Covid-19: Só lyk gevalle in Limpopo, Gauteng

(Foto: pixabay)

Die departement van gesondheid in Limpopo het Sondag gesê altesaam 30 Covid-19-gevalle is tot dusver in dié provinsie aangemeld. Twee pasiënte het reeds aan die virussiekte gesterf.

Die departement het Sondag gesê 24 mense het reeds herstel en daar is in dié stadium vier aktiewe Covid-19-gevalle.

Limpopo

Een van die slagoffers is ʼn 55-jarige man wat in Kaapstad as ʼn vryskutwerker in die filmbedryf, maar ook as tradisionele geneser gewerk het. Hy het glo siek geword terwyl hy in Kaapstad was en sy seun het hom na Limpopo geneem waar hy ʼn tradisionele geneser en ʼn profeet besoek het.

Die man se toestand het versleg en sy gesin het hom na ʼn dokter geneem. Hy is sowat ʼn halfuur nadat hy by die private dokterspraktyk aangekom het, dood, het die departement gesê.

Daar is intussen begin met ʼn proses om diegene met wie die man in aanraking gekom het, op te spoor. Die departement het gesê die slagoffer se seun gee egter nie sy volle samewerking in dié verband nie.

Die dokterspraktyk is ook intussen ontsmet. Die dokter en vyf van sy personeellede is vir Covid-19 getoets en is tans in kwarantyn. Die praktyk is tydelik gesluit.

Die departement het ʼn beroep op inwoners gedoen om nie mekaar op te sweep teen diegene wat die virus opgedoen het nie. “Ons doen ook ʼn beroep op gemeenskappe om saam met ons opsporingspanne te werk om die kontakpersone van diegene wat positief getoets het, op te spoor sonder dat hulle gestigmatiseer word.”

Die provinsie sê hy het reeds met ʼn reuseprogram begin om die virus te stuit. Meer as 800 000 huishoudings is reeds besoek en sowat 2,7 miljoen siftingstoetse is al gedoen. Byna 3 000 mense is vir toetse verwys en 1 770 toetse is afgehandel. Net een van dié mense het positief vir Covid-19 getoets.

Die departement sê in dié stadium lyk dit nie of gemeenskapsoordrag ʼn groot probleem is nie, maar interprovinsiale oordrag van siekte is wel die grootste bron van kommer.

Die ekonomie word van Vrydag af ook weer stadigaan oopgestel en die departement sê hy is bekommerd oor die hoë risiko wat bykomende reise kan inhou.

Gauteng

In Gauteng het 1 304 mense nou reeds positief vir Covid-19 getoets, ʼn styging van 23 sedert die vorige syfer Saterdag bekend gemaak is.

Altesaam 855 mense het reeds van die virussiekte herstel en die sterftesyfer weens Covid-19 in die provinsie is onveranderd op agt.

Altesaam 65 mense word in staats- en private hospitale vir die siekte behandel.

Maroela Media is bewus daarvan dat daar soms teenstrydighede is in die Covid-19-syfers wat in berigte aangehaal en in grafieke aangedui word. Die syfers word egter net so oorgedra uit inligting wat van die departement van gesondheid ontvang word. – Red.

Wil jy op die hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Anel ·

Nogal jammer daar word nie so te kere gaan met moorde, verkragtings en ander tipe aansteeklike siektes soos cholera, vigs en TB nie. Of wat van gewone griep en verkoue? Hoeveel geld is nou al vermors en wie betaal vir al die toetse? Ek is nou al so keelvol vir hierdie hele storie. Dit mask net eenvoudig nie vir my sin nie. En hoeveel mense is nou regtig dood suiwer aan die virus en nie as gevolg van onderliggende siekte nie?

Eerlik ·

Hoekom was die man nie ook in n tering hospitaal toegesluit nie?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.