Covid-19: Só lyk SA se reisbeperkings

(Argieffoto: pixabay)

Nadat pres. Cyril Ramaphosa Sondagaand ʼn ramptoestand in die lig van die verspreiding van Covid-19 afgekondig het, het ʼn rits bepalings Woensdag in werking getree. Dit sluit in beperkte reise uit en na die buiteland. SA Express het ook sy dienste tydelik opgeskort.

Suid-Afrikaanse burgers

Die departement van internasionale betrekkinge en samewerkende regering sê Suid-Afrikaners wat beoog om na sogenaamde hoërisikolande te reis, word afgeraai om dit te doen.

Hoërisikolande sluit in:
·         Italië·         Iran
·         Republiek van Korea·         Spanje
·         Duitsland·         VSA
·         Frankryk·         Switserland
·         China·         Europese Unie
·         Verenigde Koninkryk 

Die departement sê die beperking geld alle vorms van reis ná of selfs net deur dié lande.

“Suid-Afrikaners word ook afgeraai om vaarte op passasierskepe te onderneem. Onlangse ervaring het die inherente risiko’s verbonde aan sulke reise gewys.”

Die passasierskip Diamond Princess het ‘n ruk gelede opslae gemaak toe duisende mense dae lank aan boord van die skip in kwarantyn gehou is nadat verskeie passasiers positief vir die nuwe koronavirus getoets het. (Foto: Jun Hirata/Kyodo News via AP)

Maroela Media het Dinsdag berig oor ʼn groep Suid-Afrikaners wat dae lank al op see op ʼn toerskip is omdat die hawens waar hulle moet vasmeer, gesluit is.

Die bepalings tree onmiddellik in werking en sal tot verdere kennisgewing duur.

Alle nie-noodsaaklike reise na ander lande moet ook gekanselleer of uitgestel word.

Suid-Afrikaners wat uit hoërisikolande terugkeer, sal getoets word en moet hulself ná hul tuiskoms isoleer of in kwarantyn gehou word.

Die departement sê Suid-Afrikaners moet ook seker maak van die gesondheidsrisiko’s wanneer hulle beoog om wel te reis en moet die reis- en gesondheidskennisgewings oor Covid-19 by hulle eindbestemmings behoorlik nagaan.

Reisigers word ook gewaarsku dat hulle by internasionale bestemmings kan verwag om getoets te word vir die nuwe koronavirus. Grensposte kan moontlik gesluit word, vlugte kan opskort word en daar kan van hulle verwag word om in kwarantyn geplaas te word.

Die departement vra Suid-Afrikaners in die buiteland ook om die ambassade of konsulaat in die land wat hulle besoek te kontak en al hul kontakbesonderhede te verskaf.

(Argieffoto: Sure Travel)

Buitelanders

Alle toegang aan reisigers uit die geïdentifiseerde hoërisikolande word dadelik opgeskort – selfs al voldoen die besoekers aan normale visumvereistes.

Die departement sê hy gaan geen visumaansoeke aan burgers van dié lande toestaan nie. Visums wat aan buitelanders uitgereik is wat Suid-Afrika nog nie binnegekom het nie, word met onmiddellike inwerkingtreding opgeskort.

Die departement van gesondheid het sekere lande as hoë-medium-risiko geïdentifiseer en die visumvrystellingsooreenkomste wat Suid-Afrika met dié lande het, word ook voorlopig gestaak. Die datums vir die inwerkingstelling van dié bepalings moet nog bekend gemaak word.

Buitelanders wat enige van die hoërisikolande die afgelope 20 dae besoek het, se visumaansoeke word summier afgekeur.

“Enige buitelander wat deur dié beperkings geraak word, maar wat weens ʼn noodgeval of dwingende redes Suid-Afrika wel moet besoek, moet hul naaste missie of konsulaat kontak om vir ʼn visum aansoek te doen. Sulke aansoeke sal individueel en op meriete oorweeg word,” sê die departement.

Diplomate word vrygestel van die beperkings en so ook diegene wie se reisdokumente deur ʼn internasionale organisasie uitgereik is, of mense wat ʼn amptelike paspoort het.

Passasiers op die lughawe in Brussel wag om aan boord van ‘n vlug na die VSA te gaan. (Argieffoto: Virginia Mayo/AP)

Bemannings

Die beperkings geld ook nie vir bemanningslede van vliegtuie of vragskepe nie en ook nie vir spoor- of padvervoerwerkers wat grense moet oorsteek nie.

Dié reisigers sal wel mediese toetse moet ondergaan en, indien nodig, kan hulle vir ʼn tydperk van 14 dae in kwarantyn gehou word.

Alle internasionale reisigers

Die departement sê daar sal van alle internasionale reisigers – ook Suid-Afrikaners – verwag word om die voorgeskrewe gesondheidsvorm in te vul en by amptenare van die gesondheidsdepartement of doeanebeamptes in te gee.

Diegene wat na Suid-Afrika uit die buiteland terugkeer, sal vir koors of virussimptome nagegaan word en daar kan in sommige gevalle van reisigers verwag word om twee weke lank in afsondering te bly, of in kwarantyn gehou te word.

Die departement waarsku ook dat toegang tot Suid-Afrika onderworpe is aan ʼn passasier se samewerking met amptenare wat dié toetse doen.

Reisigers wat uit sogenaamde mediumrisikolande na Suid-Afrika reis, sal in die algemeen vir simptome getoets word, terwyl diegene wat uit hoërisikolande terugkeer ʼn behoorlike Covid-19-toets moet ondergaan.

Byeenkomste

Die regering het beperkings geplaas op die bywoon van internasionale byeenkomste hier. Die organiseerders van en besoekers aan sulke byeenkomste word ten sterkste aangeraai om seker te maak hulle sal in Suid-Afrika toegelaat word voordat hulle ʼn reis hierheen onderneem.

(Argieffoto: Facebook)

Vlugte opgeskort

SA Express het intussen aangekondig dat hy in die lig van die jongste verwikkelinge betreffende die Covid-19-pandemie vanaf Woensdag alle vlugte opskort. Dit geld tot verdere kennisgewing.

Mpho Majatladi, ʼn woordvoerder vir die redery, sê passasiers sal op alternatiewe vlugte geakkommodeer word.

Majatladi sê al SA Express se nie-noodsaaklike personeel word in dié tyd op verpligte verlof geplaas.

Die redery sê hy gaan dié tyd gebruik om sy huidige netwerk te hersien en planne vir verbeterde doeltreffendheid te beraam.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Frederik ·

Brawe optrede van SA express, moet ons land se lugrederye en personeel nie dieselfde stappe oorweeg nie? Geen geld wat dan vermors sal word nie.

Riekie ·

Wat van Emirates, Ethihad en Qatar vlugte? Al hierdie lande wat nou kamstig verbied word vlieg net via midde ooste na Suid-Afrika. Voor hulle nie AL die vlugte na SA opskort vir ‘n rukkie nie, sal hulle daai virus nie keer nie.

Mariette ·

Riekie ek weet vir ‘n feit dat Qatar nie na daai lande vlugte het nie. Kan jy net indink wat dit aan die ekonomie gaan doen as jy alles tot stilstand bring. Mense wat vir daai lugrederye werk het ook families en moet ook werk om vir hulle te sorg.

Riekie ·

Ek dink SA Express is maar te bly. Nou ‘ground’ hulle hulleself. Tyd om bietjie finansieel te herstel dalk?

Mariette ·

Riekie dit maak mos nou nie sin nie. As hulle nou “grounded” is hoe kan hulle finansieel herstel. Om geld te maak moet jy vlugte hê…

Vriendelike Frikkie ·

‘n Diensbare vliegtuig wat op die grond staan is duisende rande per dag wat verloor word. Baie brawe besluit, want hulle gaan waarskynlik dieper in die knyp wees na die kwarantyn

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.