Covid-19: Só lyk Gauteng, Wes-Kaap se syfers

(Foto: Brian Inganga/AP)

Altesaam 909 Covid-19-gevalle is nou in Gauteng bevestig – en volgens die provinsie is dit “bemoedigend” dat die meeste van dié pasiënte nie hospitaalbehandeling benodig het nie.

Teen Woensdag het 62 mense in Gautengse hospitale behandeling vir die nuwe koronavirus gekry.

Kwara Kekana, woordvoerder van die Gautengse departement van gesondheid, het gesê 399 mense in die provinsie het reeds van die virussiekte herstel.

“Die departement is ook tevrede dat uit die 5 625 kontakte (mense wat in kontak was met ander wat positief vir Covid-19 getoets het) 1 694 ontslaan en as vry van die virus verklaar is,” het Kekana gesê.

Die meeste van die provinsie se Covid-19-gevalle is in Johannesburg (551) aangemeld en die tweede meeste in Ekurhuleni aan die Oos-Rand (148). Sedibeng (Vereeniging en Vanderbijlpark) het nege gevalle, die minste in die provinsie.

Die Wes-Kaapse premier, Alan Winde, het Dinsdag ʼn bywerking van die provinsie se jongste Covid-19-gevalle gegee. Teen gister is 657 gevalle in dié provinsie bevestig en 184 pasiënte het reeds van die virussiekte herstel.

“Daar word tans 35 Covid-19-positiewe pasiënte in hospitale in die provinsie behandel. Van hulle is 18 pasiënte in intensiewe sorg.”

Die meeste van die Wes-Kaap se gevalle is in die westelike sub-distrik van die Kaapstadse metro aangemeld. Meer as 200 mense daar het die virus al opgedoen.

In Khayelitsha het 19 mense positief vir die virus getoets en in Mitchells Plain altesaam 16. In Tygerberg het 61 mense Covid-19 opgedoen.

Die provinsie is tans besig om inwoners in tientalle buurte vir die virus te toets.

Winde het intussen sy kommer uitgespreek oor kwesbare gemeenskappe wat nie meer self die vermoë het om kos op die tafel te sit nie. Die Wes-Kaapse regering het reeds R53 miljoen vir bykomende finansiering van skoolvoedingsprogramme bewillig, asook vir die eenmalige verspreiding van 50 000 kospakkies.

Maroela Media het vroeër berig onrus het Dinsdag in Mitchells Plain uitgebreek waar van dié kospakkies uitgedeel is. Winkels is ook geplunder.

Winde het ook die besluit van die Suid-Afrikaanse agentskap vir maatskaplike sekerheid (Sassa) om kos te begin versprei, geloof.

Aansoeke vir die provinsie se kospakkies word op ʼn individuele grondslag oorweeg. ʼn Kospakkie sal ʼn gemiddelde gesin vir ʼn maand lank onderhou en begunstigdes moet aan spesifieke bepalings voldoen.

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
Johan

Ai, ek dink die regering reageer oordrewe en die skade aan die ekonomie gaan baie meer mense laat doodgaan as wat die virus sou. Lyk vir my ook al meer na n verkoue wat soos alle long siektes die oumense die meeste vang. Dalk moes hul die miljoene wat hul aan ons ekonomie skade doen eerder gebruik het om ons mediese sorg so te kry dat dit die mense kan help….nou ja, ons sal maar moet sien. Hier kom nog baie swaarkry.