Covid-19: Só lyk gevalle, sterftes in SA

(Foto: Denis Balibouse/Keystone via AP)

ʼn Totaal van 1 585 gevalle van Covid-19 en nege sterftes is reeds in Suid-Afrika bevestig.

Dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid, het Saterdagaand in ʼn verklaring gesê dit is ʼn styging van 80 gevalle vandat vorige syfers bekend gemaak is.

Gauteng het steeds die meeste Covid-19-gevalle met 693. Alan Winde, premier van die Wes-Kaap het vroeër vandag gesê daar is 446 positiewe gevalle in die provinsie. Volgens Mkhize se verklaring is daar 433 bevestigde gevalle in die Wes-Kaap.

Volgens die gesondheidsdepartement is daar 232 gevalle in KwaZulu-Natal.

Die nege mense wat reeds aan Covid-19 dood is, sluit in ʼn 48-jarige vrou van die Wes-Kaap, ʼn 85-jarige man van die Vrystaat en ʼn 79-jarige man van Gauteng. Die ses ander sterftes is almal in KwaZulu-Natal aangemeld – vier vroue tussen 46 en 80 jaar oud en twee mans, onderskeidelik 74 en 80 jaar oud.

Mkhize het ook bevestig dat 11 bevestigde gevalle van Covid-19 by die Netcare St Augustine-hospitaal in Durban bevestig is en dat daar reeds drie sterftes in die hospitaal was.

Die minister het enige persone wat van 1 Maart tot nou ʼn pasiënt by die hospitaal was versoek om kontak te maak met die provinsiale gesondheidsdepartement.

“Ons betuig ons innige meegevoel met die families en geliefdes van die oorledenes. Ons wil graag ook ons dank betuig aan die dokters, gesondheidsorgwerkers en personeel van die hospitaal vir hul toewyding selfs in dié moeilike tyd.”

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

11 Kommentare

jongste oudste gewildste
Pieter

Ek sê mos ek glo nie Mkhize se totale nie. Hou dop hoe die “herstel” syfers deurgans nie sin maak nie. Hulle steek weg wat regtig aan die gang is. ‘n Verskil van 13 in die Wes Kaap en hoeveel in die ander provinsies? Nee ek wonder maar net hardop by myself…

Cecil

Op die stadium Sondag 4 April 07h15 is die aantal sterftes heelwat laer as wat ek op gereken het.

Michael 1

Ek glo nie hierdie totale is reg nie ek kan net spekuleer hoekom.

Patter

Ek betwyfel die gegewe satistieke. Dit strook nie met die res van die wereld se se verspreidingskurwes itv groei en sterftes nie. Let ook op na die groot val in bevestigde gevalle direk na die inperkingsbevel. Dit dui moontlik daarop dat die inperkings aanmeldings eerder as verspreiding geïnhibeer het. Die dodesyfer moet ook baie hoër wees. Die feit dat die meeste aanmeldings van privaat hospitale af kom, is ook verdag.

jzjz05

Seker maar politieke korekte aanmeldings,of dit kan dalk aan Zuma rekenkunde toe geskryf word