Oriëntasieprogramme vir skoolhoofde, skoolbestuurspanne, personeellede en onderwysers is ontwikkel en na skole ontplooi. Graad 7 en graad 12 leerders het ook op hul eerste skooldag die oriëntasie ondergaan.

Motshekga het gesê provinsies is besig om voorbereidings af te handel wanneer grade op 6 Julie, 3 Augustus en later terugkeer.

Uitdagings met ruimte en spasie by skole

“Toe graad 7 en graad 12-leerders op 8 Junie teruggekeer het, was daar nie enige uitdagings wat ruimte en skoolmeubels betref nie. Maar ons ondersoek dui aan dat talle skole uitdagings gaan beleef sodra nog grade terugkeer skool toe.”

Sy het gesê byna alle skole sal ʼn kreatiewe benadering moet volg wat betref roosters en klaskamerbestuur om seker te maak dat die nodige reëls oor sosiale distansiëring gevolg kan word.

Skole het onder andere die opsie dat verskillende grade op verskillende dae van die week skool gaan.

Aangepaste kurrikulum

“Ons is pynlik bewus dat baie skooldae reeds verlore gegaan het en vir baie grade gaan nóg skooldae verlore gaan. Ons word bemoedig dat die bygewerkte jaarlikse onderrigplanne ontwikkel en deur provinsies aanvaar is en aan skole en onderwysers gekommunikeer is. In sommige gevalle word kreatiewe benaderings gevolg soos om onderwysers op te lei om van Microsoft Teams en ander virtuele opsies gebruik te maak.”

Sy het bygevoeg dit is noodsaaklik dat jong mense konstruktief besig gehou moet word deur die skool omdat die jong klomp, veral die mees weerlose groep, deur maatskaplike uitdagings in die gesig gestaar word soos geweld, onbeplande swangerskappe, dwelmmisbruik en talle ander maatskaplike probleme.

Terugkeer van grade

Die raad van onderwysministers (CEM) het bepaal dat slegs graad R, graad 6 en graad 11 op 6 Julie 2020 sal terugkeer skool toe.

Die CEM het aangedui dat provinsies, wat nog nie gereed is om graad R te ontvang nie, strategiese en daadwerklike planne moet indien om dié leerders in die skool terug te laat voor einde Julie 2020. Provinsies wat gereed is om graad R-leerders reeds vanaf Maandag te ontvang, kan daarmee voortgaan.

“Alle graad R- en voor-graad R-leerders, wat reeds teruggekeer het skool toe, moet in die skool bly. Skole wat aan die gesondheid-, veiligheid en sosialedistansiëringsprotokol voldoen, kan oopmaak vir graad R en voor-graad-R-leerders.”

Sy het gesê die departement werk steeds saam met die nasionale verenigings wat verantwoordelik is vir leerders met spesiale behoeftes om die terugkeer van dié leerders ook vaartbelyn te maak. CEM het ook ingestem dat alle grade wat deel vorm van die tweede groep, kan terugkeer skool toe in ʼn ordelike trapsgewyse fase voor, maar nie later nie, as die einde Julie 2020.

Impak van die ontwrigting

Motshekga het gesê dit is belangrik om te noem dat die tydelike sluiting van minder as 4% van skole ná die skole weer op 8 Junie 2020 oopgemaak het, baie beter is as ʼn grootskaalse sluiting oor dieselfde of selfs ʼn langer periode. “Dit sal ʼn onaanvaarbare vlak van verlies aan onderrig en voedselprogramme beteken vir ʼn hele generasie kinders met ʼn gevolglike agteruitgang van maatskaplike omstandighede en ekonomiese ongelykhede vir die toekoms beteken.

“Dit was nog nie moontlik om die impak van die huidige skoolsluitings op onderrig te bepaal nie omdat daar nog nie enige beduidende assesserings van leerderprestasie gedoen is nie. Die internasionale en plaaslike bewyse rondom die tipiese impak van ʼn verlies aan onderrig weens rampe, stakings, ens., wys daarop dat verliese moontlik groter kan wees as die werklike dae wat verlore gegaan het. Dit is grootliks omdat die ontwrigtings daartoe gelei het dat die leerders vergeet het wat hulle reeds geleer het.”

ʼn Opname sal gedoen word om inligting in te samel oor kindersorgaktiwiteit, kinder-hongersnood en toegang tot opvoedkundige inhoud wanneer kinders by die huis moet bly en nie skool toe kan gaan nie.

“Voorlopige (ongepubliseerde) uitslae van die eerste golf van data wys op ʼn beduidende toename in kinder-hongersnood sedert die afsonderingsperiode begin het. Die opname wys ook op ʼn beduidende toename in kindersorgverantwoordelikheid met ʼn toename in die las wat grootliks op vroue se skouers rus. Die opname bevestig ook dat minder as ʼn derde van kinders opvoedkundige inhoud deur die internet opgesoek het. Groter hoeveelhede kinders het boeke, die televisie en radio gebruik. Die doeltreffendheid van die laaste twee aktiwiteite is nie duidelik nie, maar sal waarskynlik baie minder intensief wees teenoor die bywoning van skool.

“Die opname bevestig ook die nut van boeke en gedrukte materiaal wat leerders huis toe kan neem en in gemeenskappe, waar daar nie baie hulpbronne is nie, kan gebruik.

“Ons sal ʼn gesprek voer oor die bevindings van die opname sodra die uitslag vrygestel word.”

Risiko om die skole oop te maak

Motshekga het gesê die departement het nog nie in hierdie stadium enige data of datums vir die infeksies en bevestigde gevalle van Covid-19 onder onderwysers en leerders in Suid-Afrika nie. “Nog minder enige geldige manier om oordrag toe te skryf aan die impak om skool by te woon. Ons moet dus staatmaak op ʼn paar van die beste internasionale studies wat gedoen is en kundige epidemiologiese sienings.”

Kenners se begrip het teen April 2020 verskuif van die virus, as ʼn verkoue-agtige virus wat maklik deur kinders versprei kan word, na die begrip dat jong kinders nie eintlik besmet word deur die virus nie maar dat hulle ook baie swak oordraers is van die virus, het Motshekga bygevoeg.

“Dit is gedeeltelik waarom internasionale liggame versoek het dat skole weer hul deure moet oopmaak en hoekom lande, soos Suid-Afrika, die skole redelik vinnig weer oopgemaak het. Buiten kommer oor gesondheid, welstand en beskerming teen probleme in die samelewing, is die impak van verminderde onderrig baie duidelik. Die vordering en verbetering wat die afgelope twee dekades gemaak is, kan ongedaan gemaak word hoe langer kinders uit die skool bly.

“Die epidemiologiese rasionaal word egter nie goed begryp deur die publiek nie. As ʼn gevolg oorskat talle ouers en onderwysers die persoonlike gesondheidsrisiko’s en dit kan tot uitermatige risiko-vermyding lei, wat nadelig is vir onderrig. Terselfdertyd is die feit dat ouer kinders en tieners meer waarskynlik die virus kan oordra en dat strategieë op primêre en sekondêre vlak anders moet wees, nie duidelik gekommunikeer nie.

“In ʼn omgewing van begrotingsbesnoeiings is die uitbreiding van toegang tot materiaal en voorskoolse onderrig egter veral kwesbaar weens die pandemie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Robert ·

Waar is die statestieke van mense wat oorlede is of herstel het wat rokers is of was? Ek kry geen statestiek rakende rook verwante sterftes as gevolg van Covid-19 nie.
Pad ongelukke as gevolg van drank misbruik is geredelik beskikbaar.
my 1sent

Wendy ·

Net so oor die 3000 mense is soos van Covid uit ‘n land van 58 miljoen mense. Klink ook nie so erg nie. Hoekom hervat julle nie parlement nie, want volgens die ANC beleid maak niemand se lewens saak behalwe die ANC s’n nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.