Covid-19: Só lyk SA plan om burgers te repatrieer

Dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid, stippel Sondag die regering se plan uit om Suid-Afrikaners in Wuhan, China, na Suid-Afrika terug te bring. (Foto: GCIS)

Terwyl die regering voorberei om ʼn groep Suid-Afrikaners in Wuhan, China, na Suid-Afrika te repatrieer, het die regering Sondag bevestig dat geen gevalle van Covid-19 (koronavirus) nog hier aangemeld is nie.

Twee Suid-Afrikaanse bemanningslede van die passasierskip Diamond Princess het wel in Japan positief vir die virus getoets. Die regering sê hy is deurlopend in verbinding met die Japanse ambassade én die skip wat langs die kus van Yokohama geanker lê.

“Die burgers is in direkte verbinding met ons span om hulle vordering dop te hou en ons het die versekering gekry dat hulle besig is om te herstel.”

SA se gereedheid

Dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid, het Sondag gesê die regering het hard gewerk om te verseker die land is voorbereid en het die nodige hulpbronne en vaardighede, sou ʼn geval van die virus in Suid-Afrika aangemeld word.

ʼn Suid-Afrikaanse span monitor die wêreldwye verwikkelinge en ontledings en verskaf raad aan die betrokke plaaslike owerhede oor die land se reaksie op die uitbreking.

Mediese personeel dra ‘n pasiënt met die koronavirus op ‘n draagbaar na ‘n hospitaal in Chuncheon, Suid-Korea. Die land steier onder die skielike styging in voorvalle van die virus. (Foto: Lee Sang-hak/Yonhap via AP)

Die Sentrum vir Oordraagbare Siektes (Nios) het wel vroeg reeds van die virus kennis geneem en al twee keer vergader toe die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) ʼn amptelike aankondiging gedoen het om te verseker standaardprosedures rakende die virus word gevolg.

Mkhize sê Suid-Afrika het sy nood- operasionele sentrum geaktiveer kort nadat die WGO ʼn openbare noodgesondheidstoestand afgekondig het. ʼn Noodlyn vir klinici en die publiek is opgestel en indien enige geval van die virus in Suid-Afrika bevestig word, sal dit 24 uur per dag beman word.

ʼn Interministeriële komitee is byeengeroep om te verseker daar is koördinering tussen verskillende departemente en dat elk kan reageer op ʼn spesifieke behoefte, indien nodig, het Mkhize gesê. Die komitee bestaan uit die departemente van gesondheid, verdediging, binnelandse sake, internasionale betrekkinge en samewerking (Dirco), justisie, maatskaplike ontwikkeling en die polisie.

Mkhize sê die regering het sedert die uitbreking daagliks bywerkings gedoen – alle toetse vir die virus hier was tot dusver negatief.

“Tydens die eerste week van die uitbreking was die aantal burgers wat wou terugkeer, weglaatbaar klein. Kontak met hulle was ʼn opdraande stryd omdat talle Suid-Afrikaners nie aan die ambassade gesê het waar hulle hulle gaan bevind nie.

Mediese personeel by die Jinyintan-hospitaal (Foto: Chinatopix/AP)

“Ons moet die departement, die ambassadepersoneel en die Chinese owerhede loof omdat hulle gehelp het om ons burgers in China op te spoor,” het Mkhize gesê.

Volgens hom was die Chinese owerhede uiters hulpvaardig en is daar goed na die Suid-Afrikaners omgesien.

Al hoe meer Suid-Afrikaners het egter gevra om terug te keer huis toe en die regering het elkeen se identiteit en presiese ligging bevestig.

“Beskuldigings dat die regering diplomatieke bande met China as prioriteit gestel het, stuur gemengde boodskappe uit. Sulke bronne is swak ingelig en moedswillig; dit kenmerk ʼn poging om sensasie en omstredenheid te skep oor ʼn kwessie wat noukeurige fokus verg om die veiligheid van alle Suid-Afrikaners te verseker,” het Mkhize gesê.

Besluit om burgers te repatrieer

Nadat pres. Cyril Ramaphosa Woensdag aangekondig het dat die Suid-Afrikaners gerepatrieer gaan word, is daar dadelik ingespring om voorbereidings vir so ʼn gebeurlikheid af te handel.

“Ons kon vasstel dat daar nagenoeg 199 Suid-Afrikaners in Wuhan [die episentrum van die uitbreking] is van wie 147 wou terugkeer huis toe. Sommige is studente wat hul studie afgehandel het of diegene wie se studie deur die afsondering onderbreek is.”

Altesaam 16 burgers wil nie terugkeer nie en een Suid-Afrikaner het gevra om saam met ʼn groep Indiese burgers wat vroeër na hul geboorteland teruggekeer het, gerepatrieer te word.

Daar word in dié stadium nog na 36 Suid-Afrikaners in Wuhan gesoek.

Mkhize sê die repatriasie behels drie elemente.

Indonesiërs wat uit Wuhan, China, arriveer, word met antiseptiese middels gespuit op die Hang Nadim-lughawe in Batam, Indonesië. (Foto: Indonesiese ministerie van Buitelandse Sake, AP)

Ontruiming

Die weermag, in samewerking met Dirco en die Chinese owerhede, is hiervoor verantwoordelik. Die Suid-Afrikaners sal met ʼn huurvlug en onder streng kwarantynmaatreëls teruggevlieg word.

ʼn Mediese span sal aan boord wees en alle Suid-Afrikaners sal getoets word voordat hulle aan boord gaan. Diegene wat nie die toets slaag nie, sal in die Chinese gesondheidstelsel opgeneem word.

ʼn Grenspos word voorberei vir die ontvangs van die Suid-Afrikaners, asook vir die vliegtuig se bemanning en die mediese span.

Mkhize het nie ʼn datum vir die vlug bekend gemaak nie.

Kwarantyn

ʼn Kwarantynfasiliteit is geïdentifiseer en die weermag sal die grens daarvan patrolleer. Niemand behalwe gemagtigde personeel mag dit binnegaan nie en geen vlugte daaroor sal toegelaat word nie.

ʼn Sogenaamde niemandsland sal langs die fasiliteit geld. Enige goedere wat die fasiliteit moet binnegaan of verlaat, sal hierdeur gaan om te verseker daar is geen kontak tussen mense nie.

“Ek wil dit benadruk dat geen familielede, vriende of kennisse van diegene in kwarantyn hulle daar mag besoek nie,” het Mkhize gesê.

Personeel by die kwarantynfasiliteit sal ook aan kwarantynprotokol onderwerp word.

Mkhize het gesê indien enigiemand positief vir die virus toets, sal die persoon na ʼn voorafbepaalde hospitaal oorgeplaas word.

Vir elke geval van die virus wat bevestig word, begin die kwarantyntydperk weer by dag een.

‘n Passasier se temperatuur word op ‘n lughawe nagegaan. (Foto: ANA)

Hereniging

Mkhize het gesê indien niemand in die kwarantyntydperk positief vir die virus toets nie, sal diegene betrokke berading ontvang en toegelaat word om huiswaarts te keer. Die owerhede sal egter vir ʼn wyle steeds in verbinding met hulle bly.

Pad vorentoe

Mkhize het gesê dit is belangrik om die dinamiese aard van die virus in gedagte te hou en dat Suid-Afrika op die hoogste gereedheidsgrondslag is.

Hy het ook beloof om Suid-Afrikaners behoorlik op die hoogte te hou van enige verwikkelinge.

“Ons moet onthou hierdie groep is gesonde mense wat vir hulself ʼn lewe in Wuhan opgebou het. Dit is deur ʼn buitengewone situasie ontwrig en terwyl die operasie ontvou, is dit belangrik om hul veiligheid en waardigheid – asook die publiek se veiligheid – te beskerm,” het Mkhize gesê.

Hy sê die regering het intussen ook kennis geneem van die verhoogde voorkoms van Covid-19 in talle wêrelddele en het reisigers gevra om dadelik mediese hulp te kry as hulle enige simptome toon.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Michael ·

Die weermag en anc regering is betrokke en almal wat in suid afrika bly ken hulle geskiedenis en hoe hulle funksioneer, daarom gaan ek myself voorberei vir die ergste.

marius ·

Kan nie eers die rou riool wat die hele land besmet aanspreek nie , maar wil die land gerus stel dat hulle gereed is vir ‘n pandemie wat die WGO bevestig as onstuitbaar ?

Hansie slim ·

Ek hoor nie dat die Sjinese hier in hulle duisende, wel getoets is nie!!! Van hulle kuier gedurig oor en weer!! Maar hulle is die ANC se pêlle!!

Grassie ·

Hulle kan so versigtig wees as wat hulle wil, maar as hierdie virus eers ‘n plakkerskamp tref gaan dit landwyd soos ‘n veldbrand versprei. Hoop maar dit word ons gespaar.

Willie ·

Hulle kon nie eers die polony siekte hanteer nie. Wat nog te sê van Covid 19… Asseblief.

Jaco ·

‘n swart regering met ‘n houding en beleid teenoor wit mense wat grens aan haat, gaan meestal wit SA burgers (eintlik 2de klas burgers) repatrieer. Iewers moet ‘n “catch” of ‘n verskuilde agenda wees.
As ek nou in China was, sou ek aangebly het. Bedreiging deur ‘n virus is steeds veel beter as om in ‘n land te bly waar ek GEDURIG oor my skouer moet kyk, alles sluit, werksdiskriminasie moet ervaar NET omdat my velkleur “verkeerd” is ens ens.

Sean ·

Maak julle gereed vir die ergste die spul is hopeloos te onbevoeg Hulle het hul doktersgrade mahala gekry

Phillip ·

Ek is jammer dr. Zweli Mkhize, ek is nie so optimisties soos jy oor ons land se gereedheid nie… ek het talle redes om dit te staaf, te danke aan die ANC se manier om te ‘regeer’

ogies1 ·

VRAAG. Hoelank kan die virus oorleef in water?? want met van hulle wat in die damme ens bad… gaan ons die virus so kan optel..

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.