Covid-19: So lyk SA pasiënte se ouderdomme

(Foto: Brian Inganga/AP)

Die departement van gesondheid het Maandag statistiek oor die ouderdom van Covid-19-pasiënte bekendgestel. Dit is die eerste keer wat die departement dié statistieke bekendmaak.

Die meeste pasiënete wat die afgelope twee maande positief getoets het vir Covid-19, is tussen die ouderdom van 20 en 60 jaar. Die grootste persentasie pasiënte (24% of 768 mense) val in die ouderdomsgroep 31 tot 40 jaar. Altesaam 628 pasiënte (19%) is tussen die ouderdom van 21 en 30 jaar en 594 (18,8%) is tussen die ouderdom van 41 en 50 jaar. Ongeveer 15% (505) van pasiënte is tussen die ouderdom van 51 en 60 jaar.

Net meer as 200 (6%) is jonger as 21 en 166 (5,2%) is ouer as 70 jaar. Laasgenoemde is die ouderdomsgroep met die minste gevalle.

Nog vier pasiënte het intussen weens die virus omgekom. Die land se dodetal staan nou op 58 met 1 055 mense wat reeds van die virus herstel het. Volgens Maroela Media se berekeninge is die sterftekoers 1,76% van die totale positiewe gevalle. Dit dui op ʼn geleidelike toename van 0,2% ʼn maand gelede.

Volgens Zweli Mkhize, minister van gesondheid, is 121 510 mense reeds in die private en openbare sektor getoets vir Covid-19. Van diegene is 67% (80 812) in die private sektor en 33% (40 698) in die openbare sektor getoets. Toetse wat in staatsinstellings gedoen word, het wel beduidend begin toeneem sedert 16 Maart, van 1 390 per week tot byna 20 000 toetse per week.

Die departement van gesondheid het by ʼn vorige geleentheid aangedui die aantal gevalle sal na verwagting toeneem namate die land se toetsvermoë verbeter. Prof. Anton Stoltz, hoof van die departement aansteeklike siektes aan die Universiteit van Pretoria, stem hiermee saam.

Stoltz glo egter nie Suid-Afrika is in staat om meer mense te toets as wat reeds gedoen word nie. “Ons doen wat ons kan,” het hy Maandag aan Maroela Media gesê.

Prof. Anton Stoltz (Foto: Reint Dykema)

Stoltz verduidelik dat toetse tot 48 uur kan neem om af te handel. Daar moet ook dubbel seker gemaak word dat die toets akkuraat is, wat tyd in beslag neem. “Ek twyfel of ons baie meer sal kan toets as wat ons reeds doen, tensy ons ʼn ander manier van toets kry waar toetse vinniger gedoen kan word.”

Stoltz vermoed dat nog baie gevalle in Suid-Afrika aangemeld gaan word. “Ons is nog nie in ons uitbrekingfase nie. Ek dink dit kom,” sê hy.

Volgens Stoltz is daar verskeie faktore wat daartoe bydra dat Suid-Afrika nog nie groot getalle gevalle soos ander lande beleef het nie. Hy sê dat meer mense in die Noordelike Halfrond van lugverkeer gebruik maak, en dat minder mense wat met Covid-19 besmet is aanvanklik die land binnegekom het.

Hy glo ook dat daar baie pasiënte in Suid-Afrika is wat die virus opgedoen het, maar geen simptome toon nie. Diegene klop dus nie aan vir hulp nie en word dus nooit getoets nie. “Die kans is ook goed dat dié mense negatief sal toets. Sommige mense moet twee tot drie keer getoets word voordat hulle uiteindelik positief toets,” sê Stoltz. Daarom meen hy vir elke persoon wat positief toets, daar nog 50 ander is wat die virus onder lede het, maar nog nie positief getoets het nie.

Stoltz meen dit is ook te vroeg om te bepaal of die algehele landwye afsondering die rede is waarom relatief min gevalle daagliks aangemeld word teenoor ander lande.

Hy glo egter dat Suid-Afrika vroegtydig opgetree het met die instel van ʼn staat van afsondering. Sou die afsondering eindelik opgehef word, raai Stoltz Suid-Afrikaners aan om nie groot byeenkomste by te woon nie.

“Ons moet nog ʼn paar maande sosiale afstand handhaaf.”

Hy voeg by dat voorsorgmaatreëls soos die was van hande ook steeds moet geld. Hy raai ook aan dat mense maskers dra. “Dit gaan jou nie help as jy nie siek is nie, maar dit help ander mense wat jy moontlik kan aansteek,” het Stoltz gesê.

So lyk die ouderdomsgroepe van Suid-Afrika se Covid-19-pasiënte:

OuderdomsgroepVroulikManlikOnbekendTotaal
Onbekend77014 (0,4%)
1-10 jaar3448183 (2,6%)
11-20 jaar69670136 (4,3%)
21-30 jaar3652594628 (19,9%)
31-40 jaar4563093768 (24,3%)
41-50 jaar oud****
51-60 jaar2482543505 (15,9%)
61-70 jaar1281351264 (8,4%)
71-80 jaar54751130 (4,11%)
81-90 jaar2311034 (1,1%)
91-100 jaar3432503596 (18,8%)
Totaal1727 (54,7%)1415 (44,8%)16 (0,51%)3158 (100%)

 

* Die departement het nie die syfers vir dié ouderdomsgroep verskaf nie.

Wil jy op die hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Kliek hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Andrew ·

Sedert 16 Maart 20 000 toetse per week maal 5 weke = 100 000 toetse

Minister ; 121 510 toetse waarvan 80 812 privaat en 40698 getoets was.

En die antwoord is? Julle kon onmoontlik 20000 toetse n week vir 5 weke gedoen het met daai wiskunde.

antieke antie ·

die regering se wiskunde is nog altyd rede vir spot

Adam Adriaan ·

Hoeveel mens is in die oorstemmende tydperk vermoor/ aan TB en soortgelyke siektes dood. Ek is van mening baie meer as wat Covid-19 opgelewer het. Dan vra ek is die kool die sous werd. Is dit nie maar wêreld wyd ‘n media gedrewe histerie veldtog om die finansiële chaos te veroorsaak, soos gedurende die twee vorige wêreld oorloë?

Dis my mening ·

Ek stem saam met jou Adam! Gaan Google dit en sien wat veroorsaak die meeste afsterwes wêreldwyd, dan sien mens verkoue verwante siektes is oor die 500 000 jaarliks!
Laasjaar se statistieke vir moorde in SA is oor die 22 000 mense!

Jaco ·

Wanneer kom die rassesamestelling van die COVID-19 gevalle? Alles anders in SA draai dan om ras.

Paul Pieter ·

Byna 50% van die covid19-pasiënte is ouer as 50 jaar…………….en meer as 50% van die covid19-pasiënte is jonger as 50 jaar. Dus , die jonger mense is meer vatbaar vir die siekte.

Chris ·

Ek dink Afrikaner mensies gaan by. verre in die meerderheid wees. Ons immuun stelsel is swak want ons kom met min kiemme in aanraking.

Kobus ·

Soos Stolz hierbo aandui, SA is nog nie by die uitbreking stadium nie, Adam en Anel- jul dink steeds dit is net n ongerieflike verkoue. In die VSA was daar 11 sterftes op die 5de Maart, 11000 n maand later en afgelope week het die sterftes verdubbel na 42000. Histerie oor niks, onthou julle woorde…

Marina ·

Ja-nee Johan, kyk ek het nie geweet ons het soveel bejaardes oor die ouderdom van 91 nie, lol. Ek wonder in elk geval of die syfers korrek is in elk geval.

antieke antie ·

klink of die meeste sterfdes hoe ouderdom gehad het… so enige siekte kon hulle dood veroorsaak het ….

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.