Covid-19: Só lyk gevalle in Wes-Kaap

Premier Alan Winde

Die Wes-Kaap het teen Saterdagmiddag ʼn totaal van 2 783 bevestigde Covid-19-gevalle en 52 sterftes aangemeld.

Volgens premier Alan Winde het 779 mense in die provinsie reeds van die virus herstel. Winde het gesê 114 mense word in hospitale behandel vir Covid-19, van wie 39 in hoësorg-eenhede behandel word.

Daar is reeds meer as 39 000 Covid-19-toetse in die provinsie gedoen, waarvan meer as 15 600 in die afgelope week gedoen is. “Daar is ook meer as 250 000 mense gesif oor die afgelope maand en sifting en toetsing in gemeenskappe gaan voort.”

Winde het gesê die Wes-Kaapse regering het ʼn meer rigiede benadering begin volg om aktief gevalle op en na te spoor en om sifting en toetsing in geïdentifiseerde gebiede te doen.

Daar is intussen ʼn versoek aan pres. Cyril Ramaphosa gerig om landsvlae by nasionale sleutelpunte op Woensdae halfstok te laat hang om diegene wat hul lewens verloor het weens die Covid-19-pandemie te eer en te herdenk. Winde het vroeër die week ʼn skriftelike versoek in die verband aan Ramaphosa gerig.

“Dit is ’n eenvoudige manier om ons solidariteit te betoon met diegene wat geliefdes verloor het, en diegene wat hard op die voorste linies werk, in ooreenstemming met ons etos as ʼn regering wat omgee. Ek hoop dat die president ons voorstel gunstig sal oorweeg.”

Winde het ook weer bevestig dat hy die nasionale regering sal versoek om voorsiening te maak vir bykomende tye vir oefening tydens dagligure. Die nuwe vlak 4-regulasies maak slegs voorsiening vir mense om tussen 06:00 en 09:00 te oefen in ʼn radius van 5 km van hul huise af.

Jongste beskikbare Covid-19-gevalle in die Wes-Kaap:

Kaapstadse metro: Westelike voorstede (453), suidelike voorstede (276), noordelike voorstede (155), oostelike voorstede (281), Tygerberg (443), Klipfontein (240), Mitchells Plain (218) en Khayelitsha (332). Totaal van 2 398.

Tuinroete: Bitou (5), Knysna (15), George (14), Hessekwa (6), Mosselbaai (19) en Oudtshoorn (3).

Kaapse Wynlande: Stellenbosch (21), Drakenstein (19), Breedevallei (26), Langeberg (4) en Witzenberg (125).

Overberg: Overstrand (12), Theewaterskloof (1), Kaap Agulhas (2) en Swellendam (1).

Weskus: Saldanhabaai (3), Swartland (10) en Bergrivier (1).

Nie toegewys nie: 98

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Harold ·

My koppie is seker te klein,maar ek kan dink nie hoe die Kaap sover voor is nie,toets ons beter as ander,of is daar ander motiewe ?Tot n Kaart doen die rondte waarvan die naam Weskaap met Wohan vervang is!Dankie tog ,ek dink in Wohan het dit eerste begin opklaar

Strandloper ·

Wees rustig asb….die res van die land kan nie tel nie!

Anel ·

Raas die man se kop of wat rook hy? Vlae halfmas vir die wat dood is! Wat van ons mense, boere wat vermoor word? Die mense wat kos op jou tafel sit? Beteken hulle dood dan niks? Die vlae sal permanent halfmas hang vir al die mense wat in die land vermoor word. Verder kan ek nie sê wat ek dink nie…!

Strandloper ·

Wonder ook hoekom Helderberg nou skielik oostlike voorstede is?

Willem ·

Mnr Winde gaan vind uit wat fout is met die ander prov se syfers

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.